A Ride Report of another Sort - Verneukpan, Kenhardt, Upington, Panorama....

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

ARFAR

Puppy
Joined
Jan 22, 2011
Messages
44
Reaction score
0
Location
Bellville
Bike
BMW R1200GS
Hierdie verslaggie is eintlik deel van die Koekenaap Verneukpan Thread, maar Briv het my omgepraat om dit op sy eie ok te pos.  So of julle nou wil of nie, hier kom hy.

My Kaap tot Vernuekpan bike trip die naweek van 28 Junie tot 30 Junie 2013 het mos vinnig en onverwags ge-eindig so 5km duskant Verneukpan.  Ek tel die storie daar op.....

Jis Ouens (Rynet ingesluit).  Ek is uit die hospitaal uit, my eie persoonlike nurse het my gisteraand(8 Julie 2013) in my eie kooi gesit en selfs vanoggend die laaste sand van waar ek neergedonner het, help uitwas uit al die nooks & crannies en goed wat ek nie eers geweet het ek het nie..  Baie dankie aan al die ouens wat gehelp het toe ek so bietjie seer was.  

Toe hulle my Maandag middag 1 Jul uit Upington se bed tel op die fensie ER stretcher met wielietjies, toe vind hulle uit ek le al van Saterdagaand af op twee van oom Giel se goiingsakke binne-in die Mediclinic se bed.  Ek was seker so seer en bedonnerd, hulle kon nie naby my kom om my bietjie af te stof nie!

Die bottomline is, ek was nog nie op Verneukpan nie, en nou se die arts dit kan dalk 'n tydjie neem voor ek weer kan probeer.  Ek is glad nie ingenome daarmee nie.

Ouens, ek wil julle nou nie eintlik verveel nie, maar ek voel ek moet julle darem ok bietjie my ride report gee sedert ons paaie Saterdagmirrag laat geskei het.

Oom Giel en JC en ek weet nie wie nog almal nie, het my agter in oom Giel se plaasbakkie regop sit gemaak, my twee bootse met 'n lang stuk nylontou aanmekaar gebind. dis nou sodat die heel been die af been kon help regop hou, en toe die twee los punte van die tou weerskante van die laaibak vasgemaak sodat ek nie te veel rondskuif op daai 'Highways" nie.

Op die plaas gekom, wil oom Giel my toe moet alle geweld agter uit die bakkie uithaal sodat ek saam met hom kan rugby kyk, wat ek toe so beleefd moontlik geweier het.  Onthou ek het toe seer soos in my lewe nog nooit.  Toe sit ek maar in die bakkie en bedink my lot, en as ek weer sien het oom Giel of Marietjie(sy vrou), of 'n koppie koffie, of 'n broodjie, of 'n sakkie droewors en biltong of iets om my mee besig te hou.  Ek dink nie oom Giel het 'n stukkie van die Game gesien nie.  hy was gans te bekommerd oor my.

In elk geval, 'n paar ure later toe daag daar 'n taxi met rooi ligte en 'n brandmaer bedjie agterin daar by die plaas op en hulle se hulle is die ambulans.  Toe hulle die bedjie met die wiele wat op die TV so lekker uitsak uit daai taxi ruk, toe hak die voorste of  die agterste, ek kan nie onthou nie se wiele vas, en toe lyk hierdie ouens glad nie soos die paramedics op die TV nie.

Na 'n lang gesukkel, oom Giel en Marietjie en die sg ambulansmanne inkluis, het hulle my gesecure op die bedjie met die wiele wattie werkie.

Raait nou's ek in goeie mediese hanne, behalwe lat hulle nie eintlik pynstillers op die taxi aanhou nie. Toe kos dit maar tanne byt vir die ongeveer 80km grondpad Kenhardt toe.  Ek dink my plestic tanne is nou nie meer ver nie, nie na daai trippie nie!

Op Kenhardt aangekom, laat rus hulle my so bietjie, seker so 45 minute, gee my 'n voltarin inspuiting, ek le nou nog steeds agter in die taxi.  Toe ek weer sien, prop hulle vir Mambat, man ek was bly om hom te sien, maar nie sy toestand nie!, en nog 'n local en sy vrou wat 'n suikeraanval gekry het, saam met my in die taxi en se nou gat ons Upington toe.  

Ek het nie 'n been om op te staan nie, so ek gat maar saam! 00h20, klok ons in in Upington se Mediclinic se "trauma unit".

Nurste is nice, dokter is knorrig, daar nog 'n messteek ok waarna hy moet omsien.  Die dokter wil sien hoe lyk my been, maar ek het nog die boots aan en die boots is nog aanmekaar vasgemaak deur oom Giel en hulle verstaan eenvoudig nie die situasie nie.  Elke keer as ek vir die nurse se, sny af die boot, ek weet mos hoe ek sukkel om die bleddie goed aan en uitgetrek te kry, dan se die dokter, nee, trek uit die boot, Dan pluk die nurse weer aan die boot en ek verskaf die byklanke en soebat dat sy die ding moet afsny, dan se die dokter weer: trek uit die boot.  Wat op die ou end toe wel gebeur, met ek dink
geweldige ingekleurde taal en comments daar by.  

Die Dokter sit toe 'n ding wat hy 'n backslab of so iets noem op my been.  Dis soos 'n halwe stuk gips wat moet keer dat die voet homself nou nie afdraai of iets nie.  Onthou altwee bene is mos nou af. Dis nou die Tibula en die Fibula as ek reg onthou uit 1975 se Biologie klas op Bredasdorp.

Raait, nou's dit saal toe uit die trauma unit uit, maar ek voel hoe grind daai gebreekte bene opmekaar, maar nou het ek darem al 'n bietjie verdowing in.  Dis toe nou net daar wat hulle my met oom Giel se goiing sakke en als in die bed sit.

Sondagoggend vertel die dr vir my en Mambat dit help nou nie 'n ou probeer op 'n Sondag reel dat ons in die Kaap by 'n hospitaal uitkom nie.  O ja, ons moet Kaap toe want Upington se ortopeet is op vakansie.  

Dr se vir Mambat dit lyk nie of hy iets gebreek het nie, die x-strale is bietjie dof of iets, dit lyk net of hy erg gekneus is, so Mambat kan nou maar reel om op die gouste. gerieflikste of watse manier ok al by die huis te kom.  Mambat boek toe vir hom 'n vliegtuigkaartjie, net een direkte vlug per dag Kaap toe.

Ek daarenteen, moet 'n anner dokter in die Kaap kom sien, want sien, ek is mos nog beenaf. Nou begin hulle reel om my met 'n ambulans Kaap toe te bring. ER24 nogal.  Die rumours in die gange daar in Upington se, daar's sommer 'n dokter, 'n suster en 'n drywer aan boord.  Ek begin al hoe meer gerus voel. Ja nee. ek is in goeie hanne.  Volgende oomblik stap daar 'n verpleegsuster in en se ek moet net gou R21 000.00 in hierdie rekening inbetaal voor hulle my kan laai!  Ek bevuil myself amper op die plek, die suster skrik so groot, sy se sy gaan net gou seker maak van haar feite.  Halfuur later, jammer meneer was 'n foutjie, jy hoef niks te betaal nie, ons gat jou nou laai.

Nou weet ek mos die trip Kaap toe kos eintlik R21 000.00. Hulle het dan so gese!  Ek maak my reg vir 'n 7ster road trip.  Volgende oomblik stap daar 2 manne in, uitgevat in sulke rooi overalls, met skewe geel zips, lyk kompleet soos 'n F1 team se twee drywers, met 'n trollie wat se wiele heeltemal uitgesak is.  Ek raak al hoe meer confidant!  Ek bly mos naby Louis Leipoldt, so ek sien hoe die klas manne daai ambulanse operate en ek dink by myself, Mambat, daai pilot van jou airie sal moet move, ek is nog voor julle in die kaap!

Upington se personeel, nice mense, gee nogal 'n plestieksakkie met 'n appel, 'n piesang, 'n broodjie en 'n Lucozado saam vir die pad, sowel as 'n papiersakkie met my medikasie in.  Ek is ......gewax!

Maar toe daai ambulans wegvlie daar uit Upington uit, toe weet ek, my kak is geboek.  Voel of daai ding geen shocks het nie. en die afgebreekte bene grind teenmekaar.  Die drywer probeer so mooi moontlik ry, maar aan fokol shocks en swak padoppervlak kan mens nie veel doen nie.

Na 'n rukkie vra ek die assistent wat my oppas of hy nie vir my 'n pynmiddeltjie daar uit my kardoessakkie wil aangee nie,  Ek self dink ek het nog aan skok gely, want my oe wil nou nog nie lekker fokus nie, so ek kan nie lees wat op die veskillende sakkies en goed binne-in die Mediese kardoessakkie staan nie. Tot my skok en "verbasing' se die assistent hy verstaan ok nie wat daar getik staan nie.  Ek moet maar wag tot ons in die Kaap kom, by Panorame hosp.  Ons was toe 23h00 Maandagaand in die Kaap.  'n Heerlike 11 ure trippie.

O ja, net ten laaste, daar op Upington laat hulle jou in 'n bottel piepie, met so 'n groot tuit, so dis 'n heel gemaklike besigheid!  Toe ek vir die ER manne op 'n kol vra vir 'n piepie bottel, toe stop hulle, krap daar rond, se hulle kry nie een nie, maar ek moenie worry nie, hulle sny gou 'n lee sparletta creamsoda se kop met een van hulle "leathermans" af. so gese, so gedaan.  So ek het eintlik fokol om oor te kla nie.  R21 000.00 en dan moet jy nog in 'n Cream Soda bottel pie ok!  I rest my case.


 
Top