'n Verrassing wag op Conway

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Dorsland

Bachelor Dog
Joined
Apr 15, 2012
Messages
11,191
Reaction score
1,677
Location
Van Daar
Bike
Honda CRF-1000L Africa Twin
Toe die honde my 04h00 vanoggend wakkerblaf nadat hulle die 2IB se kat in die tuin gewaar het, kon ek nie weer slaap nie.  Dis lekker koel buite op die stoep en ek drink sommer my oggend teetjie daar. Toe kry ek net daar en dan hond se gedagtes en steek Basecamp aan die brand.  

Hmmm, janee, so 'n vinnige kopskoonmaker Grassridgedam se kant toe kan nogal werk.  Dis nie hoe lank nie en ek het die drie "S"e agter die rug, my ATGATT aangetrek en ek is oppad.

Nouja, moenie te gemaklik raak nie, hierdie RR is té kort vir 'n pouse.  Sommer so 'n paar kiekies en 'n spatsel vertellinge hier en daar.  Geniet hom...

My kop is bietjie op 'n ander plek toe ek daar weg is en ek stop nie vir te veel fotos nie.  Ek geniet sommer die lekker koelte en bewolkgeit toe ek Wapadsbergpas oor is, was erg mistig op die kruin.  Maar dis vir my lekker omdat dit op die plaas so kwaai warm en droog is.  Toe ek die N10 tussen Cradock en Middelburg oorsteek en by die Visrivier onderkant die Grassridgedam uitkom, toe is die gesig van soveel water vir my te veel en ek moet vir die eerste kiekie stop  ;D



P1040035_zps75919dc2.jpg




So 'n bietjie ingenieursvernuf en 'n paar ton beton kan darem die wêreld se verskil in 'n dorre streek maak.  Dis nou Oranjerivierwater wat hier onder my voete dreun en besproeïingsboere breed laat glimlag.  Net agter my is spilpunte - die grootste wat ek gesien het is 'n 8-toring - wat voersorgum en weilusern natmaak vir 'n groot melkery.  Skaars 3km verder is dit weer harde dorre Karooveld.


P1040039_zps6c7f9ba9.jpg




Ek ry verder om my draai by die Grassridgedam te gaan maak.  Regs van my ry ek al langs 'n wildheining waar daar kortkort bordjies wat teen roofdiere (met tekeninge van leeus) waarsku, hang.  Ek dog toe, "ja, OK".  Dis nog een van die Sjinese Tams familie van Cradock se wildsplase.  Lekker wild gekyk so in die verbyry.  Waaragtig hoor ek later op Conway, daar is sowaar leeus agter daai heining!

Ek ry by die Grassridgedam in en wil tot bo-op die wal kom.  Ongelukkig keer hierdie laagwaterbruggie my.  Ek is alleen en daai water lyk gans en al te sterk na my sin.  Buitendien het ek my swembroek by die huis gelos.



P1040040_zps30ed53c5.jpg



P1040045_zpsa98668db.jpg



P1040046_zps5c26a749.jpg



Die son het intussen kop uitgesteek en dis nogal warm.  Hier langs die wallevol rivier is dit lekker koel en ek drentel bietjie onder die groot wilger- en soetdoringbome rond.  Ek speel bietjie met die kamera ...


P1040048_zps1c66dce0.jpg



P1040043_zps49cee614.jpg




Ek is vroeg by die huis weg sonder om padkos te vat en nou beginne my maag my laat weet dis tyd.  Ek saal maar weer op en kies koers via Conway, Middelburg se kant toe om daar iets te gaan nuttig.  Net toe ek die dam se terrein wil uitry, sien ek so 'n skelm padjie wat hier links voor my uitdraai.  Nou ja, wat van 'n "adventure biker" sal ek nou wees as ek nie so 'n skelm padtjie gaan ondersoek nie.   ;)


Die tweespoor loop steil, klipperig en weggespoel tot bo-op 'n hoogte vanwaar ek die mooiste uitsig oor die veld, die Grassridgedam en sy wal het.


P1040053_zps7670c02b.jpg



P1040052_zps3a4cd1ea.jpg



Nie 'n papswaaier in sig nie  >:D



Maar nou raak ek erg honger, en Middelburg lê aan die voet van daai verste berg nog so 70km ver.   Dis 'n lekker oop pad wat nie te lank terug mooi oorgebou is.  Ek ry rustig want hier het goeie reëns geval, die gras op die skouers is lank en kort kort laat spaander 'n steenbokkie of duikertjie hier voor my.

Ek het geen groot verwagtinge vir Conway nie, dis maar soos al die ander klein plekkies in ons mooi land wat stadigaan besig is om in die moeras van Afrika te verdwyn.  Lyk my hier was 'n kwaai storm hier deur want omtrent al die groot ou dennebome is heel uit hul skoene gewaai.  Dié wat nie omgewaai is nie, word voor die voet afgesaag en hout gemaak.



Dié ou grote het netnet dié huis se kleinhuisie gemis.  Ek hoor die oom se hardlywigheid is so te sê genees  :imaposer:


P1040054_zps754261ad.jpg




Ek ry stadig die plekkie in, en wil net die spoorlynkruising oorsteek toe vang iets my oog.  Wat wapper 'n mooi skoon, netjiese Union Jeck daar vlak voor die stasie?


P1040056_zpsaa0db4c7.jpg




Ek draai om en gaan loer.  



Kyk, van ondernemersgees kan jy sommige mense niks vertel nie.  Hier by die bitter netjiese Grootte Valleij Gastehuis, blink soos 'n nuwe sikspens, ontmoet ek toe vir Sheldyn, sy vrou en sy ma wat dié stukkie van ons land weer op die regte spoor kry.   Kerels kyk, die mense woel en werskaf dat die stof op hulle staan.  Sheldyn het die groot perseel met 'n handvol bouvallige geboue vir R60 000 by die eienaar van die ou skoenfabriek gekoop en nou word dit in ere herstel en opgeknap.


P1040058_zps54adfaff.jpg




P1040059_zps83fab20b.jpg




Sommer hier vlak oorkant die stasie:


P1040055_zps45320236.jpg




Hy is oorspronklik van 'n plaas buite Conway waar sy pa-hulle nog boer, maar hy is nou 'n elektriese ingenieur in die Baai.    Hy het groot planne - wat hy reeds in werking gestel het - om sommer die hele dorp op te knap.  Soos hy sê: as dinge in die dorp verval, dan bou jy sommer jou eie dorp!". Hy het planne vir die goedereloods op die stasie, en vir die ou skoenfabriek, en vir die skool, en die ander geboue wat hy reeds begin restoureer het.  Sy geesdrif is aansteeklik en ek wil eers gaan loer hoe lyk hulle handewerk tot dusver.

Gaan loer bietjie hulle webblad:  https://www.gvguestlodge.co.za/


Na hy my alles gewys het, toe is ek eers honger en besluit ek sommer opslag om daar ontbyt te eet.  Ja, 'n regte egte plaasontbyt.  En dit vir R35!  :eek:   :eek7: :drif:  


P1040057_zpsa182c1a8.jpg




Selfs hulle kamers, ontbyt ingesluit, is slegs R220.   Ouens, as julle in dié omgewing is, kan julle gerus hier kom inval, dis waaragtig die moeite werd.   Maar wees bereid om sommer lank te gesels en te kuier.

Nadat ek - onbepland - sommer lang lekker stukke gesels en my vol geëet het moes ek weer die pad vat.  Maar gelukkig is dit mooi en oop en skoon terug plaas toe.  


Maar ek gaan terug, en volgende keer vat ek my 2IB saam want die beste is dis nie eens 100km van my af nie  :thumleft:   O ja, en ek vat my Vierkleur saam dat die Ingelse darem nie té gemaklik raak nie  :biggrin:
 
Top