Opruiming en herstel na die stormskade duur voort.
Tot dusver het ons al heinings en matte herstel, bome wat omgewaai het, opgesaag en weer staan gemaak, hout weggery, een windpompkop herstel (die rukwind het sommer 'n groot stuk uit die kop waar die stert inhak, uitgebreek

)) en waterpype heelgemaak waar die bome hulle stukkend geval het.
Een ketting, een duk sisal tou en een "Hi-Lift" domkrag gebreek om dié boomstomp gelig te kry. Gaan koop toe 'n 15 ton bottel domkrag en tel hom stukkie vir stukkie oor 2 dae op. Mens kan eintlik nie glo dat wind so sterk kan wees nie.


Na 'n paar manne kom kwotasies gee het om my paaie en damme te herstel, daag die mense wat ek aangestel het Saterdag op. Ek is verbaas hoe besig grondverskuiwingsbesighede is, veral hier op die platteland. Die eerste en beste ou wat my 6 weke gelede kom sien het, kom net nie klaar met sy kontrak op Cradock nie. Die boer hou aan nuwe werk bylas. Toe stel ek maar manne van Murraysburg aan.
Eers die pad effe wyer maak dat die laebak trok sy draai kan kry.

.... toe 'n kort oefenlopie om 'n gronddammetjie hier agter die opstal weer heel te maak. Tjoef-tjaf toe staan die wal weer mooi. Nou kan die reën maar kom, ek bang niks nie.
Voor die Komatsu begin het:

...... en terwyl hy besig was:

En toe pak ons die eerste bergpad aan. Die geheim is goeie dwarswalle naby aan mekaar met afloopgeute wat die water maklik en vinnig die veld in lei.
Die eerste wal van vele:

Toe kom hulle sommer vinnig.

Dinsdagoggend vroeg is my plaasvoorman vroeg op sy pos

Die manne werk 12 uur skofte van 06h00 tot 18h00 en kry nogal baie gedaan.

Dis altyd lekker koel, vars en stil so vroegoggend in die veld. Betyds om die son te sien opkom en die maan te sien sak.

So lyk die stuk pad voor ons begin het:

Vandag lyk hy so:

Waar die water kwaai deur die veld geloop het, stoot ek nou orals sulke klein velddammetjies. Met dié dat hulle meestal lekker klam bly al is hulle leeg en dat die grassade daar in vaswaai, is dit goeie sagte weiding vir die vee selfs in droë tye.

Voor ek dié manne aangestel het, het ek bietjie rondgekyk of 'n tweedehandse kruiptrekker my nie dalk goedkoper sou uitwerk nie. Hulle kos nogal 'n paar rand. Gister, toe is ek weereens genees daarvan om ysters op my plaas te hê. Laat gistermiddag toe breek 3 van die kettings se rollers.
Mekêniek moet eers van Murraysburg kom om te kom regmaak.

Ek weetie of ekself onder 25 ton se koue staal sal inklim terwyl hy op 'n botteldomkrag staan nie.

Kerels, so 'n groot masjien sukkel nie met staal nie, hy verrinnewoes dit sommer in 'n ommesientjie.

Hier is een van die ou rollers. Kyk hoe is daai staal weggeëet:

En dié nuwe een kos so R4000 stuk. 3 van hulle moet vervang word.

Tot dusver vorder die werk goed en my paaie kan weer gery word. Die groot uitdaging is my groot bergpad wat erg verspoel is. Ek sien sommer die masjien gaan met my geld mors as hy daar kom.


Ek hou julle op hoogte van sake.