DEUR DIE TANKWA NA VERNEUKPAN

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Karoo Rider

Race Dog
Joined
Sep 1, 2012
Messages
1,716
Reaction score
446
Location
Ladismith WC
Bike
Honda CRF-1100L Africa Twin
DEUR DIE TANKWA NA VERNEUKPAN
14 – 17 Augustus 2014

Voor ‘n mens té uit oefening raak vir die ding het ek en ChrisL onlangs weer begin kaarte nader trek vir ‘n bike trippie.  “Oubergpas en Gannagapas asseblief” het ek die bestelling ingesit toe ek my denkbeeldige emmer-lysie weer so ‘n slag onder gedagtes-oë gehad het.  Ons oorspronklike datums is effe gekniehalter toe die Noorweegse weerprofete begin reken dat die Groot-Karoo se dors geles gaan word, en toe my kamermaat boonop aandui dat sy die week daarna vir ‘n kursus in Kaapfontein moet wees (en by my skoonfamilie gaan oorbly) het ons alles met ‘n week uitgeskuif en kon ek tot my spyt haar ongelukkig nie vergesel nie.  Maar tot sy het my punt ingesien en besef dat sy dit nie daar sou geniet het as ek moes saamgaan nie.


Die roete:

TankwanaV-PanTOTAAL_zpsf61ebd1b.jpg



Youtube link na die video: https://www.youtube.com/watch?v=VOGy9GaHjjA
Belangrik:  klik asb op die "ratjie" (Settings) en sit op "480" by die Quality, anders lyk dit maar droewig...


DAG 1:  Ladismith tot Middelpos/Calvinia-area

Dis laatmiddag en ek het skaars by Veldtie gestop toe jaag die padstof twee ruiters die werf in – ChrisL en Dorsland wat saam deurgekom het van Stilbaai af.  Laasgenoemde se eerste kennismaking met dié geweste, en aangenaam verras deur die kontrei se boerbok-bedrywighede, asook waarom die Klein-Swartberge, dan so groot is?

Die volgende oggend het ek en ChrisL gou die laaste goedjies ingepak.

IMG_0074_zpsa946a77b.jpg



Oppad dorp uit gaan ons by Dorsland verby.  Hy het by Veldtie-hulle oorgeslaap en is oppad terug huis toe knap anderkant Graaff-Reinet, maar die vorige aand is daar verskeie ompadroetes aan hom uitgelê wat hy sekerlik eers gaan opsoek het!  Ek en ChrisL vorder fluks verby Anysberg voordat Laingsburg in sig kom.  Met die Oubergpas en Gannagapas wat nog voorlê kies ons kortpad deur tot by die Matjiesfontein - Sutherland teerpad.  Op met die Verlatekloofpas en dadelik val die temperatuur nog so 3ºC toe ons bo-op die plato kom.

Na 'n besoek aan die petrolpomp is dit effens terug op ons teerspoor en draai ons weswaarts af, rigting Oubergpas.  Die bo-Karoo bederf alweer met sy pragtige heuwels en dale, en net toe ek begin wonder waar dié Oubergpas dan is kos dit ankers gooi toe die ooptes wegval voor my.  So ver soos wat die oog kan sien.  En dan nog so ent.

IMG_0076_zps37eed4d0.jpg


IMG_0080_zpsb7af3d0d.jpg


IMG_0078_zps7e53940d.jpg


IMG_0084_zpscf8317a2.jpg



Kort voor lank borrel die koffiewater en die kieste bol onder die droëwors terwyl geologiese teorië uitgeruil word rakende die totstandkoming van dié besondere uitsig.  Met die innerlikes versterk begin ons afsak met die Oubergpas.  Alhoewel steil op plekke is die oppervlak goed en word ons tempo slegs gedemp deur 'n skynbaar verdwaalde Engelsmannetjie met 'n nuwerige Golf voor ons.  Verseker 'n gehuurde motortjie, sou ek sê.

Onder in die vallei aangekom is daar verkeersknope van 'n ander aard voordat ons regs draai rigting Bo- en Onder-wadrif.

IMG_0086_zpsa1232d2e.jpg


IMG_0087_zpsb2726bad.jpg



Kort voor lank begin swaai die spore weer noordwaarts en gaan ons later verby die Tankwa-Karoo Nasionale Park se kantore.  'n Ent verder styg die pragtige Gannagapas voor ons uit en begin klim ons weer terug tot bo-op die plato.

IMG_0088_zps7a1b48e8.jpg


IMG_0089_zps4d466674.jpg


IMG_0093_zps070c9fc9.jpg



Bo aangekom tref ons 'n ongemaklike stuk kleipad aan.  Die diep spore het hard geword met gate in die spore, en nes daar wil oorgesit word derde toe dan vang jy een van daai gate, maar kan weens die walle ook nie uitswaai nie.  Een geluk darem was dit dit nie regtig nat was nie, behalwe vir 'n paar poele staande water.

Knap voor Middelpos draai ons links af op die Rooiwal-pad.  'n Ent tevore het twee skaapboere ons ingelig dat die verlate huis waar ek en ChrisL wou gaan oorslaap het, intussen afgebreek is sodat die boumateriaal elders kon aangewend word.  Nietemin is ons toe in daai rigting oppad, en met laatmiddag wat vinnig nader kom steek ons vas by 'n paar ou klipgeboutjies langs die pad.  Slaapplek vir vanaand?  Hoekom dan nou nie?  So by myself doop ek die plek sommer die "Rooiwal padkamp", maar later by die huis sou ek op 'n ou kaart opmerk dat dié deel ook bekend staan as "Knegsbank".

IMG_0099_zps2b69d8f1.jpg


IMG_0097_zps83ebb976.jpg


IMG_0096_zps496027a1.jpg



Kort voor lank kry ons 'n lenige besoeker:  'n swart windhond wat kom kennis maak met die twee indringers.  'n Stukkie droëwors later is ons ou maats en word daar skaamteloos van ChrisL se slaapsak gebruik gemaak teen die kruipende aandlug.  Die skaaptjops se bene en oortollige vet word met toe oë eenkant gekou - sekerlik nie 'n aldag lekkerte vir dié ou siel nie.

IMG_0116_zpsec6328e0.jpg


IMG_0100_zps4215c4f5.jpg


IMG_0104_zpsfa43b964.jpg


IMG_0103_zpsf0e1cb66.jpg


IMG_0106_zps68cee57f.jpg



Met die mage vol en laaste beker slaapkoffie gedrink gaan kruip ons in.  Rooiwal se swart hond wag ook nie vir 'n amptelike uitnodiging nie en stap doodsluiters saam met ChrisL by sy tent in asof hy dit nou al jare lank elke aand so doen!  Die tente en fietse is reeds sopnat gedou en ek kan voel dat die nag gaan koud word.  Ek dink terug oor die dag.  Ek het twee van my moet-doen passe gery, en wat 'n voorreg was dit nie.

IMG_0113_zpsc9f75f68.jpg
 
Top