Hier by Makuti draai mens links af na Kariba, die dorpie en natuurlik ook die Kariba meer. Die paadjie loop baie kronkelend, en deur die berge tot in Kariba.
In Kariba moes ons eers geld trek en dit dan weer ruil vir Zambië kwatchas voor ons oor die grens kon gaan. Die enigste bank in Kariba kon nie ons kaarte gebruik nie, en die enigste auto teller was buite werking. En ons moes brandstof ingooi! Dit het redelik baie tyd gevat en ek het begin bekommerd raak, want Lusaka is nog 200km verder. Gelukkig het ek rande by my gehad as noodgeld, en het dit by 'n ruiler geruil vir kwatchas.
As julle mooi kyk op die fotos, sal julle sien dat Stoffies mismoedig was teen die tyd. Maar alles kom uiteindelik reg, en woerts is ons deur die Zim grenspos. In 2011 is ek en Stoffies 2 ure opgehou by die Zim kant, en nou was dit vining.
Mmmmmm, nie so by die Zambie kant nie. Net ons drie bikes, 2,5ure. Teen daai tyd was my moermeter baie rooi, en toe ek vir die beampte sê ons moet nog Lusaka toe ry, antwoord hy "Julle het mos ligte. Maak dit deel van julle avontuur!"

Stoffies moes net mooi kalmeer.
Ons is uiteindelik 17:12 weg by die grenspos en het geweet hier kom 'n ding.