Van Bellville af het ons deur Durbanville op die Slent pad in Wellington se rigting gery.
Ek weet nie wie nog so is nie, maar na ‘n week van teerpad commute neem dit mens soms ‘n paar kilometer van grondpad om weer in jou stofsokkies te kom. Hierdie keer, het dit nogals ‘n bietjie vinniger geneem. Die lorries en bakkies was ook op hul pos om verby jou te ry en jou in ‘n stofwolk te los. ‘n Gedeelte van Slent pad het tans ‘n lekker dik laag sand langs die kant van die pad. Die een ding wat nie nie lekker sou wees nie, sou wees om in ‘n stofwolf te beland, meer na die kant van die pad toe te ry om uit die pad van ‘n trok of bakkie te bly en ‘n onverwagte sand wiggle- waggle te kry. Gelukkig het die oggend koffie gehelp en ek was wakker.
Dit was ‘n lekker stukkie grondpad!
Van daar af het ons ‘n baie mooi teerpad gery wat langs plase gekronkel het tot by Wellington. Het ook oor ‘n historiese nasionale monument brug, die Lady ……(ek kan ongelukkig nie die naam onthou nie) something brug gery. ‘n Mooi soliede staalbrug. Dit voel mos altyd lekker om oor ‘n mooi brug te ry.
Wellington, was self in rep en roer. Dit was duidelik “Sate’dag” en al wie leef en beef was daar van die plaas af om shopping te doen. Die atmosfeer kon mens maklik optel. Dit het gevoel soos ‘n kerkbasaar of skoolkonsert toe jy nog 6 was. Verder in die pad af het ons verby ‘n stokou roomkleurige plaasbakkie gery wat stadig deur die staat beweeg het met ‘n kinder orkes wat agter dit gemasjeer het. Ek onthou dat op een van die outjies se plakkate “blikskud vir bybles of blikkies vir bybels “ geskrywe was. Die een kind se gesig het my so opgeval. Dit was sy “moment”. En al was die mannetjie klein het hy blinkoog en breeborsie sy drom geslaan dat dit klap. Ek wens so ek kon ‘n foto neem van dit. So iets sien mens mos nie meer elke dag nie.
Na ‘n paar happies chillie bites het die bikes se neuse in die rigting van Bains Kloof pas gedraai. Dit bly maar ‘n bekoorlike pas, met een of twee bedrieglike draaie. Nadat ons oor die pas is, was ons oppad na Nismark se ouers in Ceres vir ‘n vinnige “hallo” en koffie”. Dis altyd lekker om daar te gaan inloer. Hulle is beslis my gunsteling oom en tannie!
Na die vinnige inloer was ons reg vir die pad Oasis toe. Man, maar die klein 125 ry lekker! Veral oor die Glydo pas.
Ons was al ‘n paar keer verby Boplaas oppad Oasis toe in die verlede. Die plek het nogals ‘n bietjie geskiedenis: die Afrikaanse digter, Boerneef is mos op daardie plaas gebore. In iets soos 1743 is dit aan die eerste Van Der Merwe toegeken. Dis nou al vir 12 generasie in besit van die familie!