Ek is bly as julle ouens dit geniet hier, dis vir my ook maar 'n uitlaatklep soms. Sommer om net te kan wegbreek van als plaas en boer en die dinge daar rondom. Soos nou met dié droogte. Kêrels, ek wil nie sanik nie maar dit maak mens lam as dit so droog en stowwerig is, niks wil groei nie, dis voer koop elke rit dorp toe en die tuin lyk soos Afghanistan in 'n slegte jaar. As ek dié vlieswolkies en die "jetstreams" van die stralers so bekyk dan weet ek darem nie hoe gaan ons maak as die rëen nog baie langer wegbly nie.
Maar nou ja, droogte is ook goed. Dit hou mens nederig en op jou plek, maak mens weer bewus van presies waar jy in die orde van die Skepping inpas. Slim soos ons soms dink ons is, is daar baie dinge wat net ons Liewe Vader uit onverdiende Genade vir ons kan skenk. Reën is een daarvan.
Verlede jaar toe die droogte al begin neuk het, toe skryf ek sommer dié stukkie toe dit so 'n hel warm dag gewees het:
Karoo Droogte
Vandag is nog ʼn warm dag, pragtig windstil, maar warm en droog. Die hoenders skrop lusteloos onder die granaatbome rond terwyl die ganse oopvlerk onder die bloekombome lê. Dis daai warm stilte, klank dra nie ver nie en, buitendien, dis te warm om té hard te blêr, kekkel of blaf. Alles soek koelte en lafenis wat ons bly ontwyk.
Selfs die bobbejane wat in die groentetuin en lusernlande kom kos soek, is traag om te wyk as ek hulle jaʼ. Die honde lê uitgerek op die klam sand onder die voertuie wat onder die afdak staan, die hitte het hulle energie getap. Nou en dan sal ʼn stompstert nog so ligweg roer as mens hulle roep.
Ek kyk so na die ganna- kapok- en ander karoobossies, die beesganna, die blou- en wonderbosse wat al vergeel, dan kry ek die veld bitter jammer. Vasgewortel waar hul staan, kan die veldplante net met geduld en geloof op reêngenade bly hoop. Die versengende hitte skroei alles tot ʼn dor, vaal verpoeiering.
In die begin van die droogte het die fyntuin en groenteplante nog elke oggend hul blare oopgegooi soos arms wat smeek na water, na lafenis, na lewe. Maar nou, na weke se witwarm son, wind en hardgebakte grond, trek hulle hul blare biddend toe en wag. Óf op reën óf om ingespit te word.
Sonder ʼn Redder, is hul stryd amper gestry. Waar daar nog einde verlede jaar by die driffie papkuile en riete met oorgawe geblom het, waar daar blink waterstrome kabbelend oor die klippe gejaag het, oppad om verder stroomaf hulle lewensgawe te gaan deel, is daar nou net stof en ou opdrifsels. Die leivoor se stem is nou stil, gʼn lewensaar loop nou meer daar nie.
Ook die dam se vloer lê soos ʼn voltooide legkaart soos die modder gekraak en verdor het. Orals loop spore van otters, musseljaatkatte, hase en ander klein diertjies wat koers kies na die al kwynende water wat doer in ʼn hoek van die dam lê. Van die hordes watervoëls se gekekkel en gekraai soos hulle aangeteel, gekuier en gewei het, is daar nou weinig oor. Meeste het rivierop na die keerwalle waar daar nog water is, toe getrek. Wie weet waar trek hulle daarna heen as die droogte so aanhou.
Die weervoorspelling wys reën vir vanmiddag maar vroeg in die dag vervaag die hoop. Die wind is verkeerd, die skilpaaie loop nie, die nagblomme staan nog toegedraai op hul doringkieries, geen klam reuk op die vroeëoggend lug nie. Elke keer as die windpomp se skepper van rigting verander dan hou ek dit dop. Maar die wind bly uit die suide neuk. Die horison na die weste toe word met valkoë dopgehou vir die eerste wolke wat kop uitsteek. Maar helaas, die bloulug hou stand, die son gaan op en die son gaan af.
En eers in die koeler naglug skep die aarde asem om more te kan oorleef. Maar die hoop vergaan nie, die geloof dat die Here Jesus sy skepping in stand sal hou sal nie vervaag nie.
“Hy lei my na strome waar rus is”. My Here, my God, my Hemelse Vader, moet my nie verlaat nie. Slegs uit U hand kom genade en vergifnis en reën. Wees U skepping genadig o Here en stuur vir ons reën sodat mens en dier en plant kan lewe. Want slegs U kan dit uit ʼn helderskoon witwarm sonskynlug laat reën Here.
Laat U wil geskied my Here.
Hi Johan ek dink jy is 'n skrywer/digter van formaat. Jou skrywe/gedig het my onwilekeurig laat dink aan Uys Krige se gedig. Ek sluit dit hierby in. Johan as dit met jou reg is deel ek ook graag jou gedig met my FB vriende.
Gedig: Ken jy die see…
20 Maart 2012
Uys Krige
Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?
Hy lyk nou soos jou voorstoep blinkgeskuur
en kalm soos min dinge hier benee,
maar hy’s gevaarliker as vlam of vuur.
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.
Dié vrede, kalmer as ‘n stil, soet kind,
lyk of dit dae, dae lank sal duur.
Maar word dié bries ‘n bulderende wind,
dan veg jy vir jou lewe, uur na uur.
En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.
Ja, sleep die swart, swart wind die swart nag mee,
waar kry ons hulp dan, waar’s ons naaste buur?
Die Dood staan voor die deur. Geen hy nog net één tree,
dan kelder hy ons almal in sy koue skuur.
En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.
Wat van die storms wat nooit ophou raas?
Jy sit pal in jou kliphuis, klam en guur,
en hoor die wind al woester, wreder blaas.
En daar’s geen sprokkel hout meer vir jou vuur.
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.
Was jy al van jou bootjie soos ‘n veer gevee
deur ‘n grys golf hoog soos ‘n tronk se muur
Wat help dit om te spartel en te skree: “Nee! Nee!”
sluk jy eers daardie waters sout en suur?
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.
Ken jy die doodsangs as die rukwind klap?
Dié waansin ken geen redmiddel of kuur.
Hy vreet mos aan jou ingewande nes ‘n krap.
Hy’s koud soos ys, heet soos die hellevuur!
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.
Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?
Hy wat met groen jaloerse oë na ons gluur,
ons wat net één ou misstappie moet gee
en hy kom tromp-op op ons afgestuur!
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.
Sien jy die krom ou vroutjie daar, mevrou Mathee,
wat telkens ver, vér oor die golwe tuur?
Sy dink dié briesie bring haar seuns betyds vir tee.
Hul slaap aldrie agter die kerkhofmuur.
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur…