Welcome, Guest. Please Login or Register

Author Topic: Stilbaai Solo  (Read 687 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Lem

Stilbaai Solo
« on: August 12, 2019, 11:51:56 am »
Dagse mede honne

Die afgelope paar maande was maar droog vir bike ry. Daars vrek baie balle wat mens in die lug moet hou en jy word van alle kante af gegooi met nog. Werk staan nie stil nie, maar tot dusver lyk dinge beter as in 2018 en daaroor is ek dankbaar. By die huis moet ek my vrou en meisiekind gelukkig hou, warm hou en veilig hou. Verder kyk mens nog na jou gesondheid en jou vriendskappe en jou familie ook.

My pa is nou 82 en waar hy 6 maande gelede nog 'n relatiewe op en wakker 82 was het die winter hom skielik oud gemaak. Sy asem raak minder en minder. Die man is moeg en soms is sy gemoedstoestand ook waar sy hart nou is. Dit is hard op my en my broers om hom so te sien agteruitgaan in 'n kort tydjie. Ons begin al binne onsself afskeid te neem en dit is moeilik. Daar is soveel eienskappe van hom binne in ons al drie. 'n Goeie voorbeeld hiervan is dat dit vir ons onnatuurlik is om te dink hy sal nooit weer kan Kaap toe bestuur nie. Dat hy nie meer mag hout kloof voor hy vuur aansteek nie.  Nie 'n vrag op 'n bakkie met sy amazing toue skills maswerk metode mag vasbind nie. Nie meer patats of rankbone in die tuin kan plant nie. Daarmee saam kom ook die sielkundige impak van dit alles op my ma. Hulle is 55jaar getroud. In die laaste 14jaar wat hulle in Stilbaai bly kan ek die kere op my een hand aftel wat sy al die kar uitgetrek het en net Spar toe gery het. My pa doen dit alles vir haar. Daar is krag op die meter, daar is petrol in die tenk, want hy sorg...en nou moet hy versorg word. Ons het egter goeie rede tot Rentmeesterskap.

Ek het bietjie anders grootgeword as my ouer broers. Hulle is 11 en 15 jaar ouer as ek. As kinders het hulle hom gesien werk toe gaan soggens. Toe ek drie jaar oud was het hy vir homself begin werk. Standerd ses agter sy naam, kode 10 liksens, Mitsubishi L300 bakkie en 'n Datsun Caball 3ton trokkie en twee sterk hande. 'n Cardboard smous. Daai besigheidjie het drie seuns skuldvry deur varsity gekry, elkeen met 'n studentekar ook. Ek het elke dag van elke skoolvakansie en universiteitsvakansie saam met hom gewerk. In my 4de jaar op varsity het hy 'n stents operasie gekry en tussen klasse moes ek sy besigheid alleen beman.

Dit het swaar op my hart gedruk om hom net te kan gaan sien. Om net vir hom en my ma te gaan vleisie braai. Net ek en hulle, nie met my vrou en hulle jongste kleinkind by nie. Wanneer die groepies te groot raak raak ek weg. Ek wou hierdie keer alleen wees met hulle.

Die opbou na hierdie trip was 'n skielike sameloop van verskeie dinge. Die werk is onder beheer, maar dis veeleisend en verander daagliks. By die huis raak ek stadig mal van al die programme en boekies waarin plaasdiere name het en diep gesprekke met mekaar in Afrikaans voer. Ek spandeer ontsettend baie tyd met my gesin en veral met daai 2jarige dogtertjie van my. Vir dae aaneen tydens die onlangse Junie vakansie het ek haar alleen opgepas van more tot aand. Ons het nie oumas en oupas naby nie. Vir my vrou en my huishouding weet ek ek doen meer as my deel en ek word soms by selfs meer as dit begewe.

Ek verstaan nou nog nie die doel van Vrouedag nie, maar ek is dankbaar dat dit op 'n vrydag geval het. Woensdagaand dus kon ek met my vrou gesels oor wat op my hart druk en daar en dan kon ons afspreek dat ek Vrydag deurry Stilbaai toe en Saterdag terugkom. Trouens, sy het die besluit verwelkom en ek kon self langer gebly het. As ek egter saterdag terugkom voel dit steeds soos enige gewone naweek, solank my vuurtjie net kan brand en ek vir hulle kan braai is ek dankbaar.

Gekoppel aan die idee dat ek my argitek vir my Stilbaai huisplanne sommer op Jongensfontein kan gaan spreek was daar dus genoegsame rede dat die trip maar kan gebeur. Die weer het saamgespeel, ek het die tyd en finansies in plek gehad en my gesin was versorg. Skoonma hulle het afgespreek om vir my vrou en hul kleinkind te gaan kuier terwyl ek weg is.

Ek was al meer voorbereid vir onvoorbereide lees. Ek het letterlik donderdagaand die puncture repair goeters in die topboks gesit en vrydagoggend 'n pakkie vir my ma-hulle en paar stukkies klere en 'n tandeborsel in 'n Checkers sak gegooi.   Die bike was vuil, nie vol petrol nie en ek het eers beplan om laat vrydagoggend te vertrek. Ek het geen vaste roete gehad nie. Ek het selfs 'n volle nagrus ingekry en nie eers van opgewondenheid rondgerol nie.

Vrydagoggend het dit alles eers begin insink.
« Last Edit: August 15, 2019, 06:51:53 am by Lem »
Faith is not knowing what the future holds, it's knowing who holds the future
 
The following users thanked this post: Swanniebraai, Africanus, katana

Offline Lem

Re: Stilbaai Solo
« Reply #1 on: August 12, 2019, 12:08:47 pm »
Ek is vrydagoggend so 10h00 by die huis weg en eers garage toe vir volmaak. Ek het die 1200 al einde Maart al gekry, maar nog nooit was hy al vol petrol gemaak nie. Dit is dus hier waar ek geleer het van die berugte erratic 1200GS fuel guage. Vir die eerste 100km wys hy half, dan raak hy skielik vol, dan val hy weer tot by half en dan sak hy mooi geleidelik blokkie vir blokkie laer en laer.

Die missie vir die dag was dat ek om 15h00 my argitek op Jongensfontein moes sien. Die N1 tussen Klipheuwelpad en Paarl was aaklig. Die verkeer op die langnaweek was regtig frustrerend. Mense ry eenvoudig kak. Op Du Toitskloofpas kon ek bietjie ritme kry, maar my kop was nie reg nie. Ek het gevoel ek is selfsugtig om hier alleen te wees terwyl my gesin alleen by die huis sit. My hande was hard op die bars, my skouers was hoog en ek het die tenk met my kniee vasgeknyp. die ander mense op die pad het my frustreer en ek het nie ver genoeg voor my gekyk nie, so op die eerste paar skerp draaie van Du Toitskloofpas was ek maar konsertina agtig tot ek op die boonste draai gestop het vir bietjie asem skep. Ek het besef ek is beslis verroes as dit by ryfiksheid kom. My oog was nie in nie. Ek was soos 'n Protea openingskolwer...uit vorm uit. 

Van hier af het ek minder met myself baklei en voor ek my oe kon uitvee draai ek by Robertson regs op die Bonnievale pad. Dit was baie nodig om 'n stiller pad te ry, die spoed net af te bring met so 10-20km/h binne my comfort zone in en die hele ryproses net uit te smooth.

Toe ek in die N2 by Swellendam indraai voel ek my blaas druk en die strappie onder my ken het op die knopie losgekom. Dit was die teken ek moes stilhou op Buffeljags. Ek het op Rolandale besluit eerder as die BP garage. Op die ou end het ek seker 'n goeie 45minute net daar gesit en die stress het begin aftap.

1) Du Toitskloofpas
2) Watervalle in Du Toitskloofpas
3) Ek en die Rolandale Security Guard ken mekaar al jare. Hys 'n stil ou, maar ook 'n diep denker.
4) Slukkie?

Faith is not knowing what the future holds, it's knowing who holds the future
 
The following users thanked this post: Swanniebraai

Offline Lem

Re: Stilbaai Solo
« Reply #2 on: August 12, 2019, 12:19:28 pm »
Terug op die N2 beland ek weer op daai langnaweek verkeer.  :xxbah:

Net anderkant Heidelberg besluit ek genoeg is genoeg en ek draai af op Oudemuragiepad.

Daar begin ek weer met myself baklei. Ek kry 'n goeie spoor en die pad lyk goed, maar ek ry op daai oomblik sleg. Ek dink aan die banddruk, die ABS wat nog aan is en ek kyk stip na elke slaggaatjie en skaapdrol voor my in die pad. Stadig stadig begin ek darem bietjie te ontspan en die graan en canola blom mooi, hoewel daai wereld eintlik baie droog is. Daar is beslis 'n groen droogte wat vanjaar in die Suidkaap heers.

Anderkant Vermaaklikheid draai jy af op die Blombospad. Hier stress ek weer, want die petrol raak min. Ons maak dit darem toe maklik tot in Jongensfontein en weer terug tot in Stilbaai ook. Vroeer laasweek het die gholfklub gebel om te se my nuwe kaartjie het gekom, so na 'n paar Jongensfontein fotos kon ek dit ook gou gaan afhaal voor ek by Carewell, of soos my pa praat van Farewell  :imaposer: ingedraai het.

355km vir die dag  :thumleft:

1) Water afslaan by die afdraaipad buite Vermaaklikheid
2) Jongensfontein
3) Jongensfontein getypoel
4) Farewell Tuinwoonstelle Nr3. Veilig tuis na 355km.
« Last Edit: August 12, 2019, 02:42:11 pm by Lem »
Faith is not knowing what the future holds, it's knowing who holds the future
 
The following users thanked this post: Swanniebraai

Offline Black_Hawk

  • BackroadRiderZA
  • Senior Member
  • ***
  • Bike: BMW F800GS
    Location: Western Cape
  • Posts: 2,681
  • Thanked: 110 times
  • Follow our blog: https://mytownsatoz.wordpress.com
    • My Towns A to Z
Re: Stilbaai Solo
« Reply #3 on: August 12, 2019, 12:21:03 pm »
Dankie vir die deel sover Lem, ek dink baie van ons weet presies waarvan jy praat.

So dag op jou eie kan wonders doen  :thumleft:
Follow our blog: https://mytownsatoz.wordpress.com

2010 F650GS (Sold), 2009 BMW F800GS, 2002 BMW F650GS (Sold), 1982 Honda XR 200R
 
The following users thanked this post: Lem

Offline Plaasseun

Re: Stilbaai Solo
« Reply #4 on: August 12, 2019, 12:57:52 pm »
Mooi storie sover Lem, ek glo jou kuier saam met jou ouers was kosbaar :thumleft:
Le vaatjie hou toe jou kraan en ek sien jou dalk vir 'n volle aan.
 
The following users thanked this post: Lem

Offline Lem

Re: Stilbaai Solo
« Reply #5 on: August 12, 2019, 01:00:25 pm »
By my ouers aangekom en ek was eintlik aangenaam verras. My ma het gou gesorg vir my honger maag en my pa se kondisie was eintlik baie beter as toe ons ses weke vantevore daar was. Ses weke vantevore toe ons almal daar was het die mense selfs die dominiee laat kom.  Dit het gewerk, want sy gemoed was beter. Hy geniet dit om sy mense te sien en ek dink hulle twee het al begin vrede maak dat dinge enige dag kan verander.

Vir die wat dalk sal vra oor my pa se gesondheid. Sy hart pomp te min suurstof en is al vir jare uit ritme uit. Hy is 5 keer in vir skokke, maar mag nou nie meer geskok word nie. Die kardioloog kan niks meer vir hom doen nie. Sy liggaam hou vog terug en sy hart klop maar soos 'n pomp onder water sal vaar. So op voorskrif drink hy dus van tyd tot waterpille. Dit spoel al die goeie voedingstowwe uit sy liggaam uit en laat hom sleg en moeg voel. So hy vreet tans meer piesangs as 'n mosambiekse renosterstroper en hy drink meer energade as 'n student die aand voor sy groot eksamen. Dan is hy nog boonop hardegat ook, want die konsep van sy liggaam wat vog terughou en hom wat moet meer vloeistof inneem gaan nie by hom lekker hand aan hand nie.

Twee jaar gelede het hy prostaatkanker ook opgedoen en hy moes twee nieroperasies asook die chemo behandeling daarvoor oorleef. Daar en dan het hy besluit genoeg is genoeg. Hy wil nie hulle neseier aan mediese uitgawes spandeer nie. Hy het 'n vol lewe gelei, het twee hoogs suksesvolle kinders ... en een met eervolle vermelding :lol8:... asook vier awesome kleinkinders. Hy is content. 

Ek het 'n kort rukkie by hulle gesit en moes toe gaan 'n driepoot en paar braaistompies optel by my broer se huis. My pa spring skielik uit sy stoel uit om na my bike te kom kyk. Hy is n genuine petrolkop en hy hou regtig van die goed. Hy hou nie noodwendig van die feit dat ek dit ry nie, maar diep binne hom verstaan hy hoekom.
Met my ongeluk in 2012 het hulle dieselfde dag nog Kaap toe gery, daai selfde aand buite die teater vir my gewag en vir my die heel minste teenstand oor motorfietse gegee van almal naby aan my.

In die vroee 60s het hy die grondpaaie en jagveld van Mosselbaai, Herbertsdale & Heuningklip distrik plat gery met sy 1959 Vespa en hy wys graag vir jou die merke op sy kop van waar hulle moes klippe uithaal na hy geval het. In Desember het ons met die Pajero daai grootwordpaaie gaan ry en hy het presies vir ons gewys waar hy met die Vespa neergeslaan het.

Opgewonde stap hy uit na my 1200GS. "Peet, Peet, stadig stap", probeer my ma hom demp. "ja nee, ek wil net gaan kyk daarso hoe lyk die bike"

"ja Pa, ek het hom al van Maartmaand af. Dit is my 6de GS en my eerste 1200" , se ek spoggerig.

"ja, Johan het my vertel jyt weer een van die gemors gekoop. Jy kan sien hys darem goed opgepas hierdie een" mompel hy terwyl hy die fiets so op en af kyk. "Sal jy darem weer jou geld terugkry op die ding? Twaalf-honderd nogal. Hys klein ne? Sal hy darem Langhoogte in sy topgear uitloop?

"Ja Pa, hys eintlik baie kort gerat", antwoord ek. Hy loop 4100 revs op 120 in sy 6de.

"Nee O donner, dis te veel. Dan gaan hy nie hou nie", kry ek as kwinkslag terug. 

Ek kon toe sommer gaan volmaak ook en die 1200GS het presies 17km/l gegee.

Het nog paar fotos ingewerk voor ek vroeg gaan vuur opmaak het. Ek wou dit vroeg doen, want dan kon my ouers nog 'n rukkie buite by my sit voor dit te koud raak vir hulle. Hulle het 'n lekker biertjie saam met my op die stoep gedrink en hulle was regtig ontspanne. My ma wat ek kan uitskel vir overdaad as dit kom by bykosse het selfs die aand afgevat en sy was tevrede dat daar net aartappels saam met die vleis bedien word.

Dit is 'n vreemde generasie daai..."the forgotten generation". Hulle is uiters bang om 'n sepie te mis. Hulle kyk stiptelik elke aand na Suidooster, maar kla daarna oor hoe swak dit is en laat my aan die einde van elke episode weet dat dit nou eintlik net 'n regte "H@#$%tstorie is.

Ons het redelik baie vetterige skaapvleis saam met aartappels daai aand verorber. Dit was goed om hom te sien twee tjops eet en nog n rukkie gesels en later as gewoonlik gaan slaap.

Ek het beter in my binneste gevoel. Ek was bly ek het die moeite gedoen om te gaan.

 
« Last Edit: August 12, 2019, 09:14:19 pm by Lem »
Faith is not knowing what the future holds, it's knowing who holds the future
 
The following users thanked this post: Swanniebraai, stcomza

Offline Lem

Re: Stilbaai Solo
« Reply #6 on: August 12, 2019, 01:05:38 pm »
Saterdagoggend wink vir my en ek het vrede in my hart.

Ek is sommer opgewonde oor die pad Kaap toe, maar het nog tot so na 9am gekuier. Dit was regtig goed om my pa te sien opstaan met goeie gemoed. Ek was nog in pajamas toe kom hy al aangetrek vir die dag uit die kamer uit.

Ons het na ligte ontbyt gegroet en datums uitgeruil vir wanneer ons as gesin weer kan afkom Stilbaai toe.

Daarna het ons gegroet en my avontuur huistoe kon begin. Ek het eers nog 'n foto by die Lapskuit en by my erfie in Under  Milkwood gaan neem.
Faith is not knowing what the future holds, it's knowing who holds the future
 

Offline Lem

Re: Stilbaai Solo
« Reply #7 on: August 12, 2019, 01:58:21 pm »
Ek kies koers langs die rivier op en toe ek na 7km by Papkuilsvlei, my ma se geboortegrond, die hek sien oopstaan draai ek sommer in. So 300m op in die vlei staan ons eertydse vakansiehuisie.

In 1984 het my pa dit as 'n arbeidershuisie op 'n plaas naby die Paarl afgebreek en hy, sy broer en my oudste broer het dit in 1984 hier op die plaas kom opsit. Fondasie was 'n paar sementblokke en teerpale was geplant in die hoeke. Die gruispad was die gruisgat  :imaposer:

Alle materiale is met 'n '83 Hilux 2.2 Diesel long wheelbase en 'n ' 72 Datsun 1200 aangery. 

Ek was een jaar oud en kan my indink hoe my 12 & 17jarige broers moes kruiwa stoot op en af na die grondpad toe. Water het ons gekry vanaf die sloot wat my ma se pa en sy broers vanaf die oog, 2km verder in die kloof op in die 1940s gebou het.

In 1986 het ons 'n badkamer gekry. In 1992 het ons met die samewerking van paar boere en familielede 'n Evkom paal laat opsit en kabel aangele.  Toe kon ons darem wegmaak met die gas en lampolie yskaste.

Ek het die huisie vir die eerste keer in 15 jaar van naby af gaan aanskou en spesifiek gaan kyk na hoe die bome gegroei het. Daar het ongelooflik baie herrinneringe deur my kop gegaan. Ek was elke vakansie asook langnaweek daar vandat ek in doeke was totdat ek klaar gestudeer was en met my pelle in ons eie karre soontoe kon gaan. Ons het vir 21 jaar daardie huisie gehad voor die grond aan twee van my niggies en hul mans verkoop is.

Onder daardie bome het ons in die middae gestort met die water wat uit die hosepyp uitgekom het na dit vir ure in die son gele het. Ons het vir 21 jaar al ons warmwater in lampolieblikke oor die vuur gemaak en ingedra na die bad toe. My pa het onder koplamp etlike honderde bokke in daai klowe geskiet en ek dink terug aan hoe ons middernag opgestaan het om te gaan "loop" agter die bosbokke aan. Ek het visgevang, karretjies en trump card games gespeel, krappies gejag met gholfstokke en honderde ou gekerfde gholfballe met die 7yster tot bo-op die oorkantste koppie geslaan. Die sloot in die vleiland was 'n rivier vir enigiets wat ek kon maak dryf het. In my verbeelding was dit vir my bootjies van stokkies en blare die Rhynrivier. Ek onthou hoe hoog die gras op die middelmannetjie bokant die bonnet uitgesteek het, hoe die Opel Rekord se exhaust altyd by die klipbruggie oor die sloot geskraap het. In die Doverstoof in die kombuis het ons patats gebak en in die dakkappe aan 'n stuk draad het 'n gekwesde bosbok of grysbok dikwels die nag deur gehang om uit te bloei voor hy moreoggend geslag sou word.

Die binnekant van die huisie is sedertien bietjie opgeknap, maar ek gaan beslis nog 'n plan maak om hom by my niggie-hulle te huur vir paar dae.   

Daar le bitter baie spore van my en herrinneringe van my pa wat elke middag om 16h00 sy Overmeer Late Harvest boksie buite kom parkeer, 'n blokkie Blitz in drie breek, vuurhoutjie trek onder die droogste rooikrantzstompies en dan gaan sit op sy geliefkoosde oopvoustoel. Een met so 'n gegalvanisde raam wat squeek as jy hom oopvou. Hy het hom destyds op die tip opgetel en die materiaal vervang met 'n dubbele poliprop vismeelsak. Hy het dit met vislyn vasgewerk en in 21 jaar het hy hom nie deurgesit gekry nie. 

« Last Edit: August 12, 2019, 02:51:12 pm by Lem »
Faith is not knowing what the future holds, it's knowing who holds the future
 

Offline Lem

Re: Stilbaai Solo
« Reply #8 on: August 12, 2019, 02:14:19 pm »
Dit was tyd om aan te beweeg en ek vat die rivierpad Weswaarts op na Klipfontein waar ek dan later regs draai en met die netwerk van grondpaaie speel tot ek op Riversdale die N2 kon kruis. Ek was in fantastiese ritme op die bike. Ek het selfs van die ding begin hou. Ek het plat op my gat gesit, net mooi deur die draaie gekyk en die bike sommer so met my pelvis in die draaie gedruk.

Plek-plek stop ek vir fotos en moet ek die bike omdraai om net te kan parkeer weens die skuinste. So die rivier was altyd aan my regterkant, hoewel hy nou op sekere fotos aan die bike se linkerkant gaan wees.

Op Riversdale ry ek tot by Oakdale Landbouskool waar hulle interskole aan was en ek draai links op die Korente Vetterivier grondpad. Met hom kom jy naderhand so naby aan die Sleeping Beauty dat jy eintlik die prentjie begin verloor, want jy sien net skerp rotse. Die eerste 25km ken ek goed met  'n bike, want ek het al voorheen Gysmanshoekpas gery. Die tweede helfte van die pad aan die Heidelberg kant het ek nog net met 'n kar gery. By die Gysmans afdraai moes ek 'n besluit maak. Draai ek regs stoei ek met die geel beer vir net 'n kort rukkie en dan is dit Brandrivier Gravel highway tot net buite Barrydale. So ek besluit toe om aan te gaan en eerder meer grondpaaie op te soek naby die Grootvadersbosch omgewing sodat ek later oor Tradouwpas kan ry.

Dit was die beste besluit van my naweek en wat daarop gevolg het was seker 'n uur of twee van die lekkerste bike ry wat ek nog ooit gehad het. Dit was eindelose versteekte valleie, melkplase, heuwels, spelonke, laagwaterbruggies gevolg deur steil bulte op en af. Ek was in my element en bitter dankbaar dat ek die tyd en roete gekies het.

Faith is not knowing what the future holds, it's knowing who holds the future
 

Offline Lem

Re: Stilbaai Solo
« Reply #9 on: August 12, 2019, 02:16:59 pm »
1 &2) Turksvyboorde so ver soos jou oog kan sien
3) Die indraai na Duiwenhoksdam
4) Laagwaterbruggie oppad na Grootvadersbosch
5) Grootvadersbosch se ingang
Faith is not knowing what the future holds, it's knowing who holds the future
 

Offline Lem

Re: Stilbaai Solo
« Reply #10 on: August 12, 2019, 02:32:09 pm »
Soos gewoonlik stel Tradouwpas nie teleur nie. Ek raak daar en dan lekker honger en dors en druk deur na Diesel & Creme vir my gunsteling mikshake, die Vintage Villain. Dit was toe ook al 14h00 die middag en die westewind het stormsterk van die Kaap af geblaas. Ek was nog 260km van die huis af en reeds redelik moeg gery.

Hoewel 'n 650 die perfekte fiets is vir my manier van agterpaadjies ry is dit in hierdie omstandighede waar die 1200 sy strepe verdien. Ek het my vrou en dogtertjie, my warm sitkamer, leerbank, tv en binnebraai gemis en dit was tyd om die regteroor te draai en huis te kry.  Ek was weer vol energie om 'n 10 paragraaf storie van plaasdiere in stemme vir my meisiekind te gaan lees.

Ek was om 14h40 weer oppad terug, moes op Worcester stop vir brandstof. Ek was oor Du Toitskloof ook en steeds 16h45 stop ek veilig voor my deur waar my gunsteling verwelkomingskomitee vir my gewag het.

Die trippie is net wat ek nodig gehad het.

Die gemoed is beter in die kamp.

Dankie vir my vrou, my dogtertjie en ons Hemelse Vader vir die vermoens, gesondheid en tyd om hierdie lekker dinge te kan doen.  :deal:
En dankie vir julle manne wat lees en comment. Dit maak dit lekker en hou my dopamine tenkie lekker vol  :biggrin:

Die beplanning vir die volgende een kom al mooi aan  :snorting:
« Last Edit: August 15, 2019, 06:53:04 am by Lem »
Faith is not knowing what the future holds, it's knowing who holds the future
 
The following users thanked this post: Swanniebraai

Offline Frannarossi

  • Vendor
  • Senior Member
  • ***
  • Bike: BMW R1200GS Adventure
    Location: Western Cape
  • Posts: 3,596
  • karoorooster@gmail.com
Re: Stilbaai Solo
« Reply #11 on: August 12, 2019, 02:35:57 pm »
Baie nice Louis. Kom maak 'n slag 'n draai as jy weer in Stilbaai is
If you don't live on the edge,you take up too much space!!!
 

Offline Lem

Re: Stilbaai Solo
« Reply #12 on: August 12, 2019, 03:03:51 pm »
Baie nice Louis. Kom maak 'n slag 'n draai as jy weer in Stilbaai is

Dankie Francois  :thumleft:

So jys noggie permanent op Van Wyksdorp nie? Ek hoop om meer gereeld nou af te kom Stilbaai toe. Alene moet net klaarkry met my planne en dan begin moet ek begin geld print soos Ace Masehare van die ANC.

Ek gaan beslis by jou inval vir 'n koue, maar jou vroegtydig waarsku  :thumleft:

Voorlopig mik ons vir September as die skole daai 20ste sluit.
Faith is not knowing what the future holds, it's knowing who holds the future
 

Offline Dorsland

  • Forum Whore
  • ****
  • Bike: Yamaha XT 660 Z
    Location: Eastern Cape
  • Posts: 7,027
  • Thanked: 268 times
  • Opsaal kerels!
    • Patriot Boerbokstoet
Re: Stilbaai Solo
« Reply #13 on: August 12, 2019, 03:38:12 pm »
Janee, dis presies hoe ek jou gelees het Lem. Een van daai goeie "ou" soorte mense.  Dankie dat jy nog so baie vir jou ouers omgee, dis vir my hartseer wanneer kinders se lewens "t besig" raak om meer vir hulle ouers om te gee. Dis 'n kort RR maar dit s baie, dankie vir die saamry en -kuier.

Enigste ding waaroor ek kan kapsie maak is dat daar skaap- en nie boktjops gebraai is nie.  :peepwall:  Met die minder vet is hulle baie meer gesond vir jou pa.  :biggrin:
« Last Edit: August 12, 2019, 03:39:22 pm by Dorsland »
Geleerdheid in die kop van 'n dwaas is soos 'n lemmetjie in die hand van 'n aap.

CJ Langenhoven
 

Offline danielsaaiman

Re: Stilbaai Solo
« Reply #14 on: August 12, 2019, 03:49:14 pm »
Mooi geskryf, het dit baie geniet.
Current: 2014 KTM 690 Enduro R, 2013 Triumph Tiger 800 XC

Past: Kawasaki KLR 650, Kawasaki KLE 500, Kawasaki KX 125, Suzuki Bandit 250, Husqvarna SMR 125, Honda CRF 250X
 
The following users thanked this post: Lem

Offline ChrisL - DUSTRIDERS

  • Forum Vendor
  • Castrated Dog
  • ******
  • Bike: BMW R1200GS
    Location: Western Cape
  • Posts: 28,256
  • Thanked: 368 times
    • dustriders.co.za
Re: Stilbaai Solo
« Reply #15 on: August 12, 2019, 03:59:46 pm »
 etlike honderde bokke in daai klowe geskiet

Nou weet ek hoekom hier nie meer bokke is nie!!! :peepwall:
Wat s jy van daai mansion wat daar neffens jul ou huis gebou is onlangs? Klomp klein venstertjies soos n koshuis? Daar moet blerrie baie toilets wees.
MOTORCYCLE ACCESSORIES RETAILER
info@dustriders.co.za
ENDURISTAN SOFTLUGGAGE IMPORTER
www.dustriders.co.za
 

Offline Oubones

  • Senior Member
  • ***
  • Bike: BMW F650GS / Dakar
    Location: Kwazulu Natal
  • Posts: 2,816
  • Thanked: 370 times
Re: Stilbaai Solo
« Reply #16 on: August 12, 2019, 04:42:17 pm »
Dit is nou sommer lekker saamry!
Al die regte bestandele en waardes!
Dit is goed van jou om die moeite te doen om tyd met jou ouers te gaan spandeer.
Dit is altyd beter om tyd te gee terwyl hulle lewe as blomme op hul graf!
Mooi geskryf en jy is goeie man wie se voorbeeld baie ander kan baat vind by!
Dakar 650
KLR650
 

Offline Lem

Re: Stilbaai Solo
« Reply #17 on: August 12, 2019, 05:04:12 pm »
etlike honderde bokke in daai klowe geskiet

Nou weet ek hoekom hier nie meer bokke is nie!!! :peepwall:
Wat s jy van daai mansion wat daar neffens jul ou huis gebou is onlangs? Klomp klein venstertjies soos n koshuis? Daar moet blerrie baie toilets wees.

 :imaposer: ai Chris, ek het so lanklaas daar in Perdekuillaan en Melkboomstraat gery ek weet nie eers van al die nuwe huise nie. Ek skud steeds my kop vir die Transkei kraalheining wat die nuwe eienaars om my broer se ou huis opgesit het. 'n Jakkals sal skaam kry om daar onderdeur te wil grawe. Ek dink aan hoe mooi my ma se tuin daar in Perdekuillaan was en hoe ek saans op die stoep in die donker gesit en koffie drink het tot die Grysbokkies aan my ma se malvas kom eet, 5 tree van my af. Ai man...ek skud net my kop.
Faith is not knowing what the future holds, it's knowing who holds the future
 

Offline Lem

Re: Stilbaai Solo
« Reply #18 on: August 12, 2019, 05:12:25 pm »
Janee, dis presies hoe ek jou gelees het Lem. Een van daai goeie "ou" soorte mense.  Dankie dat jy nog so baie vir jou ouers omgee, dis vir my hartseer wanneer kinders se lewens "t besig" raak om meer vir hulle ouers om te gee. Dis 'n kort RR maar dit s baie, dankie vir die saamry en -kuier.

Enigste ding waaroor ek kan kapsie maak is dat daar skaap- en nie boktjops gebraai is nie.  :peepwall:  Met die minder vet is hulle baie meer gesond vir jou pa.  :biggrin:

Thanks Johan. Ek wil beslis nog daar by jou in die Sarah Baartman distrik kom verken.  :imaposer:

Dankie vir die mooi woorde. My broers was in die posisie om die huisie in die aftreeoord te kon koop, maar ek het groen koring op die land so ek kan darem uithelp met my ouers se mediese bystand binne die oord.

Ai man...ek sal enige dag boerbok vleis bo skaap verkies, want ek is mal oor die smaak. Ek weet egter net nie waar om dit te koop nie. Hier in Durbanville is vleis 'n boetiekbesigheid. Die uitgangspunt van slaghuise is om vir jou te dwing om by die huis gasheer te speel vir "dinner paarties" eerder as om te gaan uiteet. Op daai manier spaar jy darem die car guard geld en jy kannie afgetrek word vir pypie blaas nie.  :thumleft:

maar ja, as jy my kan wys in die rigting van iemand wie in die Kaap boerbokvleis wat met dieselfde etiek as jou bokke grootgemaak is sal ek dit beslis ernstig opneem  :thumleft:
Faith is not knowing what the future holds, it's knowing who holds the future
 

Offline Lem

Re: Stilbaai Solo
« Reply #19 on: August 12, 2019, 05:18:41 pm »
Dit is nou sommer lekker saamry!
Al die regte bestandele en waardes!
Dit is goed van jou om die moeite te doen om tyd met jou ouers te gaan spandeer.
Dit is altyd beter om tyd te gee terwyl hulle lewe as blomme op hul graf!
Mooi geskryf en jy is goeie man wie se voorbeeld baie ander kan baat vind by!

Thanks Oubones.

Vir die afgelope 14 jaar probeer ons regtig hard om lekker goeters saam met hulle te doen. My pa is 'n besonderse detail mens. Een van die grootste treats waarvoor ek hoop hy gespaar sal bly is as Kobus Groenewald se trekkerstoor op Droevlakte, net buite Stilbaai gaan oopmaak vir die publiek. Ek wil hom bitter graag soontoe neem, asook na Tuinplaas by Albertinia. Dit het my in Juliemaand gebreek toe ek besef hy was te swak om te kan stap tussen my kar en die naaste stoel en dat so 'n uitstappie heeltemaal buite perke sou wees en dalk nooit kan gebeur nie.

Maar hy lyk heelwat beter nou en ons hoop om oor bietjie meer as 'n maand te kan gaan.  :thumleft:
Faith is not knowing what the future holds, it's knowing who holds the future