Alles is pragtig groen, die plante blom en die veld groei en alles kry weer lewe hier na die reën. Vanoggend is dit die pragtigste wolkbank wat hier oor die Sneeuberge hang. Die winter is oppad, gister was maar 12ºC. Nou kan hy maar kom, dit het gereën en die bossieveld loop bitter mooi uit. As die koue nog net so 'n stuk kan wegbly sal ek dalk nog 'n laaste lusernsnysel ook afhaal. Sommer so op die Paasnaweek. Die Here se genade is inderdaad bitter groot.