Motorfietsryers gaan dalk vasgevat word
2013-02-17 23:58
KAAPSTAD. – Motorfietsryers in die Wes-Kaap kan moontlik gedwing word om hulle soos “motorbestuurders te gedra”.
Dít nadat Robin Carlisle, Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke, gister aangekondig het hy oorweeg regulasies om motorfietsryers vas te vat.
Motorfietsryers is die enigste kategorie padgebruikers waar die dodetal sedert 2008 toegeneem het – van 63 tot 84 in 2012.
Ook Kenny Africa, provinsiale verkeershoof, het gesê dit is ’n groot kommer wat aandag móét kry.
“Ons sal in gesprek tree met die verskillende motorfietsverenigings net soos ons die minibus-taxi’s aan boord gekry het. Ons sal ook skole, en spesifiek matrieks, teiken om hulle in te lig oor padveiligheid omdat hulle dikwels ook klein motorfietse gebruik.”
Volgens Carlisle het die aantal motorfietse op die paaie vermoedelik as gevolg van ekonomiese omstandighede toegeneem.
“Daar is drie sagte teikens op ons paaie – fietsryers, motorfietsryers en voetgangers. Dié sagte teikens moet dus meer versigtig wees.
“Ek oorweeg ’n regulasie waarvolgens motorfietsryers wat ander voertuie wil verbysteek dit nie tussen motors langs mekaar op paaie met veelvoudige bane mag doen nie. Daar sal egter eers behoorlike oorleg gepleeg word.”
Carlisle het gesê dié ryers moet hulle gedra asof hulle ’n motor bestuur en slegs aan die regterkant ’n ander voertuig verbysteek.
Minstens drie fietsryers is in Desember en twee in Januarie vanjaar in padongelukke dood.
Voetgangersterftes het afgeneem. – Alicestine October
- Die Burger
http://www.dieburger.com/Suid-Afrika/Nuus/Motorfietsryers-gaan-dalk-vasgevat-word-20130217