Stilbaai Solo

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Lem

Grey Hound
Joined
Jan 20, 2010
Messages
5,320
Reaction score
17
Location
Bellville, Cape Town
Bike
BMW R1200GS
Dagse mede honne

Die afgelope paar maande was maar droog vir bike ry. Daars vrek baie balle wat mens in die lug moet hou en jy word van alle kante af gegooi met nog. Werk staan nie stil nie, maar tot dusver lyk dinge beter as in 2018 en daaroor is ek dankbaar. By die huis moet ek my vrou en meisiekind gelukkig hou, warm hou en veilig hou. Verder kyk mens nog na jou gesondheid en jou vriendskappe en jou familie ook.

My pa is nou 82 en waar hy 6 maande gelede nog 'n relatiewe op en wakker 82 was het die winter hom skielik oud gemaak. Sy asem raak minder en minder. Die man is moeg en soms is sy gemoedstoestand ook waar sy hart nou is. Dit is hard op my en my broers om hom so te sien agteruitgaan in 'n kort tydjie. Ons begin al binne onsself afskeid te neem en dit is moeilik. Daar is soveel eienskappe van hom binne in ons al drie. 'n Goeie voorbeeld hiervan is dat dit vir ons onnatuurlik is om te dink hy sal nooit weer kan Kaap toe bestuur nie. Dat hy nie meer mag hout kloof voor hy vuur aansteek nie.  Nie 'n vrag op 'n bakkie met sy amazing toue skills maswerk metode mag vasbind nie. Nie meer patats of rankbone in die tuin kan plant nie. Daarmee saam kom ook die sielkundige impak van dit alles op my ma. Hulle is 55jaar getroud. In die laaste 14jaar wat hulle in Stilbaai bly kan ek die kere op my een hand aftel wat sy al die kar uitgetrek het en net Spar toe gery het. My pa doen dit alles vir haar. Daar is krag op die meter, daar is petrol in die tenk, want hy sorg...en nou moet hy versorg word. Ons het egter goeie rede tot Rentmeesterskap.

Ek het bietjie anders grootgeword as my ouer broers. Hulle is 11 en 15 jaar ouer as ek. As kinders het hulle hom gesien werk toe gaan soggens. Toe ek drie jaar oud was het hy vir homself begin werk. Standerd ses agter sy naam, kode 10 liksens, Mitsubishi L300 bakkie en 'n Datsun Caball 3ton trokkie en twee sterk hande. 'n Cardboard smous. Daai besigheidjie het drie seuns skuldvry deur varsity gekry, elkeen met 'n studentekar ook. Ek het elke dag van elke skoolvakansie en universiteitsvakansie saam met hom gewerk. In my 4de jaar op varsity het hy 'n stents operasie gekry en tussen klasse moes ek sy besigheid alleen beman.

Dit het swaar op my hart gedruk om hom net te kan gaan sien. Om net vir hom en my ma te gaan vleisie braai. Net ek en hulle, nie met my vrou en hulle jongste kleinkind by nie. Wanneer die groepies te groot raak raak ek weg. Ek wou hierdie keer alleen wees met hulle.

Die opbou na hierdie trip was 'n skielike sameloop van verskeie dinge. Die werk is onder beheer, maar dis veeleisend en verander daagliks. By die huis raak ek stadig mal van al die programme en boekies waarin plaasdiere name het en diep gesprekke met mekaar in Afrikaans voer. Ek spandeer ontsettend baie tyd met my gesin en veral met daai 2jarige dogtertjie van my. Vir dae aaneen tydens die onlangse Junie vakansie het ek haar alleen opgepas van more tot aand. Ons het nie oumas en oupas naby nie. Vir my vrou en my huishouding weet ek ek doen meer as my deel en ek word soms by selfs meer as dit begewe.

Ek verstaan nou nog nie die doel van Vrouedag nie, maar ek is dankbaar dat dit op 'n vrydag geval het. Woensdagaand dus kon ek met my vrou gesels oor wat op my hart druk en daar en dan kon ons afspreek dat ek Vrydag deurry Stilbaai toe en Saterdag terugkom. Trouens, sy het die besluit verwelkom en ek kon self langer gebly het. As ek egter saterdag terugkom voel dit steeds soos enige gewone naweek, solank my vuurtjie net kan brand en ek vir hulle kan braai is ek dankbaar.

Gekoppel aan die idee dat ek my argitek vir my Stilbaai huisplanne sommer op Jongensfontein kan gaan spreek was daar dus genoegsame rede dat die trip maar kan gebeur. Die weer het saamgespeel, ek het die tyd en finansies in plek gehad en my gesin was versorg. Skoonma hulle het afgespreek om vir my vrou en hul kleinkind te gaan kuier terwyl ek weg is.

Ek was al meer voorbereid vir onvoorbereide lees. Ek het letterlik donderdagaand die puncture repair goeters in die topboks gesit en vrydagoggend 'n pakkie vir my ma-hulle en paar stukkies klere en 'n tandeborsel in 'n Checkers sak gegooi.  Die bike was vuil, nie vol petrol nie en ek het eers beplan om laat vrydagoggend te vertrek. Ek het geen vaste roete gehad nie. Ek het selfs 'n volle nagrus ingekry en nie eers van opgewondenheid rondgerol nie.

Vrydagoggend het dit alles eers begin insink.
 
Top