Vandag stuk grondpad in die lekker vars lug gery

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Dorsland

Bachelor Dog
Joined
Apr 15, 2012
Messages
11,191
Reaction score
1,677
Location
Van Daar
Bike
Honda CRF-1000L Africa Twin
Na laasnag se lekker reën (so 12mm hier oppie plaas) het die rygogga my weer vanoggend gebyt en moes en noodgedwonge 'n paar kilometer gaan aflê.  Die wind het nogal kwaai gewaai - seker so 25 - 30km/u - en elke nou en dan was daar nog so paar druppels reën wat geval het maar ry moes ek maar.

Elk geval, ek vat toe die (grond)pad hier vannie plaas af en ry toe daar verby 4 Artillerie Regiment naby Potchefstroom oppad Eleaser toe.  Die stuk teerpad nadat jy afgedraai het van die R53 ry al langs die sogenaamde Hoëveld Nasionale Park aan die suide.  Dis maar net ‘n grap omdat daar ooral plakkers in die “park” is wat met beeste, bokke, skape en watnog ‘n bestaan probeer skrop. Die hele plek is afgebrand, die grensheining is gesteel en dit lyk maar benard.

Ek ry maar vinnig om op die grond te kom en daar verby te kom na waar die Wes Transvaal se vlaktes mens weer kan laat asemhaal.  Die pad is nou lekker, niks stof nie maar paar lekker moddergate wat keer laat ek slaplê.

dscn1837tx.jpg

By dorsland at 2012-06-23

So 5km na die foto was daar ‘n lang stuk goeie snotmodder waar ‘n jong lat sy Isuzu bakkie die veld in gerol het.  Gelukkig is hy OK en sy meisie was al daar (in ‘n Polo wat nie vir daai stuk pad gemaak is nie) om te troos en trane af te vee.  Ek het gestop om hulp aan te bied maar die man se pa was al oppad om te kom help (of om bestuursadvies uit te deel).  Ek het nie langer gebly nie want die pad het my geroep.

So ‘n winter rit kan mens na padkos laat verlang.  Gelukkig het ek my ratpack goed beplan en kry ek toe iets wat die ergste hongerpyne kon stil. Ek dink ek gaan vir my een van daai klein gasstofies wat die staproete manne gebruik, aanskaf.  Dan kan mens die ratpack bietjie meer interessant maak met ‘n koffietjie en dalk sommer beskuit ook.  Nie dogbiscuits nie verstaan, ouma se beskuit.

dscn1839p.jpg

By dorsland at 2012-06-23

Nadat die droë vleisies bietjie minder gemaak is, ry ek verder, lekker rooisand wat goed vasgepak is na die reën.  Lyk my die kant toe het dit meer gereën want die pad is plekplek lekker nat.  Maar die beste is die vars lug.  Ai man, kan die winterveld daarem lekker ruik na so ‘n reënbui.  Dis sommer lekker om in die veld te wees, natuurlik op die motorfiets né.

Net na ek op die spoorlyn se dienspad kom sien ek die natneuse wat uit 'n waterplas suip.  Loop sommer so los rond.  Nou nou is hulle deel van die ratpack se biltong.  Ek hou maar verby.  Tien jaar hardepad vir veediefstal is nie vir my te aanloklik nie.  Maar wag, veediewe kry maar so R300 boete dan is hulle weer los op straat.  Ag wat, ek is al verby en ek ry in elk geval nou te lekker; draaie, los gruis, waterpoele, oorrie spoorlyn, annerkant af, daar gat ek al weer. Anderdag dan vul ek die biltong weer aan.

dscn1840zp.jpg

By dorsland at 2012-06-23

Dis so 'n kort stuk teerpad dan ry ek vir die eerste keer oor die Vaalrivier die Vrystaat in. Die rivier loop mooi, daar is 'n ou met so 'n geel "oilskin" wat lyk asof hy op 'n kaai in die Kaap hoort, wat visvang.  Hy groet ewe vriendelik toe ek verbyry.  Die bruggies oor die Vaal het maar seergekry met die vloede die afgelope paar jaar maar vir nou staan dié een nog en dan is dit VRYSTAAT!

dscn1843d.jpg

By dorsland at 2012-06-23

Hoe lyk daai XR vir julle?  Ag OK daar is nou paar manne hier wat my sal koggel maar hy ry vir my lekker op die grondpad.  Pasop net vir langpad teer ry.  Veral soos vandag as die wind so waai.  Hy moes eintlik 'n sitplekgordel gehad het sodat die wind mens nie afwaai nie  ;D  Ek het laasweek vir hom IMS voetstutte opgesit en nou is dit baie meer gemaklik om windgat te wees en te staan en ry.  

Dis ook nie lank nie en daar is 'n paar koppies (ja julle Kaapenaars het julle berge, maar ons is baie trots op ons koppies, hulle roep ons so oor ons vlaktes nader).  Dis die buitewyke van die Vredefort Koepel, baie mooi.  OK OK hulle kry nie so miskleed oor hulle soos DIE BERG daar naby Kaapstad nie, maar dan is hulle koppe ook nie so plat soos julle berg s'n nie  ;)

dscn1844h.jpg

By dorsland at 2012-06-23

Hei, kyk, daar is ek ook (koppies in die agtergrond)

dscn1849n.jpg

By dorsland at 2012-06-23

Nie te lank na die laaste foto toe reën dit weer so klomp druppels en fotoneem moet maar wag.  Dis bitter mooi hierlangs en daar is baie plekke om fotos te neem.  Sal moet terugkom.  Vir nou sak die son al , die wind waai 'n barshou en dit beginne nou koeler raak.  Ek dink weer daai klein stofie gaan 'n wenner wees.  Hier is baie oorstaanplekke waar 'n beker koffie lekker sal kan stoom.

Ek gaan weer oor die Vaalrivier, Noordwes in.  Nog 'n lae bruggie wat skade gekry het.  Daar is groot boomstompe wat nog teen die brugpilare vasklou en orals bo-op die brug kan mens sien dat hier baie water oor hom geloop het.  Sommer sulke stukke van die ryvlak weggebreek en groot stukke beton uit sy kante afgebreek. Binnekort hoef mens nie Third Bridge naby Moremi toe te ry vir 'n brugavontuur nie, jy kry dit sommer hier in jou eie land.

dscn1851dk.jpg

By dorsland at 2012-06-23


Nie te ver hiervandaan, is dit teerpad terug plaas toe en ek kappit flou.  Ja, 'n XR kan dit flou kap as dit moet.  Jy moet net vashou as die wind so waai.  Maar dis 'n storie vir 'n ander dag.  Vandag het ek lekker gery, nie afgewaai nie en weer mooi plekke sommer hier amper op my voorstoep gesien.


 
Top