Staan nou midde in my lentelamseisoen en die stof staan op my ooie soos hulle lammers baar

Gister toe besluit van die ooie hulle AWOL hier die berg in, natuurlik nou weer 'n gat gekry waardeur hulle kon kruip

Partydae is dit maar net so dat die Satan sy kos moet kry en gister was toe so 'n dag gewees. Saam met die dragtige ooie wat nou soek is, gaan my 2IB dorp toe, die Bushlander se voorwiel kort 'n nuwe binneband so ek is my werksesel kwyt, my vee man se tweerigtingradio raak op die koffie, en daar is soveel ooie wat lammers gooi dat ons moet uithaal om by te bly om hulle in die lamhokke te kry.
Toe die stof gisteraand gaan lê het, toe is ek nogsteeds 4 lammerooie kort en ons kry hulle nerens nie. Ek is met 'n swaar gemoed bed toe. Vandag donkeroggend toe is ons alweer aan die gang om te gaan soek. Kry een ooi sommer hier by die lamkamp se hek, maar sonder haar lam

Ons kry gou die werk hier in die lamhokke gedaan en toe trek ek en Richard, my veeman, die veld in om weer te gaan soek. Hy kry toe nog 'n ooi wat doer in die berg gelam het, sy is nou veilig in 'n lamhok met haar lammers.
Grootste genade van al: ek kry dié klein lammer sommer bo-op die randjie, stoksiel alleen, heelnag die rooikatte, die jakkalse, gister die kraaie en als getrotseer. En sy is lekker sterk en gesond. Ek doop haar opslag "Bly", vir my onthalwe omdat ek haar gevind het en vir haar omdat sy nou bietjie hotelkos gaan eet en nie jakkalskos geraak het nie

Sy issie te koop nie, nooit nie.
So vanmiddag vaar ek en Richard weer die berge in om die laaste twee ooie en hul lammers te gaan soek. Hou maar duimvas ouens.
Ja, jammer nou vir die wit bene maar gister was die eerste dag weer kortbroek aantrek. Dra maar 'n sonbril as dit julle pla