Op ʼn stadium verneuk wederhelfte hom so bietjie met sy spoed, plus met sy nuwe hoër skerm waarin sy handelbar weerkaats sukkel die ou so bietjie om te sien en die GS vang ʼn sandwal in ʼn draai, en soos ons almal mos weet, GS staan juis vir geen sand. Nou die van julle wat al baie hard geval het, jy sien mos in daai oomblik voor jy val presies hoe die val gaan verloop. Alles is mos so half in slow motion. Dis wat ek gesien het. Ek sien presies hoe ek gaan trek, ek weet presies watter skouer eerste waar grond en klip gaan tref, ek voel die pyn in my arm en nek en ek hoor hoe my GP vir my vertel wat alles gebreek is, ek sien die gesprek met ons bankbestuurder om die skade aan die fiets te herstel, want in die dorre Karoo tussen rooi ysterklip val mens en fiets hard. Met genade van bo en wederhelf se vernuf bly die fiets regop en ons 2 bo op. Ek dink die feit dat ons Kerk toe was het baie daarmee temake gehad. Maar wat my erflating betref, kom ons sê maar net gelukkig het my kinders en naastes nie gehoor wat ek alles gesê het nie. Ek druk dadelik my comms aan om met wederhelf te praat en te vra wat der aarde het hy nou gemaak, maar ek kry niks uit nie want ek is skoon naar geskrik. Wederhelfte vra nog of ek ok. is maar niks. Ek het maar in my stilte ons Skepper bedank vir sy beskermende hand en ook groot om verskoning gevra vir my taalgebruik. Later toe ons stilhou vra wederhelf weer of ek ok. is, ek seg “ja, maar ry maar bietjie stadiger groot asb. want my senuwees gaan dit nie hou nie”. Ek verneem by wederhelf dat hy self bietjie naar geskrik was.
Nadat ons koeldrank gedrink het, vat ons weer die pad. Die slag darem klein bietjie stadiger. Net voor Rammelhoek pas kry 1 van die verlore boeties ʼn klip steek op sy agterwiel en moet ons die eers weer herstel. Ek is maar al te dankbaar want die wêreld sing van die hitte en ek bly dors. Nadat foto’s geneem en band herstel is, sak ons die pas. Wat ʼn belewenis. Dis steil en hoog en al is dit horing droog, is dit ʼn besonderse view oor die Koup. Wederhelf vertel my van 2 rowwe manne wat 1 slag met 2 lorries en waens vol skaap die berg uit is. In my mening raas hulle koppe erg en moet hulle dalk sielkundiges gaan spreek. Alhoewel wederhelf darem self fly is met lorrie en wa stem hy heelhartig met my saam. Dele van die pas se oppervlak is geteer, om te keer dat rygoed aan die skop raak as hulle klim .... so steil is dit daar.