Die hont is los!

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Dorsland

Bachelor Dog
Joined
Apr 15, 2012
Messages
11,191
Reaction score
1,677
Location
Van Daar
Bike
Honda CRF-1000L Africa Twin
P2280081_zpsrforxzb8.jpg



Dié hont is ook vir die dag los.
Bordtjie op 'n hek op Nieu-Bethesda




Nou ja, dis maandeinde, my mense is almal dorp toe tot Dinsdag en ek het 'n naweek vir myself.  Gister trek ek die fiets uit die waenhuis, ek gaan ry.

Kry maar 'n klein beker koffie as jy wil saamlees, dis nie 'n lang ene dié nie, sommer net so 'n oggendrit om Kompasberg en oor die droë vlaktes.  Ek gaan sommer laat die kiekies praat.


My eerste besienswaardigheid was dié "dooie" liggaam wat sommer so in die middel van die pad gelê het, tussen erens en nerens, té moeg om by die huis te kom.  Gelukkig is hulle nou in beheer van die land en kan sy stem vir 'n beter lewe.  Viva viva!

Ek het julle gewaarsku dis maandeinde  ;D

P2280078_zps5ufrthrd.jpg





Hierdie mooi ou huisie op Nieu-Bethesda se stoep kreun behoorlik van die pampoene.  Hulle hou mos een of ander tyd hulle Pamplooza Fees daar met 'n kompetisie vir die grootste pampoene, pampoendisse wat by alle eetplekkies voorgesit word, 'n Juffrou Pamplooza en wat nog.

P2280083_zpszxhj6hif.jpg





Die Sneeuberge het nie verniet sy naam gekry nie, hier word dit hondkoud in die winter.  Alhoewel die vee gewoonlik na die vlaktekampe toe gebring word in die winter, is dit daar ook koud maar darem nie so koud so bo in die berge nie.  Dis net sekere bees wat hier sal aard.  Ngunis is baie gewild as gevolg van hulle gehardheid, hulle is lig op die veld en Jakkals se kind bang hom.

Die mooi kleurvolle Nguni hou haar pose.

P2280089_zps7cbmsc6b.jpg






Hier bo in die berge het die seisoen reeds begin draai en die Lombardy populiere kondig dit met hulle pragtige herfskleure aan.  Soos wat die seisoen aanbeweeg, verander die blare van kleur en word hulle op 'n stadium so 'n pragtige roesbruin/oranje.  Dis te pragtig.


P2280092_zpsxh1zdzg6.jpg







Die kiekie hoort ook op Selfie se fred:  https://wilddog.net.za/forum/index.php?topic=168269.0.  Ek wonder altyd oor die vroeë pioniers, wat 'n afgesonderde bestaan hulle gevoer het, met soveel ontberinge en uitdagings.  Hulle was beslis van beter stofasie as die huidige generasies gebou.  Daar is altyd vir my heimwee, hartseer en bewondering in sulke tonele.


P2280093_zps5jsty8pw.jpg






Kompasberg is 'n welbekende gesig in dié omgewing.  Buiten die Drakensberg se pieke, is dit, op 2504 m, die hoogste punt in Suid-Afrika.  Mens sien hom reeds van ver af.   Ook van die tweespoor waarop ek gister gery het.  Daar is 'n padtjie wat nader aan hom kom, dit gaan ek beslis op 'n ander geleentheid kom ry.

Die plantegroei is anders hier as laer af (natuurlik).  Sommer so fynbosserig en ruik te lekker.  Kees het my kwaai uitgejou toe ek vir dié kiekie stop.



P2280095_zpsasabr7l6.jpg







Alhoewel daar hier en daar nog bergstroompies is wat flouerig loop, is dit droog, selfs hier hoog in die berge.  Die damme is almal dolleeg en die veld het nie volume nie, ons praat van 'n groen droogte.  Die winter wat voorlê gaan 'n riller wees.


P2280091_zpsa9ribert.jpg




Hier waar ek op die vlaktes gekom het op die Richmond/Middelburgpad, het dit Vrydagnag darem so 5mm gereën volgens 'n boer wat ek by sy padhek gekry het.  Hier vlak langs die pad is dit groen maar verder die veld in, lyk dit soos winterveld.


P2280097_zpsptk8llwn.jpg



P2280098_zps4fcmeuvp.jpg







En toe, oppad huistoe, bou die wolke sommer so vinnig oor die Sneeuberge op en dit beginne dreun.  Ek stop toe in die bui se pad om weer daai heerlike reuk van klam grond te kan ruik.  Ek kry mos lekker tot in my kiewe as 'n donderstorm so sy opmars maak.  Maar dis 'n snaakse weerjaar hierdie; baie gedreun en so 'n klompie groot druppels geval maar die deurdringende reën wat ons nou so bitter nodig het, bly weg.

(jammer vir die swak kwalitiet kiekies.  Ek het die panorama funksie van my kamera ontdek en my onbekwaamheid, tesame met die wind wat kwaai gewaai het, het powere resultate opgelewer).


P2280105_zpsb2i0z2rj.jpg



P2280108_zpsaugbfivm.jpg



P2280111_zpsqpembbs7.jpg







En dan laastens, sommer omdat ek bly is ek het toe nie my 800 vir 'n 1150 Adventure verkoop nie, 'n kiekie van my blinkvosperd.



P2280107_zps62uj0foy.jpg
 
Top