Van November verlede jaar af het ons geen selsein op die plaas nie, vir die afgelope 5 weke geen landlyn nie en Telkom lyk ook nie oorhaastig om die probleem uit te sorteer nie. En toe, voorverledeweek groet ons VOIP foon ook. Ai. Ons was toe slegs op epos en Whasapp vir komms aangewese. Ek kan nou al soos 'n wafferse sekretaresse 'n Whatsapp tik

My besigheid het bietjie skade gelei as gevolg van die probleem maar eintlik was dit lekker om nie seloproepe te kan maak of ontvang nie.
Kom ek verduidelik my komms opset bietjie. Bo op die berg naby Horlosiekrans, so 2.5km van die opstal af soos die kraai vlieg het ek 'n sel herleier antenna asook 'n WiFi antenna wat van sonkrag af werk. Hulle herlei dan die sein hier na die huis toe waar ek op my tweerigting radiomas die WiFi en Selsein herleierantennas het.
Dié antenna vang die selsein van Ouberg op die Murraysburgpad doer vêr amper op die horison op...

En loop dan deur al die megêfters in die groen bo'jaanproef kas onder die sonpanele ...

Dan stuur die rooi antenna op linkerkant dit weer aan na my opstal toe...

Hierdie is die WiFi antenna. Vandat dié foto geneem is het ek meer bobbejaanbeskerming om hom gebou. Aap se kind het mos gedink ek bou vir hulle 'n klimraam daarbo. Dis hierdie antenna wat ek nou onlangs afgebreek het en hier agter die huis opgerig het vir die beplande WiFi kameras.

Toe ek daardie infrastruktuur geskep het was die diensverskaffer in sy kinderskoene so daar moes 'n plan gemaak word. Hulle het intussen sterk antenna- en herleiertoerusting op Nardousberg geskep en kon ek onlangs my WiFi antenna op Horlosiekrans afbreek en so mik dat hy nou 'n baie sterker sein direk van Nardousberg ontvang. Ook is daar een minder skakel in die netwerk en kan die diensverskaffer makliker daar uitkom. Voorheen was dit 4x4 laestrek om by Horlosiekrans uit te kom en die laaste 200m was te voet gewees. Ek het dié WiFi antenna nou hier agter die huis opgerig vanwaar ek my WiFi kameras kan bedryf. Wag op die manne se kwotasies daarvoor.
Ons Telkom lyn loop oor 'n afstand van 76km met slegs 3 fone op hom. Ons is dus 'n redelik lae prioriteit vir Telkom.
So, om 'n lang storie kort te maak, komms hier is nie sommer van bel nie. Maar dit werk vir my. As dit werk.
Nou ja, ek sukkel nou al van November verlede jaar en ons maak maar planne. Om jou internet bankdienste te gebruik is 'n probleem omdat mens nie die OTP ontvang nie. Kliente raak ook omgekrap omdat hulle my nie in die hande kan kry nie.
So vandag het die slim manne met die dik brille en wit jasse uitgekom en vir my 'n nuwe selversterker kassie in die dak geïnstalleer asook die buite antenna vervang met 'n nuwer sterker eenheid en siedaar - selsein!
Dié ou boksie wat in my dak was en die onklaar Poynting antenna:

Die nuwe boksie:

Die slim manne op die dak:

Die beheersentrum se komms antennas: 2-rigting radio, WiFi antenna, selfoonantenna.

Ek is weer op die lug, die beheerkamer loop weer mooi. Julle kan my bel.

8: