Amerika het 30000 geregistreerde Boerbokboere, meeste daarvan in New Mexico, Arizona, Texas en Colorado. Ek ken 'n vrou in Montana wat haar trop Boerbokke aan mense uitverhuur vir onkruidbeheer!
Bokvleis is eintlik baie lekker, baie maerder as skaapvleis, vol yster en baie lae kolestrol, die laagste na wildsvleis en volstruis. baie gesonde vleis. Ja, hy kan wel 'n bokreuk hê maar dan is die bok gewoonlik ouer as so 9 maande toe hy geslag is. Of dit kan ou ramme wees. Mooi jong slagbokke is BAIE lekker. Effe growwer tekstuur as lamsvleis maar mens sal hulle nie maklik uitmekaar ken nie.
'n Bok is 'n bitter slim dier Frans, gaan loer bietjie op YouTube, daar is baie videos van hulle petaljes. As hulle eers in 'n roetine kom (leer baie vinnig) dan sal hulle laatmiddag by die kamphek gaan lê en wag dat mens hulle kom kraal. Hierdie dragtige ooie in daai foto pak hulself in die kraal en wag altyd vir my as ek daar aankom. Ek leer hulle deur 'n handvol sjokolade mielies vir hulle uit te sit in die lekbakke. As ek my rondtes doen en hulle gewaar die bakkie dan kom hulle doer uit die berg uit aangedraf. Spaar my om hulle te moet gaan haal.
Ek wil hê dat my boerdery en my bokke vir my 'n plesier moet wees, dit moet nooit my baas wees nie. Ja, soms wil ek hulle almal vrek skiet hulle kan my so kwaad maak, want soos enige dier kan 'n bok ook maar dwars wees net as jy wil hê alles moet glad loop. Hy sal byvoorbeeld soms orals gaan behalwe deur die oop hek na die kraal toe.

Of hy sal 'n klein erdvarkgat in die heining kry in 'n 500ha weikamp. Binne die eerste dag wat jy hom daarin sit. O hel, hulle het my al kwaad gemaak. Maar ek is baie lief vir hulle. Die bokkers.
Hier waar ek boer is die drakrag so 1:12 vir bees maar my plaas is 'n baie goeie bokplaas (behalwe vir die ongediertes) so ek dra so 1 KVE :1,5ha. Ek kan seker effe meer dra maar oorbeweiding is 'n wesenlike probleem in die Karro en dit herstel baie baie stadig. Alan Svory praat van 'n "brittle" environment. Lae vog inhoud en lae koolstofvlakke in die grond, reënvalinsidente is intens met lang tussenposes, uiters warm grondvlaktemperature, uiters lae wintertemperature.
Veld- en weidingbestuur is 'n baie interessante onderwerp wat té min boere goed genoeg verstaan.