Willem Prinsloo se Bike Petrol

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Sprinkaan

Puppy
Joined
Sep 23, 2013
Messages
33
Reaction score
0
Location
Woodmead
Bike
KTM 1290 Adventure R
Dis weer tyd vir n twee-wiel avontuur en ek besluit om vir my kompanie samajoor, Jan Eloff, in Vryburg te gaan kuier. Ek stuur oproepinstruksies uit en drie van my biker-pelle en die een se seun bevestig dat hulle saam gaan ry. Ons beplan om dan sommer oppad terug deur Groot Marico te ry want ek wou nog altyd sien hoe hierdie plekkie van Herman Charles Bosman en sy “Oom Schalk Louwrens” stories lyk.
Wes-Transvaal is nou nie juis op die bokant van die lys as dit by grondpad motorfiets toere kom nie. Die bosveld raak al yler soos mens Wes beweeg van Johannesburg en die terrein word sanderig. Ons ry verby Carletonville en oppad Potch toe draai ons af op n grondpad, Rysmierbult se kant toe. Ons ry Potchefstroom heeltemal mis en stop in Klerksdorp vir middagete.
Van Klerksdorp af verder Wes is dit die eerste keer wat ek in hierdie die geweste kom. Ons ry verby vaal dorpies soos Sannieshof. Baie stof en min bome. Groot mielielande wat op die horizon wegraak lê weerskante van ons, klaar omgeploeg, en wag vir die reen. Alan se Suzuki DR650 gaan staan teen laat middag en ons kry nie die fout nie. Ons vermoed dis elektries… Nie die eerste keer nie. Die fiets het dit al voorheen gedoen. Alan het gelukkig n hele gereedskapskas wat hy altyd saamdra. Hy glo daaraan om altyd voorbereid te wees op ENIGE situasie. Dis ook hoekom hy altyd n noodhulpsak so groot soos n tuinkruiwa op sy rug het. Ek het al eenkeer iets in daai sak gesoek en dit was nag, want om daai sak oop te maak is soos om n tent vir die eerste keer uit sy sak te haal. Nadat jy die ding afgeslaan het en opgevou het, wil dit nie weer terug in die dêm sak nie. Net so met Alan se noodhulpsak. Ek haal een flipping Disprin uit en nou wil die ding nie toe nie. Alan se gereedskapskas het als in, behalwe n multimeter om elektriese foutopsporing te kan doen. n Plaasboer met sy Toyota so onder sy arm vasgeknyp hou stil en bied aan om te help. Hy laat weet sy voorman en sommer baie vinnig kom nog n Toyota bakkie oor die stofpad aangery. Groot John Deere plakker teen die agter-ruit. Die kerel spring flink uit, geklee in khaki… als is khaki, hemp, kortbroek, kouse… Paar bruin grasshoppers aan die voete is al skuins getrap van in mielielandvore loop. Hy haal sy toetsmetertjie uit en hulle begin in die Suzuki se bedrading krap. (Hierdie boere is voorbereid vir als, dink ek). Kry niks nie. Die son trek water en dis nog honderd en sestig kilometer tot by Jan Eloff… en ek wil nie die man laat wag nie. Ek kan onthou van ons weemagsdae dat hy nie hou van wag nie…. Die voorman laai die wit fiets agter op die bakkie en hulle vat pad plaas toe. Ek en Swannas wag by die plaashek want die sand in die afrit is diep genoeg om aartappels te plant en ons is nie lus om met ons groot twaalf-honderds nou hierdeur te sukkel nie. Ons beplan nog so hoe ons nou gaan maak met Alan wat nie langer n fiets het nie toe ons sien hoe Alan en sy seun langs mekaar teruggery kom deur die dik sand. “Fuse was blown”, antwoord die twee souties ons toe hulle die vraagtekens op ons gesigte sien.
Ons kom laat in die aand in Vryburg en Samajoor Jan Eloff wag ons in. Ek dink by myself: “As hy my nou jaag om n blaar te gaan pluk, rand ek hom met n tyre-lever aan” Hy groet vriendelik. Ek’s verlig om te sien hoe bly hy is om ons te sien. Ons gaan na sy huis waar hy ons behoorlik bederf met n braai. Sy vrou het omtrent tekere gegaan met bykosse, slaaie en brood. Ons eet soos konings en my pelle kan nie glo dat ek sulke gawe mense ken nie. Ek is self nogal aangenaam verras om te sien hoe gasvry Jan en sy vrou is. Hy was nooit so in die army nie… Ons eet murgbene wat hy op die kole gebraai het en laat die aand gaan ons terug gastehuis toe met gesigte wat blink in die maanskyn van beesmurg.
Dit was n lang dag en ons maak reg om te gaan slaap. Ek let die volgende op:
Die KTM ouens, ek en Pierre (Wie se eerste adventure ride dit is) haal sulke verrimpelde tandpasta buisies uit (lyk of die goed  senuweeineenstortings gehad het) en borsel ons tande met tandeborsels wat op hulle laaste bene is, die hare al so ver ombebuig dat dit in mens se neus indruk as jy jou voortande kam. Die BMW ou (Swannas), het n elektriese tandeborsel, en die Suzuki ou kry nie tyd om tande te borsel nie want hy moet aan sy fiets werk.
Die volgende oggend vat ons pad Groot Marico toe. Oppad stamp Pierre n duik in sy “tubeless” voor-rim en die voorwiel word pap. Ons draai om en gaan soek hom. Kry hom waar hy al reeds die voorwiel uit het. “Sit n tube in” sê ek. Pierre kyk my snaaks aan: “Where will I find one now sir?” vra hy. Ek kan nie glo dat hy nie n binneband saamgebring het nie. Ek “lecture” hom nou al onophoudelik vir drie maande oor “Adventure Riding” en “KTM issues”.
Ons spandeer n lang tyd om Pierre weer aan die ry te kry en vat die kortste roete Groot Marico toe, deur n asemrowende mooi grondpad pas. Die pas spoeg ons in die dorp se hoofstraat uit en ek wat voor ry omdat ek die GPS het, spring gou by die bottelstoor in vir n paar biere terwyl ek vir die res wag. Alan kom heel laaste die dorp in, op “Stealth mode” want sy bike het weer gevrek en hy “free” die dorpie geluidloos in….soos n spook. Weer n elektriese probleem. Sy seun, Cullem, swets en die twee van hulle stry wie gaan agterop die GS terug ry Johannesburg toe want een ding is seker, die Suzuki gaan nerens nie.
Na n lang dag pak ons by die kroeg af vir aandete en n keel-natmakertjie. Die kroegeienaar gee vir ons mampoer shooters. Ek raak normaalweg nie aan die goed nie, maar siende dat ons nou in GM is, en dat daar na al die jare nog steeds van “Willem Prinsloo’s peach brandy” gepraat word, laat begewe ek my maar. Ons drink nie net een shooter nie, ons drink omtrent n shooter vir elke Schalk Louwrens storie wat ons ken. “Under the Withaak’s shade”, “Starlight in the veld”, “Makapan’s Caves”, “The Marico Marathon”, “Cold Stone Jug”… Ek begin al moeiliker praat, my tong sleep swaar oor my ondertande en is omtrent so n woord-en-n-half agter my verstand… Pierre is op die kroegtoonbank en “serenade” die Beatles se “Hey Jude” vir n geirriteerde tannie in n bloes gevlek met tamatiesous wat se “muscle”s slap aan haar onder-arms hang. Ek probeer saamsing maar dis vir my nou baie moeilik om twee dinge tegelyk te doen, soos sing, en drink. Uiteindelik klim Pierre van die toonbank af, haak by my in en saam strompel ons deur toe, al swaaiende, met Swannas wat voor ons uitloop om die publiek te beskerm. Ons loop wankelend agter Swannas aan, wat ons op sy BMW begelei, terwyl ons Beatles songs wat vol spelfoute is, sing. So nou en dan trek Swannas die fiets se rem sodat die groot rooi lig darm die pad in die donker effens verhelder. Pierre stop skielik en ek loop so n halfmaan om hom om nie om te wetter nie. “You know sir… We’re following a red light for all the wrong reasons now…” merk hy op.
Ek kom moeg by my kamer aan en sukkel n halfuur om my stewels uit te kry. Los moddermerke teen die mure en plafon in die proses. In die middenagtelike ure  word ek wakker van die dors en strompel struikelend badkamer toe, net om agter te kom dat my linker stewel nog steeds desperaat aan my enkel vasklou. Ek trap die skoen skoon skeef, amper nes daai mielieland grashoppers. My kop draai woes en ek spartel met die warmwater kraan… kouewater kraan….enige kraan wat tog net sal oopmaak sodat ek my tong wat soos Velcro aan my verhemelte vasklou, net los kan kry. Die water aktiveer weer die mampoer en ek’s kas toe vir die tweede keer daai aand.
Die sooibrand maak my wakker en ek eet koeksoda met n eetlepel en bloedbelope oë. Ek breuk n wind op en n muskiet sterf in mid-air.
Terwyl ons ontbyt eet en vir Alan wag, maak ek die volgende waarneming:
KTM ouens raak getrek
BMW ouens maak videos van getrekte KTM ouens
En Suzuki ouens bly nugter omdat hulle nie kan drink nie want hulle moet bikes regmaak.
 
Top