Moerse, die DVDs moet terug dorptoe!

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Dorsland

Bachelor Dog
Joined
Apr 15, 2012
Messages
11,191
Reaction score
1,677
Location
Van Daar
Bike
Honda CRF-1000L Africa Twin
Ons kom nou al so 17 jaar sonder 'n TV klaar.  Ja, daar is lewe na TV, glo dit of nie. So elke tweede week of so dan neem ons 'n half dosyn of wat DVDs uit en dan kyk ons die flieks wat óns wil kyk.  Die enigste DVD winkel in Graaff-Reinet wat ons sal toelaat om hulle vir 'n week of wat te hou, is so 'n snaakse winkeltjie/internetkafee/goedkoop lekkergoed/faksplek en ons maggie die heel nuutste flieks uitneem nie.  Maar teen R5/DVD kan ons nie kla nie.  En daar is 'n paar oulike flieks ook, goed wat mens al van vergeet het.  Flieks met Robert Redford in voor hy nog so geplooi en gevou was.  Toe flieks nog verfilm was en nie op 'n rekenaar gemaak is nie.

Maar wag ek loop myself nou vooruit.

Dis die laaste tydtjie hier effe bedrywig gewees met die lammery maar dié is nou so oppie hond se stert.  Ek is al amper gatvol vir Boerbokke. Amper maar nie heeltemal nie.  My moermeter loop party dae so hier naby aan die rooilyn en ek voel ek moet nou bietjie gaan langpad grond ry. My 2IB herinner my gister die DVDs moes al Donderdag terug gewees het. Ha, dink ek, hier's my kans.  

Vanoggend vroeg gou die lammerkrale deurgestap en sien als is agtermekaar, die baas vannie plaas kan maar sleep.  Trek gou my ryklere aan, rol die fiets uit die motorhuis en laat waai.  Dis lekker vars, en nogal koel so voor die son uit is. Ek ry lekker rustig tot by die teerpad.  So in die ry besef ek dat ek toe die dekselse DVDs by die huis gelos het.  Maar ek ry nou te lekker om om te draai, sal hulle volgende week maar terugvat en die boetetjie betaal.  By die teerpad aangekom, trek ek maar by my gebruiklike waterafslaanstop af om gou die 2IB te bel en laat weet ek het die goed by die huis gelos.  Toe ek my valhelm afhaal hoor ek daar kom 'n bakkie met die grondpad aangery.  Ek kyk weer mooi en sien, heng! dis my 2IB wat hier aankom.  Sy mis my seker nie nou al nie.

Nee glimlag sy, sy weet ek stop altyd hier, toe bring sy maar die DVDs. Sy't gehoop sy sal my inhaal.  Ek sal haar moet inruil, sy ken my al té goed.

P9130009_zpsd018f804.jpg




Ek ry maar rustig teerpad langs tot in die dorp waar die ou DVD winkeltjie nog nie oop is nie,  maar ek sien die ou binne.  Ek klop oppie deur en gee sy flieks terug.  My plan was om sommer so grondpad van die Murraysburgpad af, Nieu-Bethesda toe te ry, daar by Tannie Idyl en Oom Niel hulle se plekkie op die dorp ietsie te eet en nonsens te gesels en dan weer plaastoe.  Ek ry uit die dorp uit, lekker rustig.  Gaan so 'n paar bergfietsryers wat die lekker lenteoggend ook geniet, verby.

Dis darem maar mooi, sulke groot wye oop vlaktes, water en berge, blou lug, stil.  

P9130011_zps1e725c1d.jpg




Dis mos hier in die rivierloop - daar waar die dam nou lê - waar die Ingelse daai jare vir Gideon Scheepers, Kaapse rebel in die Anglo-Boere Oorlog, summier tereggestel het.  Ek wonder of dit dalk so 'n vars mooi oggend soos vandag was toe hy vir die laaste keer sy geliefde land gesien het. Dis seker maar in ons Afrikaners se gene geteel:  die heimwee en hartseer wat altyd met die mooi sy verskyning maak.

Ek ry aan oor Oubergpas, sommer stadig want dis mooi en ek wil rondkyk en dit geniet.  Nog 'n klompie fietsryers trek heel links dat ek hulle kan verbygaan.  Ek bou motorfietsrysers se aandele en groet hulle beleefd.  Dis 'n oor en weer gewaaiery en dan is ek verby.  Bo op die lekker teerpas draai die Nieu-Bethesda grondpad regs uit en ek bewonder die uitsig oor die dam na Graaff-Reinet in die verte.  Nou'sit lekker!  Ek draai die 800 se oor effe, staan op in die klassieke BMW meerkat styl en glimlag sommer breedt.

Jissie ouens, dis mooi, dis lente, dis warm, dis stil dis oop dis grondpad dis vryheid.  Ek wil vir die lekker sommer vinnig ry maar ek wil stadig ry om als te sien en te geniet.  Dié potslagters het seker dié skaap geniet, die skaap en die boer nie soveel nie.  Bliksems!

P9130015_zps0be9a6a1.jpg



P9130014_zpsd1ba6e53.jpg





Die wilgers loop al mooi uit

P9130016_zps94db1110.jpg




Tipiese Karookoppies, sommer baie van hulle


P9130017_zpsd9908035.jpg





Oor 'n bult gekom, le die plaas Rietpoort voor my, sy spilpunt an't loop daar doer regs, lusern lê geilgroen onder die silwer water. Daai hoë bergpiek doer ver is Kompasberg uit 'n ander hoek gesien.

P9130018_zpsc8426ad2.jpg




Hier moet ek stop.  Ek het immers van daai goedkoop jellie babies by die DVD winkeltjie gekoop.  

P9130019_zps3daf2a0b.jpg




Dis 'n snaakse gevoel; ek wil ry want dis sommer oop, maar ek wil 'n wyle hier vertoef want dis so mooi en stil en oop.  Maar wag, ek het dit mos reeds gesê.  In elk geval, ek stap toe so 'n ent die pad op terwyl ek so peusel aan die lekkergoed.

Dog toe dit lyk soos 'n goeie plek vir 'n selfie.  Dink nie ek het dié nuwegeit al onder die knie nie.

P9130022_zps385378d9.jpg




Daar is sulke koueweer vlieswolkies wat in die lug is, maar hieronder is daar nie eens 'n grashalm wat roer nie.

P9130023_zps1e62eaf3.jpg




En toe kom Dorsland tuis op Dorsfontein.  Nou se tyd is daar darem 'n klamigheid oppie lande maar dit lyk my so in die somer kan dié plaas dors raak.   Harde plaas, ek hoop die boer het ook 'n winterplaas, anders gaan dit bars hier.  

P9130024_zps80ec5657.jpg


P9130025_zps99db02d7.jpg




Ek ry verder.  Oor 'n bult, 'n stuk sinkplaat en om 'n draai en toe is dit paradys sommer langs Dorsfontein.  Watergoud in die dorre Karoo.  Kompleet met populiere en wilgers en groenvoerlandjies langs die stroom se loop.  Ai man, dis mooi.  Sommer 4 kiekies mooi ...


P9130026_zpsde74d0e9.jpg




P9130027_zpsf3906d9d.jpg




P9130028_zps0ce1a5b3.jpg




P9130029_zps31473ce5.jpg





Soos ek ry sien ek die spuitstrale van die vliegtuie doer bo,  dit moet koud wees daar, nog nie lente by hulle tussen daai vlieswolkies nie.

P9130030_zps40ba5e61.jpg




Ek moet weer stop om dit af te neem, sommer die skaapMacDonalds ook, (dis nou die turksvylande).  Terwyl ek daar staan en kiekies neem, sien ek dié boer moes sy suipdam onlangs mooi sement en sout uitgeverf het.  Dit lyk sommer soos 'n swembad.  Ek soek die Kreepy Krauly maar ek dink die kraaie of die jakkalse het hom gevat.  

P9130031_zps95cea8cc.jpg




In elk geval, daar is nie nou tyd vir ginnegaap nie, my maag dink al hoeka my slukderm is afgesny, Oom Niel hulle se plekkie roep al hoe harder.  

Opsaal kerels!  Nieu-Bethesda toe!  

Dis die lekker van die platteland.  Daar sit ek oppie stoep en tee drink en eers stop Charl, die meulenaar/bakker op Nieu-Bethesda.  Hy vertel van sy meulkoppeling wat gebreek het en hoe hy dit laat herstel het. Hy vertel van sy growwe regte egte koringmeel, van polenta, van regte brood wat binne 'n dag oud word.  Nie soos vandag se windbrode wat na 10 dae nog vars is nie.  Dan kom sit tannie Idyl en vertel van die boek wat sy en oom Niel soggens saam lees omdat sy oë te sleg geraak het.  Sy vertel oor die tuisskool wat sy vir haar kleinkinders gee (sy is 'n oud onderwyseres), oor hoe die veld vanjaar stadig is om aan die gang te kom, oor die onenigheid onder die dorpie se mense oor een of ander kleinigheid.  

En ek het vrede in my hart oor die onbenullighede waaroor ons gesels, oor die kleindorpgeit van dit alles, oor die plat op die aarde mense wat hier woon en lewe.  Ek kan nog lank hier sit en die eenvoud daarvan saam my tee indrink.  

Maar ek het 'n hengse klomp lammers op die plaas wat my oog oor hulle benodig.  Ek ry verder.

Die Karoo se mooiste maand - Oktober - lê om die draai.  Maar nou, hier van bo-op die Sneeuberge, lyk die wêreld daar onder swart gebrand.  Hy wag nou op reën.  

P9130038_zpsc4bee107.jpg



Die natuur gee darem so 'n voorskou van hoe dit gaan lyk oor 'n paar weke van nou.  (Die ou Karoomanne moet maar help, ek leer nog die name)


Daar is kapokbos ...

P9130037_zpsfcd24334.jpg





... gousblomme...

P9130035_zps9de3c6fc.jpg






... bloublommetjies...

P9130036_zpsef6fe8b4.jpg




.... Jakkalsblom ...

P9130034_zpsb62cf584.jpg





... kankerbos...

P9130033_zps5c2ee11c.jpg
,



januariebos...

P9130040_zps35260f5f.jpg




Hulle beginne nou net hulle pragtige lenteklere aantrek.  Dis nie nou lank nie dan lyk ons wêreld soos 'n paradys.  

Ai, dis maar 'n beslommernis om die DVDs terug te neem.  


 
Top