Plathuis op 'n Sondag. 'n Kort RR.

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Karoo Rider

Race Dog
Joined
Sep 1, 2012
Messages
1,716
Reaction score
446
Location
Ladismith WC
Bike
Honda CRF-1100L Africa Twin
Daar is mos iets anders aan 'n Sondag.  Die huis hang gewoonlik vol koffie en varkspek en roosterbrood.  Ek girts die blindings oop en die luiwarm winterson glinster op die sneeubedekte Klein-Swartberge.  Word mens ooit moeg van dit?  “Ek dog jy’s al weg?” hoor ek my vrou sê.  “Ek gaan my Ma haal vir die dag.  Jy’s welkom om te bly, maar wou jy nie ‘n draai gaan ry het met die bike nie?”  Na twee dekades saam, begin verstaan ‘n mens mekaar.

Rooi knoppie. Die Twin se enjin ontwaak.  Die garagedeur maak agter my toe, en die wêreld maak oop.  Met koele oggendlug vleg ek die Noupoortjie deur al met Roete 62 langs.  Geel Gousblomme groet.  ‘n Werkershuisie se kosvuur kom maak hom vir ‘n wyle tuis hier onder my neus.  Dan, byna onverwags, wink die Plathuispad my na regs.  Plasse water staan nog hier en daar, en die veld lyk goed.  Die Twin luier geduldig saam, gereed vir enige oomblik se aksie vanaf die ruiter, maar vandag stel ek hom teleur.  Vandag jaag ons nie.  Dis mos Sondag.

By Prinspoort se sementdriffie trek ek af.  Hier het ons met die kinders al kom mooi rivierklippies uitsoek, en op ‘n keer het ek en ou Veldtie ook al lekker hier gebraai en diep dinge gesels.  Maar vandag vertoef ek nie.  Bo in een van die kranse hoor ek die geluid van ‘n bedrywige swerm bye.  Dis inderdaad dan ook hier waar die storie vertel word van ‘n jongman van die omgewing wat houtpenne in die skeure ingekap het om sodoende te kan opklim om heuning uit te haal.  Daar het hy hom eendag egter na sy dood geval.  Dit kon dalk dieselfde nes gewees het.  Dit kon dalk op ‘n Sondag gewees het.

Ek ry verder en kom by die Platdrif en Hondewater aansluiting aan en besluit om hier vir ‘n rukkie af te saal.  Ek het immers ‘n klein bederfie vir myself saamgery wat dalk nie vir almal tydens die inperking beskore was nie:  ‘n botteltjie Black Label bier.  Ek dwaal tussen die vygies en wit kristalklippe rond.  Waarna soek ek?  Ek weet nie.  ‘n Entjie verder kry ek my sit op ‘n mylpaaltjie.  En daar, doodstil en op my eie, begin kry ek iets soos vrede.  Vrede oor familie wat dood is aan COVID.  Vrede oor my onlangse ongeluk met my vorige motorfiets.  Vrede oor ons land en al sy probleme.  Sommer net vrede.  Want dis Sondag.
 

Attachments

  • 20210725_113556.jpg
    20210725_113556.jpg
    449.1 KB · Views: 304
Top