Vandag het my pad- en dambouprojek ten einde geloop. In net minder as 3 weke het ek 236 km berg op en berg af met die Cruiser gery en my rug is nou amper op.

Dis lekker om orals op die plaas te kan uitkom sonder om 40 dae en 40 nagte oor die vlaktes te moet sukkel. Ek sou graag bietjie loopwater reën wou gekry het terwyl die masjien hier was dat ek kan sien of my
Landbouingenieurswese en Padbou 101 korrek gedoen is, maar wat, hy sal kom en dan kan ek sien of my waterafloopplanne werk.
Nog groter lekker as die padbou is die feit dat ek 7 damme van verskillende grotes gestoot het en wanneer dit kom damwater reën dan gaan ek baie breed glimlag. Daar word gesê dat mens net 2 tipes Karoodamme kry: droog of stukkend. Nouja, ek hoop om die teendeel te bewys. My plaas se waters is nie van die beste in die omgewing nie so ek moet boereplanne maak. Dit het ek nou tot die beste van my vermoë en geld gedoen. Ek glo ek sal die vrugte daarvan pluk.
Maar genoeg warrawarra vir eers. Hier is kiekies.
Ek het belowe ek sal 'n fodie of 2 van die Bushlander plaas maar met dié dat ek altyd iets of iemand op en af moet karwei was ek meestal in die bakkie gewees. Maar ek moet darem nog tussenin ook fietsry so hier is een:

En nog een met sommer baie perdekrag op die foto.

Ek het damme in 'n paar lope gestoot, as hulle eers water gekry het dan sal die vee nie so ver suipings toe moet stap nie. Hier is een van die damme in die beginstadium.

En soos hy vorder. Die bokkers is mos baie nusskierig en dié klompie moes eers kom kyk wat gebeur.

En vroegoggend op 'n ander dam toe ons net begin het.

Kyk hoe mooi lyk hy al. Hy soek nou net water.

Dié dam is 'n ou een wie se wal met die groot reën van 2011 gebreek het en toe het 'n al groter wordende donga middeldeur die dam bly groei. Ek het hom reggemaak en 'n lekker stewige wal gestoot wat hopelik sal hou tot daai 1-in-100 jaar vloed. Ek het sy uitloop vergroot en tot op die klipbanke gestoot dat daai groot vloedwater maklik en vinnig kan uitloop en nie bo-oor die damwal loop nie. Dis die dood van 'n damwal. Ek was bitter jammer om groot doringbome te moes uitstoot maar ek troos my dat as die dam eers water in het, sal die soetdorings weer vinning en groot groei.
Eers dit ou gat hestel:

Kerels, hier gaan baie water kom lê as dit nou lekker reën.

En toe vanoggend vir oulaas die laaste 50m padbou afgeneem.

En nou is dit klaar vir eers. My 800 wat ek verkoop het, se geld is nie uitgesuip, op los vroumense of blink motors uitgegee nie. Ek het dit mooi in die boerdery dobbelspel se casino uitgegee. Julle ken mos die gesegde dat as mens R1 miljoen rand uit die boerdery wil maak dan moet jy met R3 miljoen beginne.
