Hiervandaan ry ek die R407 grondpad, vir my, 'n bekende roete. Hy ry bitter lekker, ek geniet dié stuk altyd baie. Ook hier is daar tekens van kwaai stortbuie wat geval het. Op heelparty plekke is die padoppervlakte heel weggespoel en bly daar slegs die growwe padbed oor. Ek hoop ek kry nie ’n papwiel nie.
20190409_143136 by
Dors lander, on Flickr
2019-04-17_05-56-06 by
Dors lander, on Flickr
By die Wes-Kaap grens sien ek dinge werk anders hier. Die pad word oorgebou met padwerkspanne wat bedrywig is. Die pad is effe wyer as een baan so ek hou goed links. Die stof is erg as die tieptrokke verbyry.
Sowat 5km buite Klaarstroom is daar mos baie bulte so kort bo-op mekaar. Ek hou nogsteeds mooi heel links. Gelukkig.
’n Cruiser kom van voor, agter 'n bult weggesteek maar vol in die pad, hy is op spoed want dit raak al laat. Gelukkig het die padwerkmasjiene die veld aan weerskante redelik platgetrap en ek kies die hasepad veld in. Ek soek al die sagste klippe uit waar ek gaan val. Wonderbaarlik (en natuurlik as gevolg van my topklas ruitevaardighede

) ry ek deur, oor en langs als verby, weer oppie pad en daar gaaaaaaat ek. Ek sien in my truspieël die Cruiser het darem gestop maar ek waai maar net vir hom als is klopdisselboom.
Ek kon onwetend saam ETS en Cocky my poerdesmerdes geval het. Ons kon groepafslag by die hospitaal gekry het. Gelukkig is ek die beter ruiter en kom niks oor nie.
En toe ry ek die saligheid van Klaarstroom laatmiddag binne. Ek is die enigste gas. Ek pak af en uit. Ek gaan sit op die stoep en kyk uit op die Swartberge. Die outjie kom vra wil ek iets drink. Ja’k, tee samblief. Lekker. Dink ek moet aftree en dit rustig vat. Hieraan kan ek gewoond raak.
20190409_160902 by
Dors lander, on Flickr
20190410_070606 by
Dors lander, on Flickr
20190410_071900 by
Dors lander, on Flickr
Die volgende oggend, eers so 07h00, gaan eet ek ontbyt. Daar is twee oulike katjies wat rondhol soos net ’n jong nuuskierige dier kan. Hulle kom meeouw hier al om my. Een is slimmer as die ander een. Hy staan binne op die vensterbank, voorpote op my stoeptafel en bedel. Ek gee hom ’n stukkie wors en sit hom oppie vloer.
20190410_073626 by
Dors lander, on Flickr
20190410_074634 by
Dors lander, on Flickr
My eindpunt is Gamkaskloof vanaand, my roete via Prins Albert en die noordelike Swartbergpaspad reeds geplot en op my GPS. Met die uitryslag besluit ek sumier ek gaan vir die wis en die onwis sommer luilekker Meiringspoort deur, volgooi op De Rust, Oude Muragiepad, Kobus se Gat, Swartbergpas op en dan vlieg ek vandaar in my Hel in.
Meiringspoort is soos ek toeristeaantreklikhede in my ou Suid-Afrika onthou. Pragtig, skoon, aan die kant, netjies, als werk. Die werkers in hulle deftige oranje oorpakke waai in die verbygaan. Ek drentel sommer in 3de, 4de rat daardeur. Die koel oggendluggie van agter, amper geen verkeer op die pad, bo’jane uitgesluit natuurlik. Ek geniet dit nou waaragtig. Ek is amper lus en ry weer terug Klaarstroom toe en dan weer die pas deur. Maar dis mos simpel, ek is mos ’n verantwoordelike grootmens.
20190410_090101 by
Dors lander, on Flickr
Op die Oude Muragiepad verwonder ek my aan al die olyfboorde wat so uitgebrei word. Dis pragtig. Ek het nou onlangs ’n wilde dagga (leonotis leonurus) in my tuin geplant. Hulle is so mooi. Hier sien ek hordes van hulle, groei soos khakibos orals.
Wilde Dagga by
Dors lander, on Flickr
Ek ry en kyk en kyk en ry. Groet ’n jong boer wat sy JD trekker met Piket fynsaadplanter sommer so dwars oor die pad getrek het om die planter vol te laai. ’n Ent verder kom ek ’n groot trop skape in die pad tee. Met dié deurmekaarspulletjie ry ek verkeerd en beland op dié plaas se werf.
Hulle trek 80 klapspuite onder gravitasiebesproeiing op dié onderste lande!
20190410_095856 by
Dors lander, on Flickr
20190410_095904 by
Dors lander, on Flickr
Ek sien a nee a, nou’s ek verkeerd. Staan ’n oom langs sy trok. Sien sommer so met die aanry hy is effe omgekrap met dié “biker” wat ewe windgat sy werf inry. Ek stop, klim af, haal af my kletterpet en groet hom in mooi Afrikaans. Ek sien sy bemoerdgeit laat effe skiet. Ek vra hoe lyk die reën hier by hulle en daarmee vind ons mekaar. Ons gesels oor vleis- en wolpryse, bietjie politiek (maar dis so ’n mooi dag, nóg hy nóg ek wil dit bederf), sy trok, sy seun wat saamboer. Na so ’n halfuur sêg hy ons staan nou al so lank hier ons kon al koffie gedrink het. Nou ja toe, so gemaak, so gedaan. Ons val die kombuis in, maar eers nadat ek ’n hele trop honne getrotseer het. Swart Boerboel, bruin Pitboel, 2 skaaphonne en ’n paar sulke ander klein hakskeenbyters. Ek groet almal vriendelik en sonder banggeit. ’n Hond byt jou mos sommer vir die snaaksgeit as hy ruik jy’s vir hom bang.
Ons gesels ’n hond uit ’n bos uit (die oom, sy vrou en ek, nie die honne nie). Ons drink koffie en beskuit. Sy seun kom die kombuis in. Dis die outjie wat die planter volgemaak het. Naderhand moet hulle gaan werk, en ek moet ook my ry kry. Ons groet, my hart is vol want ek voel tuis, ek voel tussen vriende, tussen my mense, by mense wat ook stof op hulle hande en mis onder hul skoene het.
Ek hou van boeremense.
By Kobus se Gat groet ek eers weer my bejaarde skaaphondtjommie, dan die dame agter die toonbank. 'n Gesin ongewone Duitse toeriste kuier daar. Bewaar my siel dat ek tog nooit so ontaard nie soos dit blyk Europa doen. Helder oranje hare op die dogter, pers rastatooiingskardoes en volop tatoeermerke op die ma. Die pa lyk Oosters, praat Duits met ’n Amerikaanse aksent. Die skaaphond lyk vir my meer na my soort. Ek streel hom bietjie en deel van my droë wors met hom.
20190410_112948 by
Dors lander, on Flickr
Daar kom ’n ou en sy vrou met ’n nuwe 1250 Adventure daar aan. Terence van Hekpoort. Blaas eers sy bande met ’n kompressortjie op. Die fiets is gelaai. Panniers met sakke bo-op hulle, topbox met ’n rolsak bo-op dít. Tank bag, selfoon, GPS Navigator megêfter, Go-Pro, drade en koorde en tierlantyntjies net waar jy kyk. Ek haal my hoed vir hom af dat hy Swartbergpas oor is met daai gevaarte. Hulle is oppad Buff toe.