Johan het op 'n stadium ons almal bymekaar geroep en gesê daar is een van die mans wat ons 'n aanbod wil maak. Hulle wou ons op 'n daguitstappie neem die volgende oggend na 'n eiland toe, en terwyl ons snorkel duik, maak hulle vir ons middagete op die eiland. Nadat ons geëet het, gaan voer hulle die visarende en dan maak hulle die aand vir ons tradisionele aandete op die strand. Alles ingesluit, R400 per kop. Ons het dadelik geboek en met die vooruitsigte van more, in die water rondgespeel soos kinders.
Stoffies het so oor die water getuur, en toe ek haar vra wat sy dink, het sy gevra of ek dink die kinders sal kwaad wees as ons nie teruggaan RSA toe nie? Sy sou graag hier wou bly! Moet sê die gedagte was aanloklik, hoor!
Ons was besig om van die mense se krale en klere ens te kyk wat hulle so op die sement slipways oopgooi, toe Stoffies op die slipway in die waterkant gly en op haar gewrig val, met haar kop onder die water in. Toe ek omdraai om haar op te help, trap ek ook daar en val ook half in die water in op my rug. Nou ja, vergete is die inkopies en gelukkig het ek nie seergekry nie, maar Stoffies se regter gewrig was moertoe geswel. Ek het dadelik gedink dis af. Sy het onmiddelik in skok gegaan en ek het haar gou lodge toe gevat en in 'n bad warm water laat lê. Pyn pille ingejaag, haar gewrig met deep heat gesmeer en styf met rekverband verbind. Ek was erg bekommerd, en so ook die ander.
Gelukkig is sy 'n yster, so hard soos diamant, maar baie meer waardevol. Sy het die aand saam ons verder gekuier en was gemaklik, maar met 'n gewrig wat pyn soos 'n tandpyn.
Ons het sommer aandete by die lodge bestel en ounag die maan oor ons sien opkom, koffie gedrink en dankie gesê vir die lekker wat ons kan geniet, en dis alles genade.
Einde dag 7. Totale afstand ongeveer 265km.