Ander kere, as dit rustig raak oppie plaas
, dan kyk ons hoe loop die huis windpomp se water in my swem- en kooivisdam in.
Nou dat ek die water so sien loop. Toe ek Desember daar deur die Boesmanland ry waar die paaie lank en reguit en vervelig is, bekyk ek die droe veld so en dan kyk ek graag uit vir windpompe om te sien watter kant toe die wind waai. Met die windpomp kykery sien n man mos dan ook baie damme en skielik onthou ek n kompitisie waaraan ek deelgeneem het toe ek in die laerskool was (wat nie regtig so lank gelede is nie). Ek onthou toe uitdruklik hoe n omie van een of ander departement met ons kom praat het by die skool oor hoe belangrik water is en hoe ons nie met water moet mors nie. Hy noem toe onder andere dat alle damme moet toe wees aan die bo kant om verdamping te beperk. Hy noem toe laastens dat as ons nou ons kunswerk vir die kompitisie instuur moet die dam nie oop wees nie anders word ons nie in aanmerking geneem vir die prys nie.
So terwyl ek nou so lekker deur een van die droogste areas van die land ry ,besef ek dat ek nie kan onthou of ek al ooit n dam met n deksel opgesien het nie teensy jy die groen plastiek tenks tel. Toe ek dit vir my vrou noem was sy ook heel verbaas. Sy wat op n plaas grootgeword het, het self nog nie n dam met n deksel gesien op enige plaas in die omgewing nie.
Nou wonder ek, was die oom wat by die skool kom praat het verkeerd, of is 99.99% van alle boere in die land verkeerd.