PAPPA AREND HET ONS DAG GEMAAK

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Vis Arend

Bachelor Dog
Joined
Nov 14, 2010
Messages
11,802
Reaction score
2,005
Location
King William's Town
Bike
Honda CRF-250 Rally
Ek was so bietjie lank laas hier op die forum.  Die afgelope 3 maande of wat was so bietjie rof. 
My ouers wie in Jeffreys bly het redelik baie van ons aandag geverg.  My ma het so 11 maande terug baie agteruit gegaan.  Sy het gesukkel om te loop en was ‘n geruime tyd al feitlik blind gewees.  Sy was  gediagnoseer met demensia.  Intussen het my pa sy bes gedoen om haar na die beste van sy vermoee te versorg, maar hy is selwers in die tagtigs en is ook blind in die regter oog en het beperkte sig met sy linkeroog.  Ten spite hiervan het hy nogsteeds my ma goed versorg.  Hy moes wel op ‘n latere stadium gebruik maak van “carers” deur die dag om na my ma om te sien.  Sy takies het net te veel geraak vir hom en hy kon nie orals bykom nie.  My ma was intussen so paar keer hospital toe gejaag en dan moes ons noodgedwonge in die kar spring en gaan help met vervoer ens.  (My pa het sy voertuig lisensie verloor deur sy swak sig).

Ons het gesien dit raak te veel vir my pa en gesoek vir “frail care” vir my ma.  Oral in Jeffreys was daar ‘n waglys.  Ons het plek vir haar gekry in Stutterheim, so 40km van ons hier in King William’s Town.  Haar suster bly ook op die perseel, so sy sou nie alleen wees nie.  Ons het die voorstel aan my pa gemaak dat hy by ons kom intrek en dan kan ma 24 uur versorging kry.  Hy het nog so week uitgehou en toe ons aanbod aanvaar.  Ons het gereel vir ‘n ambulaans vir my ma se vervoer na Stutterheim en haar deurgebring.  Sy was egter in die stadium baie swak en ek het gesien die einde was naby.  Dit was dan ook so, sy is twee dae na die skuif oorlede.  Alhoewel ons dit verwag het, was dit nog steeds baie hartseer.  My pa het dit die ergste gevat, hy het sy lewensmaat van meer as 65 jaar verloor en skielik was hy alleen.

Na ons moeder se afsterwe was ons besig gehou.  Ons het die begrafnis gereel, ‘n huis vol mense gehad van sover as Namibia en Nigeria.  Na die begrafnis het ons gereel vir my pa se trek vanaf Jeffreys na King.  Intussen het ons vir hom ‘n kamer reggemaak en gemebuleer volgens sy smaak.  Ons het vir hom sy eie stort en badkamer ingesit.  Soos baie van julle weet is die admin werk na iemand se dood opsigself ‘n taai affêre.  Maar ons is daardeur en dinge het begin afskaal.

Intussen jeuk ek en Nannie se gatte al lankal om so ent met die bike te ry, maar nou wil ons nie sommer noual die ouman so op sy eie los en die pad vat nie, ons sal dit so stelselmatig inwerk.  Ek maak so grapsgewys ‘n opmerking dat pa ‘n draai saam met ons moet ry in die sidekar.  Tot my verbasing en ewe rustig vertel hy dis goed so.   :imaposer:
Nou ja, tot op die ouderdom van 83 het my pa nog nooit op ‘n motorfiets gery nie, weet nie eens mooi wat ‘n helmet is nie.  Maar smaak my hy het lus vir die storie.

Ons besluit om nie te ver te ry nie, ons sal maar net tot by Thomas Rivier, so 60km van ons ry, daar ‘n brekkie vat en rustig terug ry. 
Die vorige aand laat ons die ouman die helmet aanpas en wys bietjie hoe hy vas en loskom.  Dit sukkel maar, maar hy sê hy kom reg.  Ek doop hom sommer Pappa Arend.   :biggrin:   Van ander ATGATT is daar niks te sprake nie.  Hy loop al ek weet nie hoeveel jaar met plakkies.  Ek dink sedert hy met pensioen is.  Hy glo nie in skoene nie.  Hy dra die net kerk toe en dan sukkel hy ook nog vir daai uur of wat.    :eek:

Saterdagoggend kom en ek sien hy is so bietjie kriewerrig en hy maak baie keel skoon maar sê niks.   :patch:
Ons is reg vir ry en helmet word geplant.  Die helmet druk die ouman se wange so bietjie en hy kla sy valstande wil uitval.  Hy haal hulle uit en herrangskik hulle weer in sy mond en hy is tevrede.   :thumleft:

Hier trek ons uit die jaart, kyk hoe trek hy sy mond.




Toe ons hier wegtrek, sien ek hy “vicegrip sy kniee met sy hande, daars niks anners om aan te houvas nie.  Ek vat dit maar stadig.

So entjie uit sien ek hy beginne darem rondkyk. 



Vra later of als OK is en ek kry die thumbs up.     :thumleft:



Ons ry nie te vêr nie en maak ‘n vinnige stop om te kyk of als nog reg is.  Ek help nog so bietjie met die helmet goete.




Pappa Arend en Visarend. 




Jis man, ek is darem trots op die ouman.  Woorde kan nie beskryf wat hy als vir ons kinders en vir sy vrou beteken en gedoen het nie. 


 
Top