Wat ‘n verskil kan reën nie aan dinge maak nie. Mens se gemoedstoestand, die werk, die lewe, die wêreld, die wild, die vee, die veld, alles is net reg en mooi en lekker en nuut. Nou is dit sommer weer moerse om te boer, om in die veld te wees.
Daar in die berg, kraal ek elke aand my vroeg dragtige ooie sodat die rooikatte nie so erg onder hulle maai nie. Elke oggend gaan maak ek vroeg vir hulle oop en elke aand lê en wag hulle vir my daar by die veepos. Vanoggend se rit met die Bushlander was besonders, ek drentel sommer so stadig die berg in, kyk hier en loer daar hoe alles weer sommer lus het vir die lewe.

Lekkerste fiets rit wat ek in ‘n lang tyd gehad het, sommer hier in my agterwerf. Toegetrek onder die oorbylfsels van laasnag se reën. Misslierte dryf oor Horlosiekrans, dis stil en vars. Lekkerste lekker!

My groot dam het nog nie water nie maar daai nuwe wal pak nou lekker vas met die deurdringende reën wat geval het.

Maar as hy kom, dan kom hy hier uit die berg uit en hier in dié lopie af, innie dam in. En dan, kêrels, dan, is die Kaap weer Hollands op dié plaas.

By die veepos aangekom, staan die bokkers en wag om die nuwe natveld te gaan wei. Almal op hulle pos, g’n rooikat skade nie. Dis werk om hulle te kraal maar ook nie sulke werk nie. Aangename werk. Boerwerk. Ek geniet dit. Waar kan mens so geseënd wees om vroegoggend, elke oggend met jou motorfiets die natveld deur te ry die stilte in, oor moddergrond waar nou weer lewe is, na jou vee toe. Dis soos vakansie ouens.


Die groenigheid begin al deurslaan. Alles is sommer lus vir die lewe. Dit verbaas my altyd hoe vinnig die veld weer uitloop.


Wat sal mens en plant en dier nou sonder water kan maak? G’n niks nie. Krippe is vol, reservoirs is vol, grondwater word aangevul.

En dié ou staatmakers staan dag in en dag uit, somer, winter, droogte en nat en maak dat ons hier kan boer. Gee hom wind, kyk dat sy wasters reg is, olie hom so nou en dan en hy dien jou soos ‘n getroue hond, jaar na jaar na jaar.

Hier het die water behoorlik geloop laasnag. Kyk waar lê daai opdrifsels en die groterige klippe wat hy tot in die driffie gespoel het. Die water het tot teen die boomlyn geloop laasnag. Hier het hy kant en wal geloop. En nie van verskrilke baie reën nie. My buurman het seker hier rondom 25mm vinnige bui in die berg gehad laat gistermiddag. Nou laat loop die riviertjie. Daai rivierfodies wat ek vanoggend geplaas het, dis sy water wat hier afgeloop het. Nou loop hy al juigend hier oor die klippe. Dis ‘n lied om te hoor.


Hel, ek is darem bly vandag, dit lyk my die dinge kan weer aangaan hier. Dit gaan ‘n ruk neem dat die weiding herstel en daar het heelwat bome in die slag gebly maar as daar water is, dan gebeur dinge.
Ek is bitter dankbaar hiervoor. Die voorspelling wys ook vir vanaand en more heelwat. As dit so droog raak soos wat dit was en nog is op plekke, dan wil mens nie twyfel nie maar dit is maar so, ons geloof is té klein vir die Here se Genade.