Evil Knievel se dinges

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.
Joined
May 19, 2019
Messages
1,231
Reaction score
815
Location
Cape Town
Bike
KTM 950 Adventure S
So gister besluit ek toe mos ek moet darem my fiets ordentlik gaan toets voor ek op vakansie gaan, net om seker te maak alles is nou lekker na Deon by TRPL7 vir my n paar goedjies uitsorteer het.  Klein goedjies, soos die sump plug wat ek nie kon afkry nie, die olie wat by die breather uit gedrup het, en die clutch slave cylinder diens natuurlik - al daai gewone KTM goed jy weet.
O ja, en dan ook die petrol lek.  Die een wat eers net na n ride so paar druppels op die garage vloer gelos het en toe opgeeindig het in n hengse klomp rook wat by die regter exhaust uitkom toe ek hom weer wou start - is mos wat gebeur blykbaar wanneer die een carb se float vashaak en die hele silinder vol petrol loop. En dan was daar nog n gekraakte pyp vanaf die een auxilary tenk ook.  Nodeloos om te sê ekt hom nie na Deon gery nie.

Elk geval, ek gaan ry toe gou n draai, sommer so van Bellville af N1 om Wellington toe, Bainskloof op om te kyk wat hulle daar aan die pad gedoen het al.  Ek kom gou agter Deon het my fiets gebreek. So met die wegtrek van stilstaan af is alles nog oraait, tot op so 2700 revs.  En dan breek die hel los, elke flippen keer!  Die 950 met die 2 nuut-gebalanseerde carbs en 2 akropovics brul soos n besete maanhaar leeu en vlieg weg asof hy n net n slag aan die wyfies n punt wil bewys en n olifant alleen neertrek.  Ek moet keer of die ding wheelie onder my uit, en ek kan nie wheelie nie. Ek hoor my ma se stem toe ek laas die fiets gekoop het weer duidelik "Jy moet versigtig wees my kind", en ek weet ek het so half belowe, maar die is darem nou te lekker.  Die 950 is nie gebreek nie kom ek agter, net rég.  Op Bainskloof se draaie voel ek soos Brad Binder, moontlik net n klein bietjie stadiger want ek ken nog die fiets so goed nie.
Ek hou heeltyd die tyd dop, want ek moet 15:30 weer by die huis wees - Lars kom die Postie by my optel wat ek so rukkie terug oor entoesiasties gekoop het.  So ek draai maar om voor ek bo kom, neem gou n paar fotos en begin terug ry.
Deur Wellington se strate vlieg voetgangers bevrees om en spring verder uit die pad uit as ek die throttle om elke draai weer oopmaak, kinders raak aan die huil en manne wat in groot Landcruiser bakkies vir mamma by die winkel staan en wag wens hulle was mans genoeg om ook so n fiets te kan ry.

Wellington uit lyk die tyd na 15:30 knap so ek druk aan, n paar rapse bo die wettige spoed grens, terwyl die 950 voel soos n perd met die stang vasgebyt oppad terug huis toe. 
n Paar km in op die agterpad sien ek rook vêr voor so ek veg die fiets se spoed af tot ek naby kom.  n Bakkie staan in die middel van die pad, met n groot sleepwa vol hooi bale agterop wat op n manier aan die brand geslaan het.  Daar staan al n paar motors en vragmotor naby en ek sien die drywer probeer die sleepwa so trek dat die sterk wind die vlamme weg van die bakkie af waai sodat hulle dit kan probeer afhaak.  Normaalweg sou ek stop en kyk of ek kan help, maar daar is reeds n klomp mense, en Lars is oppad vir die Postie.

Vir omtrent 200m lê daar stukke brandende hooi op en langs die pad, met die vuur wat reeds in die veld en bosse langs die pad woed.  Die hitte is gloeiend en daars rook oral, so ek stop eers om te kyk of ek kan deur en neem gou n foto, soos mens mos nou maar doen. Geen motors ry verder of kom van voor af nie en ek kan nie mooi sien hoe dit verder vorentoe lyk nie so ek oorweeg om maar terug te draai en ompad huistoe te ry.  Maar dan gaan ek laat wees.  Ver vorentoe aan die regterkant van die pad is n deel wat nie brandende hooi het nie, maar die vlamme en rook waai daai kant toe.  Ek loer gou onder die fiets net om seker te maak daars nie nog petrol wat erens drup nie, maar Deon het sy werk goed gedoen en als lyk droog.
Dit lyk nie te vêr na waar ek die laaste bondel vuur aan die linkerkant van die pad sien brand nie so ek reken as ek n goeie spoed doen sal die hitte en rook nie te veel pla daar heel regs nie, so ek maak oop, nog effens versigtig vir die leeu wat daar op 2700 begin brul, en mik vir so 60km/h.  Wil ook nie te vinnig nie, want ek kan nie regtig alles anderkant sien deur die rook nie.
Dis vrek warm soos ek deur ry en die vlamme eindig so 1m van my af, maar dis darem net so 50m skat ek. Soos ek deur die rook naby die einde van my gangetjie kom sien ek n klomp motors staan en wag aan die anderkant, en die laaste brandende hooi so 30m voor my - wat van links tot regs regoor die pad lê asof n bende betogers dit met opset daar gegooi het.
Ek skrik my koud en terwyl ek in my kop, of dalk hardop "O F*k!" roep sien ek in n breekdeel van n sekonde in my gedagtes hoe my blou 950 met baie meer oranje op as net die saal en handguards kan lyk.

Maar ek is nog op so 60 en al wat ek kan doen is mik vir die grootste gaping en die throttle oopmaak.  Ek bars deur die vlamme soos Evil Knievel, met die agterwiel wat n vinnige sywaartse gly maak soos dit die strooi vang en spin.  Die tannie in haar motor heel voor in die ry se mond val oop en haar oë raak skielik groot soos ek deur die vuur en rook kom, en ek het net kans om dit raak te sien voor ek verby is, terwyl die adrenalien soos Red Bull met n mentos in deur my lyf borrel.  Ek loer vinnig na die kante van my fiets om te kyk of iets brand, en skreeu n harde Yeeeehaaaa!!! in my helmet in, terwyl ek soos n wafferse windgat stunt rider verby al die ander karre jaag.

Van daar af blameer ek die adrenalien in plaas van my haas huis toe vir my spoed, en ek kom 5min vroeg daar aan.  Terwyl ek tot nou toe nog gewonder het of ek die X of die 950 moet hou is dit nou n maklike besluit - die 950 bly, en terwyl ek elk geval nog decals moet doen kan daar dalk nog n paar vlamme op kom.

Gewoonlik ry ek maar mooi en rustig, maar die keer was daai een motto n goeie ene:  ry vinnig en vat kanse!



PS.  Deon, dankie dat jy die petrol lek so mooi reg gemaak het :thumleft:
 

Attachments

  • IMG_20211224_070255_compress35.jpg
    IMG_20211224_070255_compress35.jpg
    436.7 KB · Views: 475
  • IMG_20211223_152206_compress43.jpg
    IMG_20211223_152206_compress43.jpg
    534.5 KB · Views: 473
  • IMG_20211224_062308.jpg
    IMG_20211224_062308.jpg
    95.7 KB · Views: 467
Top