Carnet's, Olifante en Wind

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

FrancoisTz

Race Dog
Joined
Feb 13, 2014
Messages
1,144
Reaction score
55
Location
Johannesburg
Bike
BMW (all models)
Carnet’s maak die lewe maklik wanneer jy voertuie buite Suid Afrika aanhou vir lang tydperke en ook soms oor die verskillende grense heen reis, maar ongelukkig hou hulle nie onbepaald nie en ten minste een keer per jaar moet jy uit met die voertuie om vars stempels te kry op die grens. Ons het al ʼn slag met ʼn vars Carnet, sonder die betrokke motorfiets, deur die grens gekom, die manne raak egter al hoe skerper en is dit nie meer so eenvoudig om ʼn voertuig wettig die land in te smokkel nie, hopelik help dit ook dat daar nie so maklik gesteelde voertuie oor die grense heen gesmokkel kan word nie.

Die Land Rover en een motorfiets se Carnet’s was by verstryk tyd en hulle moes uit. Ons repatrieer eersdaags, tydelik, terug na Suid Afrika dus was hernuwing van die Carnet’s nie ʼn redelike opsie nie en moes die twee voertuie Suid Afrika toe om deur Immigrasie bevestig te word. Ek het lanklaas oop pad met die 1200 gery dus gebruik ek die geleentheid om te ry eerder as die fiets op die sleepwa te laai. Natasha was nie te dik van die lag hieroor nie maar sy is aanpasbaar, en om een of ander onverklaarbare rede lief vir my, of moontlik lankal moeg vir my hardkoppigheid, dus laat sy my maar om te maak soos ek wil.

Woensdag, 14 September 2016, is ons hier met die agterpad uit Maputo uit SA toe, Natasha in die Land Rover en ek met die 1200.

ʼn Vriendin van ons het goedgunstiglik toegestem dat ons die motorfiets by die Kruger Wildtuin se Malelane hek mag  laat, sy werk vir die Park en het ʼn kantoor net buite die hek. So gesê, so gedaan. By die grens gekom is die Moz kant weer so vinnig dat jy nie geleentheid kry om asem te skep nie en aan die SA kant verduidelik ons toe die proses om hierdie voertuie terug te boek in SA in. Ongelooflik hoe mense, wie se saai daaglikse bestaan die repatriasie van voertuie insluit, absoluut geskok is oor die versoek, dit is so verstommend dat jy sal sweer jy vra hulle om te werk. Deur hierdie episode, sonder om enigeen liggies te verwurg, is ons toe aan Malelane toe.

Die pad na Malelane hek loop eers oor die Krokodilrivier en dan draai jy skerp regs na die kantoor toe voor jy by die valhek kom wat die Park binnegaan. Die diere weet egter nie dat die Park eers by die valhek begin nie dus loop hulle waar hulle wil, en so beland ek bykans onder ʼn Olifant, in der waarheid ʼn aantal Olifante. Ons het die verkeerde grondpad geneem en toe Natasha wil omdraai is ek reeds by haar en probeer ook omdraai behalwe dat daar nou Olifante is, ʼn klomp. Gelukkig skrik Natasha nie vir die kleiner soogdiere soos bv. Olifante nie, en sy is goed bekend met hulle gedrag, en druk toe maar die Land Rover tussen die Olifante en myself in sodat ek ongedeerd met die fiets kan omdraai. Was vir my verstommend dat sy haar geliefde Land Rover hoegenaamd in gevaar stel, van enige skade, om my vel te red. Gelukkig het die Vriendin slegs die humor in die situasie gesien en kon die fiets veilig parkeer, met die versekering hulle sal die hek toe hou sodat die Olifante nie die fiets beskadig nie. Seker gerusstellend om te weet diewe is geen probleem nie, hou net die ongediertes weg dan is jou eiendom veilig. En watter tipe hek keer nou weer ʼn Olifant?

Sondag is ons op pad terug en dit is vrek koud met die wind wat stormsterkte waai, voel kompleet of die Suidooster sommer net aangehou het met waai en homself nou op die Laeveldse vlakte bevind pleks van in Slaapstad. Met die Land Rover was dit nie so erg nie maar die motorfiets was natuurlik ʼn heel ander ondervinding. Ek lê teen ongeveer 60 grade, nee seker tien maar voel soos sestig, teen die wind in om reguit te kan ry. Wanneer jy regs draai raak dit nog meer pret want dan moet jy soos ʼn wafferse renjaer half van die sitplek afklim en die fiets in die draai intrek, links draai is maklik, jy beur effe minder teen die wind in en die fiets draai, lig soos ʼn veertjie. Seker op dié punt wat die Kapenaars lekker lag oor die Bosvelder wat maak asof wind ʼn faktor is.

Die trokke van voor skep ʼn totaal nuwe belewenis, ek kyk na die aankomende trok en probeer bepaal wat se invloed die profiel van die trok op die rukwind sal hê en was ongeveer 100% van die gevalle verkeerd, die wind ruk en pluk aan jou en ʼn verbete geveg volg om op die pad te bly. Gelukkig reën dit ook so plek-plek en die temperatuur is 17.5ºC, anders sou dit mos niks lekker gewees het nie.

Ons haal desnieteenstaande die huis ongedeerd en kon lekker ontspan met goeie kos en koue whiskey. Hoop almal wat op die pad was met die wind en reën kan dieselfde sê.
 
Top