Ai, die Klein Karoo is darem mooi

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Dorsland

Bachelor Dog
Joined
Apr 15, 2012
Messages
11,191
Reaction score
1,677
Location
Van Daar
Bike
Honda CRF-1000L Africa Twin
Ek gaan dit nou maar sommer hier heel aan die begin van my RR sê sodat die anti-BMW manne solank hulle kommentaar kan voorberei: Ek het 'n epos van BMW Motorrad gekry wat my vriendelik uitnooi om my battery gratis en verniet by hulle te laat omruil.  Dis reg ja:


'n RECALL
 

van BMW

:eek7:  :eek7:​

OK, laat waai julle BMW haters  >:D :biggrin:


Ek het my fiets by Lyn Schroeder BMW op George gekoop en ek kan rerig nie kla oor hulle diens nie.  Ek besluit toe om my fiets soentoe te neem vir die 20 minute se werk.  Kan nogal 'n lekker oornag trippie wees het ek gereken. Julle het dalk elders hier oppie forum gelees van my arbeidsprobleme hier op die plaas, so om weg te kom - selfs net oornag - is nogal moeilik. Ek het die epos sowat 4 weke terug ontvang maar kon net nie tyd kry om vinnig weg te glip nie.  

Die afgelope week toe sien ek Maandag al dat dinge redelik op dreef was, en ek sien toe my kans.  Ek bel die agent en bespreek toe die fiets vir Dinsdagmiddag in. Dis sommer 'n 20 minute werkie, jy kan sommer staan en wag. "Of van ons lekker koffie of tee geniet terwyl Emile gou klaar werk." Ek het vergeet om te noem dat my koopooreenkoms met hulle nie muffins ingesluit het nie  ;D

Shap my maat, alles is gereel en ek pak toe gou 'n paar goeters in my nuwe Wolfman Expedition panniers (wat nog nie stof op het nie), parkeer die fiets hier by die agterdeur en pak my goedtjies.  Ondanks wat ou Woody, Veldie, Jakkals en ander beweer (https://wilddog.net.za/forum/index.php?topic=109919.msg2948960#msg2948960 reply 618 en verder  :lol8:) kom ons nie baie weg nie en was ek baie opgewonde om bietjie die langpad te kan aandurf.

My 2IB is 'n yster en skrik nie om alleen die fort vir my te hou nie. Vrouens soos sy is maar yl gesaai en sy is my regterhand  :thumleft:

Dinsdagoggend sien ek gou na 'n paar dinge om, kyk my lammertrop deur en toe's ek oppad.  Ons het voorverlede week so 20mm reën gekry en toe kom skraap die manne met die geel masjien ons pad.  Ek ry sommer grond snelweg hier van my voorhek af.  So 150km van my af oppad Aberdeen toe is so 'n skelm afdraaipad waar ek altyd afdraai om eers my teebreek te geniet.  Ek wou nie baie goed inpak nie, so ek ry toe sommer my klein flessie saam.  Hy's OK vir so 4 van hierdie klein koppies tee.  Julle kan maar julle lag lag as julle wil.  Ek ry nie ver sonder my teefles nie.

P8120001_zps30fff92c.jpg


P8120003_zps9890fb4f.jpg




Ek was bietjie haastig om in George uit te kom voordat Jakkals tjailatyd op straat beginne rondjaag so ek ry maar teerpad  >:D  Daar annerkant Willowmore kry ek uiteindelik bewys dat BMWs stadig is:  'n skilpad gaan my verby  :imaposer: :imaposer:

P8120005_zps0aa62745.jpg




Ek sluk maar my trots en ry verder.  Dis 'n pragtige dag en daar bokant die Langkloof afdraai stop ek weer.  Die suikerbosse en proteas blom te pragtig en die hele vallei weerklink van die voëls wat hulle in die ryk nektaaroes verlustig.  Ek vertoef so 'n rukkie daar en geniet die vrede en natuurskoon.

Toe ek by die handelaar aankom ry ek sommer by die werkswinkel in waar Emile staan en wag. Hy groet vriendelik en beginne sommer dadelik met sy werk.  Ek reel toe dat hulle vir my 'n stel "bar raisers" ook installeer want ek het nou met die afry gevoel my skouers raak bietjie styf van die strek. Ek gaan maar my nek uitsteek en vir hulle 'n pluimpie gee.  Hulle diens was vinnig, vriendelik, knap en Emile bied nog aan dat as my "handlebars" skeef is na die "bar raisers" se installasie, moet ek sommer dadelik terugkom en hy sal my help om hulle na my smaak te stel.  :thumleft: Mens kan mos nie vir meer as dit vra nie?  Terwyl ek wag drentel ek so bietjie in die vertoonkamer rond.  Daar is 'n 6 Serie BMW afslaankap vir R1,78 miljoen wat daar staan  :eek7:  Ek kyk bietjie 'n paar ander karre ook.  Kyk kerels, as ek my hele plaas op die bakkie moet oplaai en dit hier kom inruil dan kan ek skaars al 12 karre bekostig.  Lyk my die George ekonomie blom.

Toe hulle klaar is, ry ek weg opsoek na my oornag gastehuis akkommodasie.  Wie sal ek nou amper raakry maar Trailrider en van sy maters.  Hy is so 'n ruk terug geban hier op die forum maar mens sal hom nie maklik miskyk nie. Dis 'n groot man  :)  Ons stop toe om te groet en hulle nooi my om saam te ry Sedgefield toe, via die Sewe Passe roete.  Dis bitter mooi en die woudreuk té lekker.  Ons ry stadig met al die kinkels en draaie in die mooi pad.

P8120006_zpsabe23a45.jpg


P8120007_zps2226ff38.jpg


P8120008_zps29b64a29.jpg




Na bietjie vloeibare lafenis op Sedgefield, ry ek maar N2 verby Wilderness en die Kaaimansrivier terug George toe.  Ons Wes Transvalers wil mos altyd sien of die groot dam nog water in het.    :lol8:  My verblyf is lekker rustig, donker en stil.  Hulle is net moer snoep met hulle tee/koffie goedtjies in die kamer.  Maar verder baie gemaklik en mooi.  Dié aand toe daal daar so 'n digte mis neer wat sulke slierte laag oor die grond trek.  Ek gaan eet sommer by Nandos 'n ietsie en ry mooi versigtig terug gastehuis toe.  Waar ek vandaan kom is verkeer, mis en verkeersligte mos heel vreemd en ek vermy hulle waar ek kan.

P8130016_zps211fc153.jpg


P8130017_zps08771799.jpg


P8130015_zps21524b26.jpg




Woensdagoggend word ek wakker en my jukvoete voel skielik asof hulle gekrap moet word.  Ek lê so 'n stukkie en luister die vroeë voëlsang.  En 'n plan beginne vorm aanneem.  Ek staan op en drink my een koppie tee en toe is die suinige rantsoen op.  Maar toe is dit al tyd dat ek 'n paar oproepe maak.  Ek bel eers huis toe om te hoor of die Kaap daar nog Hollands is.  Vroulief sê nee als is dood jollie, ek kan met 'n geruste gemoed eers Donderdag óf selfs later die week huiswaarts keer as ek wil.  Ek sê julle mos sy is 'n yster  :thumleft:

Ek bel vir Veldie by Koedoeskloof.  Nee seg hy, kom, daar is slaapplek en die Dwarsbar is oop. Ek bel vir ChrisL.  Hy ry dié middag saam Karoo Rider die wildernis in maar ek moet eers kom koffie drink daar by hulle.  Drie oproepe later is my oornag trippie verleng en ek is skielik lus om te sing.  Maar die bure is nie so ver van my kamer af nie so ek hou maar my smoel.

Chris het my so 'n kortpad na hom toe beduie en ek ry weer grondpad. Dis nogal koel en bewolk maar lekker ryweer.  Ek sien 'n paar ander bikers.  Sommige groet, ander nie. Wat pla dit my, ek groet vanoggend sommer die duiwel self.  Maar Jakkals is seker al dié tyd van die oggend by die werk  :imaposer: :imaposer:



Dis 'n mooi ou waenhuis dié op die kortpad wat Chris my beduie het:

P8130019_zps22039200.jpg



By hulle aangekom, is dit eers 'n gegroet en die mooi beeste bekyk en sy netjiese groenvoerlande bewonder.  Dan koffie drink en gesels en hoor wat hulle te vertel het.  Dan drink ons weer 'n ietsie en Amanda maak sommer broodtjies ook.  Man, Suid-Afrikaners is darem maar gasvry.  Jy kan nou maar sê wat jy wil.  Maar Chris het 'n plan. Hy stuur my saam met Amanda na hulle Enduristan pakhuis toe.  "Kyk maar net" seg die slim jakkals.  Ek koop toe nou maar 'n Basepack wat nie op my inkopielys was nie  :(  Maar hy werk lekker om my gereedskap in te sit.  Chris nooi my sommer om saam met hom te ry Ladismith toe waar hy vir Karoo Rider kry.  Nou kyk,  Chris werk seker as konsultant vir Garmin want daar is heel waarskynlik nie 'n pad op die sub-kontinent wat hy nie intiem ken nie.  Vir wat moet ek nou sy uitnodiging van die hand wys.


Chris en Amanda se baie lekker plek oorkant die Goukou rivier:

P8130022_zps180fbbd9.jpg




Ons ry so al kronkelend met die rivier langs tot op die N2 en vandaar af Riversdal toe en oor die berg.  Dis sommer koud en die wind waai weer 'n hond uit 'n bos uit.  Hy waai toe sommer ook 2 Wild Dogs oor die Garciapas (ek dink?) en in die Klein Karoo in.  Mense maar dis mooi.  Dis al laat en die son trek sterk water so ons stop nie vir fotos nie.  Ek en koedoedans is nie maats nie.

Dis nie hoe lank nie en daar is die warm liggies van Koedoeskloof.  Karoo Rider wag al vir ons daar en ons spoel eers die stof met 'n koue knertsie af.

Ag julle weet almal hoe lyk dit daar maar ek pos sommer my fodie ook.  Dis tog my eerste keer hier.  Kyk die forum het 'n paar rowwe jacks maar Veldie en Debbie is nie onder hulle nie.  Die rustigheid van hierdie twee gawe mense daal sommer dadelik op mens neer as jy daar afsaal.  Gasvry, vriendelik, rustig.  Soos ou vriende.  Dis mos hoe dit moet wees.  Ons kuier lekker daar saam 'n paar ander gaste en verAfrikaansde Skot Oom Ian.  Kyk hy is nou 'n man wat my amper aan Oom Schalk Lourens van Herman Charles Bosman se vertellinge herinner.  Hy ken 'n storie oor als, en kan hom goed vertel.

P8130023_zpse6484cda.jpg


P8130024_zpsd596d5be.jpg




Ek gaan slaap vroeg want more het ek so net oor die 500 km om weer by die huis te kom.  Ek stort warm en drink van die Klein Karoo se lekker soet water voor ek gaan slaap.  Soos 'n baba sê ek jou.  Dankie Veldie en Debbie, ek kom weer kuier.



Na 'n lekker ontbyt val ek weer in die pad. Ek ry maar stadig want dis so mooi.  Ek gaan Chris en Karoo Rider verby waar hulle anderkant toe oppad is met hulle trippie. Ek stop kortkort vir fodies.  Die Swartberge is imposant.  Veral vir my wat die Wes Transvaal se vlaktes gewoond is en oor twee klippe wat bo-op mekaar gestapel is, opgewonde kan raak.

P8140025_zps59db666f.jpg


P8140026_zps02c6b1d0.jpg





Orals lanks die pad sien ek hierdie pragtige bos met die mooiste blomme.  Ek wil bietjie gaan loer wat is dit, maar as daar iemand is wat meer weet sal ek graag wil hoor.

P8140027_zps3d5614d2.jpg


P8140028_zps4168a4b6.jpg




Veldie het my vertel van 'n pad wat agter die Swartberge loop en wat by Willowmore uitkom.  Ek ry deur Oudtshoorn tot op De Rust en daar deur Meiringspoort tot by die afdraai.

P8140030_zpsdfd25212.jpg





Dié mense brêg nog hulle boer met sulke vet skaap ...

P8140032_zps634ce5e8.jpg



.... maar nugter alleen weet, hiér kan net 'n Dorper en 'n Boerbok vet word  :eek:  Hulle reënval hier moet rondom 80mm - 110 mm per jaar wees.  Harde, maar goeie, gesonde wêreld.  

P8140033_zpscbff1cd2.jpg


P8140038_zps37167131.jpg




Ek ry té lekker hierdie stuk grondpad, dis lekker stil, rustig, amper geen verkeer nie. Ek ry so 'n ent agter 'n boer se bakkie en sleepwa wat baie stof maak en ek besluit toe nou is dit tyd vir tee.  Kyk kerels, met hierdie voorraad kan ek myself 21 dae in die wilderness onderhou sonder om 'n ander man se skaap te hoef slag.  :biggrin:

P8140039_zps7d14e91a.jpg





Ja, toe's dit nie lank nie en ek is weer op die N9 se teer oppad huistoe.  Dis darem lekker windstil maar tog koud.  Ek maak 'n laaste stop anderkant Beervlei "dam" (ek wonder of die ou wat daai dam daar voorgestel het nog sy werk behou het  >:D) om my sitvlak bietjie te rus voordat ek daai 800 se oor plaastoe draai.

P8140041_zps12c1dcc9.jpg





Dankie vir almal se gasvryheid.  Julle woon in 'n mooi omgewing en dis lekker gewees om by julle te kuier.  My plaas is nog heel, my bokke voltallig, my vrou bak kolwyntjies toe ek daar stop en die reuk ontmoet my by die hek.  My honne is bly om my te sien.  Of dalk soek hulle net witvoetjie:

Hulle het die stoepbank se kussings verskeur en dit lyk soos Commissionerstraat na die EFF daardeur was  :eek7: :eek7: :dousing:

Hondewatkussingvernielhet_zpsae9a7892.jpg


Maar die Karoo het my moermeter ontlont en ek het vrede met die wêreld
 
Top