Sederberg omswerwinge

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Karoo Rider

Race Dog
Joined
Sep 1, 2012
Messages
1,716
Reaction score
446
Location
Ladismith WC
Bike
Honda CRF-1100L Africa Twin
"Ja OK, dis reg vir die week se verlof, maar onthou die week daarna is dit die groot oudit so dan moet jy asseblief weer terug wees. Geniet dit."  Terwyl sy handtekening se ink droog word op my verlofvorm, sluit ek die Vrydagmiddag my kantoor.  Ek hoop net my verlofaansoek word op soortgelyke goedgunstige wyse oorweeg by die huis, maar ek is verniet bekommerd, die ja-woord word langs die aand se braaivleisvuur gegee, en die magdom moontlike paaie begin maal in my kop.   

Elkeen van ons het seker 'n voorkeur tipe motorfietsreis.  Sommige hou van groot groepe - dis lekker en mens geniet die spangees en variteit van almal teenwoordig.  My gunsteling tipe is seker met een of dalk twee maters, en die ritte en toere wat veral ek en Chris Louw al so aangepak het lê my na aan die hart.  Maar ek dink daar kom ook 'n tyd wat 'n mens alleen moet reis.  Gemaklik wees met jou eie gedagtes.  Jouself wees.  Groot manne het dit tog al gedoen, hetsy of dit nou Chris Louw, Dorsland of die inwonende kreefinspekteur van Montagu is, en ek wou ook daai gevoel van onafhanklikheid ervaar.

Voorbereiding.  Dis Sondag en ek wil môre ry.  Ek moes eintlik lankal wakker geskrik het.  My nuwe stel bande lê reeds hoe lank hier in die garage en nou sal ek dit eers môre oggend kan laat optrek voor ek ry.  Dinge gaan te laat word besef ek.  Wat as ek langs die pad 'n bandsny opdoen en self 'n band moet kan afhaal?  Dalk is dit 'n goeie idee om sommer self die bande by die huis op te trek en sodoende bietjie te oefen reken ek.  So gesê so gedaan.  Op beide my vorige fiets sowel as die Africa Twin is ek bederf met binnebandlose buitebande (OK "tubeless" vir die wat nie weet wat dit is nie!) so nog nooit was daar die nodigheid om 'n band met die hand af te trek nie, maar enige "regte biker" moet dit darem kan self doen dink ek! 

Chris gee instruksies via Whatsapp.  Knyp hom so vas.  Kyk na dit.  Maak seker van dat.  Arme man was seker moedeloos later want toe ek weer hoor noem hy van kamstig 'n draai ry vandag en heel toevallig sou hy elk geval Ladismith om ry - kan jy nou meer!  En my nuwe Enduristan Monsoon 3 kantsakke bring hy ook sommer vir my saam.  Ek sou aanvanklik net 'n drybag vat aangesien ek nie 'n tent en ander groot goed gaan saamneem nie.  Op die einde kon ek egter nie wag om te sien hoe die sakke op ou Bloutoon gaan lyk nie en besluit toe om eerder hulle op te sit en die drybag te los.
 

Attachments

  • 20210815_114237.jpg
    20210815_114237.jpg
    488.6 KB · Views: 503
  • 20210816_090750.jpg
    20210816_090750.jpg
    653.3 KB · Views: 508
  • 20210815_092503.jpg
    20210815_092503.jpg
    435.6 KB · Views: 505
Top