Daarem nie kaalvoet oor die Drakensberge nie. Deel 3

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Dorsland

Bachelor Dog
Joined
Apr 15, 2012
Messages
11,191
Reaction score
1,680
Location
Van Daar
Bike
Honda CRF-1000L Africa Twin
Lees Deel 2 hier: https://wilddog.net.za/forum/index.php?topic=105160.msg2052595#msg2052595

O, straf!  Ek moet so 3 of wat kilometer op die N3 ry om in Harrismith uit te kom.  Dis Vrydag en almal wat ‘n kar het en dit nie kan bestuur nie, is op die pad.  Ek ry om deur die dorp te kom en weer op die oop pad.  In daai stuk van die Verkykerskop/N3 aansluiting tot die Harrismith/Puthuditjaba aansluiting (so 5km in totaal) het een donner in ‘n Nissan Crosstrail oor ‘n stopstraat gery en my amper poerdes gemaak en twee donker groenes in ‘n militere polisie Astra so naby aan my agterlig gery dat ek kon sien daar sit nog KFC tussen hul tande.  Ek tel tot by 10 en ry daai motorfiets dat ek onder die klomp mal hase se voete kan uitkom.  Ek is nog te jonk om te dood.

Lyk my Vrydag ry almal óf uit Puthuditjaba uit óf na Puthuditjaba toe.  En óf hulle ry asof die Satan self op hulle sterte is, óf hulle ry asof hulle aan die Total Economy Run deelneem.  Maar dis nie lank nie en ek ry die betreklike stille waters van Golden Gate Nasionale Park binne.  Die “Checkpoint” is ‘n grap omdat, die bordjie wat geen deurgang vir trokke aandui, bloot geignoreer word, as jy van Puthuditjaba is dan hoef jy nie te stop nie en die regulasies word lukraak toegepas.  Ek ry maar deur.  Die sandsteenkranse is mooi verby.  Die Here se skepping orals te sien, ‘n gratis vertoning wat nie woorde het om te beskryf nie.

Ek verkyk my so aan die natuurskoon dat ek op een skerp draai nie my draai kry nie en noodgedwonge oor die regterbaan moet ry.  Gelukkig het ek stadig gery en my beskermengele kon bybly want daar kom ‘n SAPS bakkie van vooraf en hy briek en ek ry oor op die ander skouer van die pad.  Dis amper, eintlik té amper na my sin.  As die bestuurder geslaap het was ek bokveld toe gewees.  Nouja, ek bring die harttempo weer onder beheer en ry maar verder, die slag hou ek my oë maar op die pad.  Net voor Glen Reenen se kampterrein sien ek ‘n GS1200 langs die pad staan en ‘n ou wat sommer so sit en die verte in staar.  Ek stop en groet.  Nee hy is nie ‘n WD nie maar het sommer bietjie kom ry waar hy hom kry.  Ons gesels bietjie en ek laat weet dis nou koffietyd volgens my horlosie.  Ons trek toe daar op ‘n plek in, die stofie kom uit en gou drink ons ‘n vinnige boeretroos.  Hy is Fanie van Fannerbyl wie se maters hom gedrop het en toe ry hy maar sonder hulle.  Met so ‘n gees kan mens mos werk of wat praat ek.

dscn2174a.jpg

By dorsland at 2012-08-19

Hy is effe besluitloos oor waar hy wil ry en waar hy vanaand wil slaap en ek ry toe maar daar die Sodom en Gomorra van die hedendaagse Clarens in.  Ek word amper deur ‘n X5 BMW, M Klas Benz en die Ferrariklub se uitstappie getrap.  Johannesburg kan dalk oor ‘n naweek lekker wees want ek sien al die yuppies kom hang hier uit.  Dis golfsakke, R80000 se bergfietse, Botox, perdesleepwaens en iPads net waar mens kyk.  Ek wonder vlugtig of hulle bikers toesluit vir los op straat wees.  Dalk maak ons die plek bietjie morsig lyk, ek weet nie.  Maar dis vreemd, Nasa kon maar hulle Marskarretjie hiernatoe gestuur het om vreemde lewenswese te kom bestudeer.  Dis dalk net so duur op Clarens soos die Marsuitstappie maar die resultate sou dalk meer interessant gewees het.  Ek vergaap my aan die gebrek aan enige argitektuur wat die Hillbrow-in-Clarens huisies teen die oorkantste berghange toon.  Sekerlik moes daar geld onder die tafel gewees het om daai bouplanne en erwe opgemeet te kry.  Een van die WDs het al op die forum genoem dat die yuppies van Johannesburg Clarens erg opgefoeter het en nou sien ek dat die man die waarheid praat.  Ek onthou die oulike dorpie (genoem na Clarens in Switserland waar President Paul Kruger ver van sy geliefde volk en land gesterf het) as vol karakter en rustig, mooi, soos uit ‘n prentjieboek.  Maar nou...

Ek kry vir my slaapplek vir die aand, ry so ‘n draai deur die dorpie en vergaap my aan die winkels en kunsgallerye en restaurante en die Protea Hotel en die pryse. Hel!  Ek grawe my toe by so ‘n eetplekkie in en bekyk die wêreld om my.  Menskyk is mos lekker.  Dis ook nie lank nie en ek hoor hier kom die Ferrari manne.  Hulle trek hom so eerste rat daar van die hoofpad af tot hier vlak verby die Protea Hotel.  Kan ‘n Ferrari nou sing!  Ek ken nie die modelle so mooi nie maar sien daarem wat ek dink is ‘n 308 GTS, ‘n 208 GTB en ‘n paar nuwere duurder modelle.  Almal behalwe een is rooi, dié ‘n gele.  Dit pas mooi by die bestuurder se helder geel renskoene wat hy dra.  Dis ‘n mooi (en duur) vertoning.  

Terwyl ek daar sit kom ou Fanie van Fannerbyl - staande - die hoofstraat af tot by die brouwery vlak anderkant my.  Lyk my hy het besluit daar word vanaand gekuier.  Ek eet maar klaar en gaan na die gastehuis toe waar ek vanaand slaap.

Hier is daar drie sulke vriendelike Great Danes, een is nog ‘n jong hondjie en baie spelerig.  Ek speel hom bietjie pê maar hy soek nog. Naderhand is ek op.

dscn2181l.jpg

By dorsland at 2012-08-19

Volgende oggend is ek darem vroeg innie pad na ‘n lekker ontbyt. Dis bewolk en koud en ek trek toe ‘n T-hemp onder my ryhemp aan.  Die “heated grips” gaan nou lekker wees.  Ek gooi vol in Clarens en vat toe die pad, rigting Plaastoe.  Die Bethlehem/Lindley pad se padwerke staan ook al hoe lank maar die Stop-en-Ry is goed ingegrawe.  Ek ry maar deur en vat die skouer as aankomende verkeer dit noodsaak.  Mens kan langbaard groei deur by elke Stop-en-Ry te wag.  By Lindley ry ek in en stop om foto's by die indrukwekkende kerk te neem. Ek sien weer dat die Here sy hand oor sy kerk hou terwyl alles om hulle so tot niet gaan.  Lindley het baie mooi ou geboue.  Baie van hulle se sandsteen blokke het al met die Plasconborsel kennis gemaak wat jammer is, maar die eie boustyl van vroeë Suid-Afrika is daar.  Ek dink terug aan Clarens se gedrogte daar teen die berge.

dscn2189d.jpg

By dorsland at 2012-08-19

Ek ry uit op die Lindley/Edenville grondpad.  Wat ‘n lekker pad.  Behalwe vir die eerste sowat 300 meter se sinkplaat is hy mooi onderhou, omtrent geen klippe en lekker vir vinnig ry.  En daar is geen verkeer nie.  Die wind waai ‘n barshou, gelukkig is dit meestal van agter af en ek geniet my gate uit.  Die winterveldvlaktes van die Vrystaat het ‘n eie bekoring en ek voel soos ‘n voël wat vlieg.  Ek kry sommer van vooraf lekker as ek die plaasname so lees:  Smoorvlei, Smaldeel, Vlaklaagte.  In dié wêreld is bome maar bitter skaars en ek kry ‘n taaibos wat so langs die pad staan, al een vir die laaste 30, 40 kilometer.  Ek stop summier, pluk my stofie uit en kort voor lank is daar boeretroos in my beker.  Ek sit die stofie so in die pad waar daar nie ongeluk van brande kan kom nie.  Die enigste voertuig op daai hele oggend se rit ry toe daar verby. ‘n Boer en sy gesin met sleepwa agter die Hilux, seker op pad Lindley toe.  Hulle bekyk maar net die malhaas biker wat so sy stofie innie pad opslaan.  Hehehe

dscn2199c.jpg

By dorsland at 2012-08-19

dscn2191dy.jpg

By dorsland at 2012-08-19

dscn2200y.jpg

By dorsland at 2012-08-19


Ek staan seker so ‘n uur hier oor voordat die rylus my weer oorval.  Ek kappit flou tot in Edenville.  As jy dalk al Eben Venter se Horrelpoot gelees het dan is sy storie nie so vergesog nie. Hier in Edenville is dit reeds bewaarheid, daar bly omtrent niks van die dorp oor nie.  Ook in Heilbron, Lindley en ander plekke waar mens in die platteland kom. Ek dink weer dat as die boere van hul plase verjaag word is die laaste beskawingsskakel in die ketting gebreek en is dit nag vir ons.

Al die pad oor Heuningspruit (nog ‘n mooi naam) tot by die ou N1 aansluiting so 30km suid van Vredefort bly die grondpad baie mooi en ek ry te lekker.  Ek klim hier weer op die teer vir die stuk plaas toe.  Maar manne, die wind waai.  Ek het die hele baan nodig om die fiets in ‘n rigting te hou.  Ek stop na ‘n ruk, net om te bel en hoor van brande by ons.  Nee, alles is nog reg, geen brande nie, die wind nieteenstaande.

Ek ry maar aan, ‘n lekker rit agter die rug.  My boude is nou bietjie deurgesit op die 800 se saal maar dis 'n lekker seer.  Ek sien al reeds uit na ‘n volgende rit.

dscn2205c.jpg

By dorsland at 2012-08-19







 
Top