Daarem nie kaalvoet oor die Drakensberge nie. Deel 1

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Dorsland

Bachelor Dog
Joined
Apr 15, 2012
Messages
11,191
Reaction score
1,677
Location
Van Daar
Bike
Honda CRF-1000L Africa Twin
Die winter is nie eintlik ‘n tyd wanneer ‘n veeboer sy plaas graag alleen los nie, die brandgevaar is net te groot.  Maar ek het nou grotkoors vir ‘n ruk lank en maak vir my 2IB mal (party dae vir myself ook). Ek gryp toe ‘n padkaart en bekyk hom van die kant en dan van daai kant af en besluit toe dat ‘n paar Drakensbergpasse vir so 4 dae kan werk. Ek moet net my dinge so reël en die weervoorspelling dophou dan maak ek ‘n kraak.

Ek het baie handige inligting van die WDs gekry toe ek my Planning a Ride daar pos:  roetes, blyplek, temperatuur voorspellings en watnog.  Dankie manne, waardeer dit. Ek sou toe Maandag 13 Augustus vertrek maar die wind waai so van die Saterdag af, g’n mens kan dit waag om die plaas te los nie.  Ons slaan vure Saterdag en Sondag en Maandagoggend toe besluit ek om my rit bietjie uit te stel.  En toe vat die grotkoors my eers vas.  Die fiets is gewas, my sakke is gepak, die padkos ingepak.  Ek moet net klim en ry.  Maar die weer lol.  Woensdag toe waai die wind 37km/u met rukwinde tot 70km/u.  Maar YR en die SA Weerdiens voorspel van Donderdag af net ligte wind hier by my, Vrede, Memel en daai wêreld waar ek beplan om te ry.  

Donderdagoggend is ek vroeg uit die vere.  Heelnag niks wind gehoor nie en die oggendson skyn op ‘n heerlike dag, bietjie koel maar niks te kwaai nie.  Ek pak die laaste dinge in, gooi gou ‘n draai by die vee en bring die motorfiets nader dat ek kan pak.  

dscn2105n.jpg

By dorsland at 2012-08-19

dscn2106l.jpg

By dorsland at 2012-08-19

Ek het so ‘n paar nuwe dinge vir die GS gekry wat ek uitsien om vir die eerste keer te gebruik en te sien hoe werk hulle.  Die Wolfman Peak Tailbag wat Isabeau van Wild@Heart aanbeveel het het ek al voorheen gebruik en is altyd verbaas hoe baie goed mens in hom kan pak en hoe stewig die 4 rekke hom aan die rak vashou.  Chris van Dustriders het ook goeie raad met sy Enduristan Tornado sak gegee,  ek moes dalk die groter een gekry het maar die medium een moet nou maar werk.  Ek glo mos hoe meer spasie mens het hoe meer onnodige fieterjasies vat mens saam.  Amper soos rakspasie in die motorhuis.  Ek tree toe sommer die Wolfman Enduro Toolbag van die XR650 aan om my stofie en koffiegoed in te pak en strep hom sommer bo op die ander 2 sakke met die Rokstraps vas.  

dscn2111t.jpg

By dorsland at 2012-08-19

dscn2110lf.jpg

By dorsland at 2012-08-19

09h00 val ek toe in die pad en met die aanskakel van die GPS kry ek die boodskap “Maximum 50 points for onroad navigation”.  Nou kyk, ek kan my pad vind met ‘n GPS maar ek is nog nie so gekonfeit met die ding dat ek sommer so langs die pad die regte verstellings kan maak nie.  Gelukkig het ek ‘n goeie AA padkaart van OVS en omgewings saamgebring (dis ‘n ou een van 1986 en dui baie van die klein agterpaaie en grondpaaie aan).  Ek stop om so paar keer met die GPS te sukkel maar sien my moermeter is besig om stoom op te bou en los dit maar liewers.  Ek kan hom nogsteeds gebruik, net nie soos ek beplan het nie.

Van Parys af neem ek ‘n grondpad verby die lokasie, dis lekker sinkplaat en hier en daar nogal stukke sand wat keer dat ek slaplê.  Ek vat dit rustig want ek wil my paar dae so lank uitrek as wat ek kan.  Dis ook nie lank nie en daar is ‘n padblokkade.  Gelukkig bestaan dit net uit ‘n trop pas geskeerde skape wat besluit hulle gaan die langplaas wei en hulle lê toe te lekker in die pad en bak in die son toe ek daar aankom.  Ek stop toe om ‘n foto te neem maar net as ek aanlê dan draf hulle padlangs.  Dis toe nie so ‘n kwaai padblokkade nie en ek is vinnig weer op pad.

dscn2114m.jpg

By dorsland at 2012-08-19

Hier waar ek die N1 naby Koppies oorsteek is daar ‘n windpomp wat effe sleg lyk.  Lyk my sy dae van water pomp is vir eers verby.



Uploaded with ImageShack.us

In Heilbron aangekom wil ek kontant trek.  Stop by die Standard Bank kitsbank, trek al die ATGATT uit en druk die kaart die masjien in.  Net R10 note!  Ek wil ook ryk wees maar ek gaan waaragtig nie R1000 in R10 note in my beursie ronddra nie. Trek weer al die ATGATT aan en ry Absa toe.  Daar is ‘n ellelange ry wat stadig vorder. Ek trek weer al die ATGATT uit. Lyk my daar is nie baie wat in Heilbron aangaan nie en vanoggend gaan al dié niks in dié ATM ry aan.  Ek staan.  Toe staan ek nog bietjie.  Toe staan ek nog steeds.  Later toe dink ek ek sal maar op ‘n ander plek kontant trek en trek toe al die ATGATT weer aan en ry maar.  So in die middel van die dorp is daar ‘n imposante kerkgebou wat ‘n streng oog oor die verval van Heilbron hou.  

Die hoofpad word (soort van) oorgebou en ek ry maar versigtig om al die slaggate en los gruis te mis.  Die Heilbron/Frankfort teerpad het ek so 2 jaar terug gery en toe was hy al vrot van die stop-en-ry stukke.  Dié keer is hy nog steeds so maar lyk my die stop-en-ry gedeeltes is nou meer permanent nadat al die kontrakteurs die werk gelos het omrede hulle kontrak geld deur die tenderpreneurs en politici gesteel is.  WTF!?   Die pad is in ‘n haaglike toestand en ek is so besig om die teer stukkies te probeer raakry, ek mis toe skoon my afdraai vir die grondpad Vrede toe.  Ek kom dit eers ‘n hele ent daarna agter en besluit toe om maar aan te stoot Frankfort toe waar ek wil brandstof ingooi.  Die “teerpad” is in elk geval amper so lekker soos grondpad ry.  Net meer uitdagend.  Ek ry maar deur die stop-en-ry se valhekke en klim op die verlegging as daar verkeer van voor af aankom.  Anders sou ek nog steeds erens in die Vrystaat agter ‘n valhek by ‘n stop-en-ry gesit het.  

Van Frankfort af begin die windspoed bietjie optel en daar waar ek vir my koffiebreek stop bel ek die plaas maar die wind is rustig daar.  My gebede is beantwoord en ek raak ook weer rustiger.

dscn2120u.jpg

By dorsland at 2012-08-19

dscn2119e.jpg

By dorsland at 2012-08-19

Dis te lekker hier langs ‘n klein tweespoor, met my stofie wat sis en die wind wat oor die vaal wintervlaktes druis.  Ek begin nou eers te ontspan en die rit te geniet.  Daar is niks wat my jaag nie en ek lê sommer daar in die gras en dink aan niks.  Luister bietjie hoe rustig is die wind deur die gras.  Ek kyk doer ver hoe ‘n bakkie of ‘n lorrie elke nou en dan verbyry, amper spookagtig want die wind is agter my en mens hoor glad geen voertuig geraas nie.  Ek dink dalk moet ek sommer so op die pad “aftree” en van een uitspan na die ander my tyd deurbring.  Kan nogal verslawend raak as mens jouself net kan losmaak.  Toe onthou ek ‘n diens kos ‘n paar Rand en nuwe bande ‘n paar meer Rande.  Ek ruk myself reg en raak weer verantwoordelik.  Ek bestudeer weer die padkaart en sien daar is net so ‘n ent hiervaandaan ‘n grondpad wat regs uitdraai wat my agterlangs na Vrede toe sal neem.

Hy ry lekker en is nogal goed onderhou.  Nou raak die Vrystaat vlaktes net nog mooier.  Hulle is so wyd en oop en skoon soos die wind hulle waai.  En hier en daar so ‘n los koppie wat ‘n oog oor alles hou.  Dis vir my rerig mooi.

dscn2125r.jpg

By dorsland at 2012-08-19

Ek sien die jakkalsjagters was weer doenig gewees en die knaap se draadjie is al ‘n tyd terug geknip, hy is uitgedroog en die hare lê om hom. Skaap se kind slaap vanaand veilig. As daar iemand is wat in jakkalsbiltong belangstel, PM my, ek gee die ko-ordinate.  En dis gratis.

dscn2127t.jpg

By dorsland at 2012-08-19


Kliek hier vir Deel 2:  https://wilddog.net.za/forum/index.php?topic=105160.0

 
Top