Langebaan Ladismith blitsretoer

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Amos

Puppy
Joined
Feb 2, 2021
Messages
40
Reaction score
90
Bike
Honda CRF-250 Rally
Pa is moeilik. Hy wil weet waar is my toksak. Dis ‘n kritiese bagasiehouer vir ons eerste motorfietstog op sy splinternuwe BMW R80/7. Dis 1980, lank voor dinge soos “adventure bikes”, goeie motorfietsklere en bagasiestelsels. Sonder die toksak is ons beperkte pak opsies nog meer belemmer.

Ek dink terug aan daardie Apriloggend in 1980 terwyl ek my rugsakkie vasmaak op die rooi merrie (met apologie aan [member=15147]Armpie[/member], wie se rooi merrie sekerlik die oorspronklike een is). Ek en Pa het ons laaste motorfietstog saam gedoen in 1992, net voor diensplig. Hierdie is my eerste tog sedert daardie een en my eerste een alleen. O, die opwinding!

Nadat sy my woorde gegee het een Donderdagaand in Oktober, sê my vrou sy het die naweek spasie nodig. Sy gaan alleen Kaap toe. Bly kalm en hou jou kaarte teen jou bors. Karoo-roetes is al vele male bestudeer en die saadjie vir ‘n oorslaap is lankal geplant by my ou vriend op Ladismith, ook ‘n motorfietsryer. Hy gaan op ‘n kerkkamp wees buite die dorp maar dring daarop aan dat ek deurkom. Nou is ek in die onaanvegbare posisie dat ek na ‘n kerkkamp toe gaan.

Wydverspreide swaar reën oor die hele Wes-Kaap laat my sleg slaap Vrydagnag. Maar ek is vasberade om my eerste tog met die rooi merrie aan te pak en so ‘n goeie geleentheid gaan nie gou weer verbykom nie. Vroulief is effens oorbluf Saterdagoggend toe sy besef ek gaan haar spasie gee tot in die wye Karoo. Maar ek het my kaarte mos mooi gespeel en ek val in die pad net agter die laaste bui op ‘n sopnat pad.
 
Top