Daarem nie kaalvoet oor die Drakensberge nie. Deel 2

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Dorsland

Bachelor Dog
Joined
Apr 15, 2012
Messages
11,191
Reaction score
1,677
Location
Van Daar
Bike
Honda CRF-1000L Africa Twin
Lees Deel 1 hier:  https://wilddog.net.za/forum/index.php?topic=105159.msg2052593#msg2052593

Ek weet die manne spot altyd die BMW ruiters wat so meerkat maar ek wil net my 2 sent ook lewer.  Die 800 is vir my die gemaklikste motorfiets om te staan en ry.  Dis seker omdat hy my net reg pas as ek staan.  Ek het vir hom breë “footpegs” op gesit en ek kan letterlik vir kilometers aaneen staan sonder dat ek moeg word.  Ek ry teen so 90km/u op die grondpad en dan is die wind nie te kwaai teen mens nie.

Ek kom weer op die teer daar naby Roadside en: verassing!! nog padwerke.  Of liewers, kamstige padwerke, want almal staan.  Die een toegangsroete na Vrede is toe en mens moet ompad ry.  Maar die ompad het sommer so klomp hope grond wat lukraak in die kruising gestort is en dan is daar so ‘n labarint om daardeur te kan ry.  Verder aan, amper in die hoofstraat, nog klomp grondhope.  Snaaks, ek kan nie uitwerk warvoor dit bedoel is nie.  Lyk amper soos stakers wat sommer die hope daar gestort het om toegang tot die dorp te belemmer.  Later op pad uit die dorp uit, sal ek dit weer sien.  Ek trek op Vrede uiteindelik kontant.  Geen tou en R100 note.  Ah die stelsel werk weer.  Maar die slaghuis het geen droë wors nie.  Dis ‘n krisis.  Van grote omvang.  Ek het geld maar niks droë wors om dit op uit te gee nie.  

Ek vat die pad Memel toe.  En mense, hier het dit gebrand.  Die berge is swart vir lang ente.  Sommer so agter die boere se voorbrande ingebrand.  Lyk my die brand het oor die berge gekom waar daar nie voorbrande was nie.  Dit gaan voorentoe lol as die reen laat kom en die weiding kom laat aan die gang.  

Oor ‘n bult gekom, kry ek twee manne langs die pad wat ‘n GPS ernstig betraag.  Ek gooi die ankers uit en groet hulle.  Die een op ‘n VeeStrom en die ander op ‘n Harley.  Met ‘n oopface kletterpet (dankie Cheetah vir dié term).  Hulle GPS beduie hulle bergoor maar die Harley man willie stof op sy donkie kry nie en die son trek al water.  Hulle groet vinnig, klim op die fietse en laat waai teerpad langs.  Baai julle, veilig ry.

Oor die Rooinek pas (ja dit is sy naam, gaan kyk) en die brande het hier nog verder verwoesting gesaai. Maar dit bly nog mooi op die oog.  Dalk nie as jy nou hier boer nie maar die natuurskoon met sy vergesigte bly vir my mooi.  Ek ken mos nie rerig berge nie.

By die buitewyke van Memel aangekom SURPRISE! nog padwerke, versperrings en verleggings.  Ek moet in elk geval hier in want ek bly vanaand by die Memel Hotel (dankie Dries Adventure).  Dis nou waaragtig ‘n lekker plattelandse hotel wat mooi reggemaak is en met egte plattelandse atmosfeer en gasvryheid.  Chris en Audrey is weg Namibië toe maar hulle mense is daar om gaste te ontvang.  Ek trek sommer die motorfiets agter in die binnehof in tot vlak voor my kamer waar ek ‘n oog kan hou en pak af. Dan ‘n bier.  Dan verder af- en uitpak.  Die son trek nou vinnig water en ek trek my rondflenter klere aan wat lekker warm is.  

dscn2131bf.jpg

By dorsland at 2012-08-19

dscn2142v.jpg

By dorsland at 2012-08-19

dscn2128i.jpg

By dorsland at 2012-08-19

Ek sien in die kroeg is daar baie foto's van bekende akteurs en aktrises met sulke mooi notas aan Chris. Onder meer is daar een van Brooke Shields wie ek nog altyd dink baie mooi is.  Ek vra toe bietjie uit en skynbaar was hy ‘n klankingenieur in die rolprentbedryf in die Kaap gewees voordat hy na rustige Memel toe uitgewyk het om die lewe meer te kan geniet.  Ek dink die Kaap se verlies is Memel se aanwins, die WDs kan hom gerus ondersteun.  Dis skoon, veilig, met redelik tariewe en lekker gasvryheid.  

Daar is drie Harleys in die binnehof en ek gaan kyk hoe lyk hulle.  Ek moes my sonbril saam gebring het want dis net chroom waar jy kyk.  Hulle is mooi versorg en dra almal die riempies aan die handvatsels.  Dié riempies behoort die vlieë wat jou op die ooppad dalk sou verbygaan, weg te hou.  :pot:

dscn2132j.jpg

By dorsland at 2012-08-19


Na so ‘n lekker kuier die aand, gaan probeer ek om my roete verder op die GPS te plot.  Chris het moeite gedoen om die passe se ko-ordinate en die roetes op ‘n vel papier beskikbaar te stel en ek gebruik dit om die roete te verfyn.  Die Garmin GPSmap 62s kan mens nogal besig hou en as jy kort van draad gebore is, moet jy soms net diep asem intrek en tot 10 tel.  Uiteindelik het ek daarem ‘n roete wat ek kan ry sonder om die padkaart hier op die motorfiets oopgevou te hou soos wat ek ry.

Ek wil vroeg die volgende oggend in die pad val en is lank voor sonop al uit die vere.  Ek pak maar in en gaan loop ‘n draai buite om die weer te bekyk.  Dis koud en die wind waai en daar is digte wolke wat oor die bergtoppe lê.  Lekker weer vir grondpad ry.  Ek drink koffie, sommer daai pakkies koffie/sjokolade/melk/suiker mengsel wat my 2IB vir my ingepak het.  Lekker skuimerig, mens kan jou sommer verbeel jy’s in ‘n regte egte koffiewinkel.  

Ek stap om ontbyt te gaan eet maar die eetkamer/kroeg se deure is nog gesluit. Ook die binnehof se straathek, so mens kan nie eens van die hoofstraat se kant inkom nie.  Toemaar, ek beloer maar weer die Harleys.  Voor die son te kwaai op al daai chroom beginne skyn.  Ek stap die binnehof weer deur, pak nog ‘n paar dinge in, beloer weer die roete. Probeer weer die eetkamer deur.  Dis nou al 07h30 en geen teken van lewe in die kombuis of eetkamer nie.  Praat bietjie met manne wat kom skietwerk vir die dorp se nuwe waterpyplyn kom doen en nie deur die munisipaliteit betaal word nie. Hulle het hulle toerusting kom laai en die konstruksieperseel ontruim.  Hier skuins voor 08h30 sluit die deure oop en word die kookpotte nader gesleep.  Nou ja,  daar is my vroegoggend daarmee heen maar die ontbyt is lekker.

Nadat ek brandstof ingegooi het (gemiddelde verbruik gister was 4.3l/100km), is ek weg op pad Mullers pas toe.  Dis baie mooi hier tussen die berge en ek stop sommer so in die middel van die verlate pad om gou die foto te neem.  Waaragtig hier kom ‘n Cruiser oor die bult en trap my amper fyn.  Dis my eie skuld maar ek het die laaste 10km geen mens of dier gesien nie.  

dscn2146t.jpg

By dorsland at 2012-08-19

Die wêreld het erg onder die brande deurgeloop en dis net swart gebrand sover mens kan sien.  Hier en daar laai boere daarem bale weg vir die vee maar ek sien baie balekampies waar al die groot ronde bale totaal uitgebrand het.  Dit gaan voorentoe die winter ‘n geneuk wees vir die arme boere.  Dis koud in die distrikte en suurveld en vee gaan nou swaartrek, veral dié wat die lente lam of kalf.  Ek probeer die boer in my effe onderdruk want ek is mos op vakansie en wil dit geniet maar ‘n stuk van my hart bly agter by elke verwoeste plaas want ek weet hoe voel die manne.

dscn2147q.jpg

By dorsland at 2012-08-19



Ek moet mooi ry want die pad is lang ente net sulke plate los gruis en ek mik mooi om in die skoon tweespoor te bly.  As jy hier te vinnig om ‘n draai kom en jy ry daai gruis in, gaan jy party plekke hard neer wetter.  Maar dis bitter mooi en ek kyk rond en stop en neem foto's en ry verder.  Julle weet mos as mens so lekker ry dat jy sommer lus is en draai om en begin weer van vooraf.  Nouja, vandag se pad is so ‘n rit.  

Ek kry die veewagter op sy perd en met en sy hond op ‘n laaaaaaang opdrande.  Bloots oppie perd, en boetse ook bloots op die voete.  Maar hy het darem ‘n parabat bosbaadjie aan en ek wonder vir ‘n oomblik watse stories daai baadjie kon vertel en hoe het hy hier beland.  Ek neem ‘n paar foto's en vra uit oor die brande. Ja, al die pad van Normandien af het dit alles, alles afgebrand vertel hy. Daar is hier en daar ‘n gedeelte wat nie gebrand het nie - ‘n kranskamp of spruitstuk of ‘n kamp wat al reeds bewei is en wat buitendien nie meer baie weiding oor het nie maar daarem iets vir die vee. Die poon staan heel rustig, gelapte toom en baaltou halter ten spyte.  Ek sien sommer die poon het al baie grondpad gery. Die Kelpie is skaam en staan veilig agter die poon.  Ek sien dié drie ken mekaar al baie dae.  Ek wys vir die man ‘n foto op my foon van my eie skaaphond, ou Boesman.  Hy lyk nie baie beindruk nie.

dscn2150uo.jpg

By dorsland at 2012-08-19

Ek kom uiteindelik op ‘n plek waar die veld weer mooi geel wintergras is en dit lyk soos die winterlandskappe soos ek die Drakensberge ken.  By ‘n ou bruggie oor ‘n spruit stop ek eers om fotos te neem voor ek die tweespoor oor die berg ry.  Bitter mooi.  

dscn2152v.jpg

By dorsland at 2012-08-19

My gemoed styg sommer saam met ‘n roofvoël wat ek doer ver oor die vallei sien, die lug in.  Hy’s te ver om te identifiseer maar dis ‘n groot voël.  Dis hartseer om al die onbewoonde plase hierlangs te sien.  Die bouvallige opstalle en groot boomlanings wat so oor die jare deur die weer uitgedun word.  Ek dink aan die harde werk en deursettingsvermoë van die boere wat in die afgesonderde valeie sulke mooi plase kom ontwikkel het.  Al die windskerm boomlanings wat geplant is, landerye wat gekontoer is, afloopwater wat gelei is.  En alles is ‘n gejaag na wind.  

Kyk bietjie die hoofhek van hierdie plaas.  Daar is baie werk en vakmanskap en trots wat hier ingegaan het.  My pa het altyd vir my gesê dat jy sommer ‘n boer aan sy heinings, sy naambord en sy plaashek kon ken.  Daarvolgens was dié boer van hierdie plaas knap gewees. Ek wonder hoeveel keer hy hier in en uit gery het.  Hoeveel vreugde en hartseer het oor die jare oor daai veehek gery.  Wat het die boer gedink toe hy die laaste keer daaroor gery het, om nooit ooit weer terug te kom nie.  Watter stuk van hom en sy gesin het hier agter gebly.

dscn2159g.jpg

By dorsland at 2012-08-19

Bo-op die berge waai die wind weer kwaai.  Ek kom by ‘n vierrigting kruising wat nie so op my kaart lyk nie: Mont Pelaan 6km,  Memel 25km, die ander plekke se name onthou ek nie mooi nie.  Dit lyk vir my na ‘n gawe plek vir water afslaan en van Memel se droëwors en ‘n lemoen te eet.  Kêrels, maar die wind waai.  Ek stel die kamera op ‘n ou trekpaal op om my lelike gevreet saam die 800 af te neem maar helaas, die wind waai hom elke keer om.  Ek stut hom bietjie met my handskoene om uiteindelik ‘n foto of twee geneem te kry.

Die gedagte van ‘n glansboek oor windpompe kom weer by my op.  So ‘n ou yster is darem menige boer se redding of wat praat ek nou.

dscn2163f.jpg

By dorsland at 2012-08-19

Die pad raak beter en ek draai die 800 se oor bietjie, sommer maar net vir die lekker.  Maar eintlik wil ek nie dat die pad te vinnig opraak nie.  Ek stop weer, sommer net om my aan die vergesigte te verkyk.  Die op en af, die rante en duinserige bergtoppe doer ver, die opstalle so in die voue van ‘n spruitloop beskerm.  Ons land is te mooi om sommer so op papier en met fotos vasgelê te word.  Dis ‘n ding wat in jou siel is, iets wat jy met jou hart en nie jou oë sien nie.

Kliek hier vir Deel 3:  https://wilddog.net.za/forum/index.php?topic=105161.0

 
Top