Witsand 2009

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

RobbieR

Pack Dog
Joined
Oct 25, 2009
Messages
103
Reaction score
0
Location
Bellville, Western Cape
Bike
KTM 990 Adventure
Moto Adventure – Witsand 2009



Hanlie se openingswoorde een oggend vroeg in Julie – “Wanneer is die Witsand trip – ek ry die keer saam!”
“Morê Hanlie – lekker geslaap?”
“Ja – maar onthou om vir my te betaal”

Nou ja, so begin die storie – die trip word 7 keer deur Mouton geadverteer, met ‘n indikasie van hoeveel plek oop is, plus die nou standaard uitnodiging om Saterdag rugby te kyk en braai by hom. Uit die aard van die uitnodiging is daar ook so ‘n kroegie wat vlink aan die gang gehou moet word. Hy noem hoeka nou onlangs dat hy wil ‘n topless bargirl organise aangesien die manne nie lank genoeg na sy smaak by die bar deurbring nie. (Tjom, as hy die girl organise gaan ek bar toe!!)

In elke geval, die tyd breek toe weer aan (1 Augustus) vir die trip – kyk, ‘n mens kry mos 3 tipe van bikers. Die padfiets manne met kort arms – dis duidelik want hierdie ouens het altyd sulke moerse pense (pens word gebruik as stut) en abnormale lang boude (cracks) – of daar waar hulle broeke koop is net hipsters beskikbaar. Dan kry jy die Harley manne – die ouens is baie gepla oor hulle “image”, maar die fietse is eintlik mos maar net bbrroomm, brrroommm…… koffie shop,  bbbrrroom, bbrrooom…. koffie shop – nie veel meer as dit nie. Maar, ou maat – hulle is cool!! Die anner dag vra ‘n ou mos : “Hoe ry jy ‘n Harley weg?”
“Trek weg in eerste, ry net normaal en sit oor na tweede – weg is jy!!”.
Dan kry jy die “dual purpose” ouens – dis ouens wie se arms normaal is en hulle trek normale jeens aan. Ek moet darem noem dat tussen die laasgenoemde kry jy ook jou “tipes”.

Eertstens, die BMW manne – dis die mense wat geld het, maar partykeer ontbreek die oordeel op die grondpad hulle.
Dan is daar natuurlik die KTM boys (die vinnige manne!) – die’ ouens is ook “image” mal – hemde, tops, boots – als oranje!
KTM staan mos vir: “Kondoom totsiens manne = rough riders”! Maar dis hoe hulle nou is – jonger, vinniger en aanmekaar op die agterwiel! Pure hings!
Dan is daar die Twin clan – dis nou die armgatte wat nie eintlik weet of hulle BMW of KTM wil wees nie – draadsitters wat darem weerskante probeer byhou.
Daar is dan die los tipe manne wat anner goeters ry, maar hulle is maar yl gesaai en taamlik onopvallend – anders sou ek hulle onthou het?

Maar wag, eers terug by die trip. SMS’e word gestuur oor vertrektye tussen Robbie, Tania, John, Melinda en kie. John noem dat daar so ‘n KTM span in die Paarl vertrek van Droomers – hulle ry oor Franschhoek na Houwhoek waar ons 08h30 vandaan vertrek. Tania, Melinda en Robbie (Hanlie is wel agterop – sy het mos gepraat!!) kry vir Mouton by sy huis. Dis nog donker toe laasgenoemde groepie ry - R 300 langs na Helshoogte – sommer daar, is die 1 ste fout, want Mouton glip hier voor ‘n lorrie in by die N2 afdraai en die res ry die pad verby. Gelukkig is Michael by, wat die fout voorheen al gemaak het, en hy weet waar die omdraaiplekke is. Bliksem, maar die fietse sonder “heated grips” se mense kry maar swaar!! Die pas self was nog lekker glibberig die’ tyd van die oggend, maar aangesien ons ‘n bietjie laat is, draai ons die fiets se ore.

By Houwhoek gestop klim Hanlie af:” My gat is te seer, waar is die bagasie bakkie? – ek wil daar inklim!!” (Hanlie het mos met die kinders gaan ysskaats die vorige week, en een van daardie valle geval waarvan draaiboeke geskryf word – haar stuitjie is nou nog nie reg nie)

Almal probeer vinnig ‘n koffie afsluk en daar daag die Paarl groepie ook op. John, met sy Woestynpoeggie, is so klein tussen die KTM’s – hy het 2de laaste van hulle daar aangekom. Sy openingskommentaar – “Die ouens moet ry – ek moet aanmekaar my fiets terug hou!!” Hanlie besluit toe sy gaan vir haar 2 jong manne optel  en spring toe tussen Riaan en sy Namakwalandse pel in die bakkie. (Hulle ry John se bakkie en sleep die trailer – teen ‘n swak onderhandelde tarief) Daar sit sy – blond en vol smiles!! Die Namakwalander het ewe vir haar sy kussing aangebied om op te sit – lekker sag, volgens Hanlie.

By vertrek, (so 80 fietse) is dit eers so ‘n 2 spoor pad, al langs die treinspoor na Villiersdorp se kant. Die pad het vinnig mooi geword en ‘n baie lekker rit is ervaar - so in die oggend sonnetjie – heuwel op, heuwel af, met rustig draaie. By Caledon se garage word volgemaak en boude reggeskud vir die eintlike grondpaaie wat gaan kom. Dis ook hier waar Riaan, Hanlie en die Namakwalander sommer vroeg “verdwaal”. Hulle kon self nie eers by die ambulans bly nie – dis of die trailer wat te swaar is, of die 3 stuks voor is die probleem – maar hulle wil nie uitpraat nie!

Van Caledon is dit eers so stukkie N2 langs en dan is dit grondpad. Die paaie is great en die manne en vroue ry te lekker. Dis blykbaar op die’ stuk pad wat neef John weereens vir almal baie plesier verskaf het.

Jy sien, toe hulle in die Paarl by Droomers bymekaarkom, toe kom hy agter hy moes eintlik eers so ‘n stukkie gaan sit het voor vertrek. (Sy opstaan en ry is half vinnig op mekaar) Met die ryery na Houwhoek het hy so bietjie vergeet van die behoefte en uit die aard van die saak ook by Caledon. MAAR, net so ent af op die grondpad toe laat weet sy stelsel dis nou tyd! Nou, neef John is ‘n ou met ‘n skaamte, gekombineer met ‘n selftrots, wat ‘n wilde kombinasie kan afgee. (Verder is hy privaat en als moet higienies wees. Hy dra permanent ‘n geel klam lappie by hom om sy hande af te vee)

Met die dreigende situasie op hande, besluit hy, hy gaan vooruit ry – sommer onder die KTM manne uit om darem die geleentheid te kry om iewers ongesiens agter ‘n GROOT bos in te hardloop. Nou ja, so begin hy die mense verbysteek, al hoe vinniger, met so ‘n “fixed smile” binne sy helmit. Almal verby – nou nog net vir die KTM manne dan is die horizon oop. KTM’s word verby gesteek, een na die ander en uiteindelik is hy heel voor – nou vir so ‘n rukkie regtig gas gee en dan is die saak reg.

Mense, na so paar minute van so hard ry, loer hy in sy spieëltjie – Oooo DONNER… die KTM manne het hom almal begin agterna sit – dis net stof wat trek soos hulle ry en neef John se skoeter kan nie vinniger nie!!
John begin bid dat hy ook ‘n KTM gehad het, want die storie begin nou ontaard in ‘n lelike besigheid. Hy sê dat hy later deurmekaar begin raak het tussen die bid vir KTM, …. bid vir genade en dat sy oogspier sterk en styf genoeg kan knyp – hy is immers nie meer ‘n kind nie!!
Toe die eerste 2 KTM’s by hom verby jaag en die stof is lekker dik, trek hy briek dat die klippe spat, hol agter ‘n bos - belt, broek, onderbroek met een beweging verwyder, half gehurk en KARPLAKS – ALS oor!! ‘n Mens sou die verligte, verbaasde uitdrukking op sy gesig kon sien! (‘n Los maag dra by dat die sake vinnig afgehandel word) Soos reeds genoem is John nogal trots en na die papierwerk afgehandel is, neem hy waar dat deur die bo-natuurlikke drukking het sy BMW boots ook so ‘n skoot weg – hier by die hakke rond - albei!!
Nou kyk – dis nie lekker vir ons maat nie – en sommer met die broek so om die enkels probeer hy die kompos afskuur, deur sy hakke so skuins… skuins, skuur,skuur,  deur die gras te sleep – so hande 4 voet.

Die’ vernederende taak afgehandel, is dit vir die res van higiene, – papier moet brand gesteek word want anders waai dit in die veld rond en hy het nie tyd gehad vir gat grawwe nie. Hy gaan dit beslis nie nou probeer nie, met die dat hy geen idee het wat die radius van sy vermoëns is nie!!
So word die papier versigtig aan die brand gesteek – vinnig gelos want sy vinners brand – en in ‘n oogwink slaan die gras aan die brand!! John moet nou begin boot inlê om die groter wordende krisis te probeer keer – trap… vloek ….trap – “ai tog daar is my fo%k*n boots weer vuil!!” Terug hande 4 voet posisie vir die nou al bekende bootsleep aksie – John sê hy is nou ‘n ekspert met die operasie!!! As mense raad vra – gaan hy geld vra!

Nou ja, – met die’ storie agter die rug kon hy met ‘n redelike skoon hart, gewete (twyfel oor die boots) afsleep Malgas toe. Die koue biere en worsrolletjies word geniet en almal deel stories uit oor die padoppervlakte, mooi omgewing en John se bos. Daarna is dit oor die pond na Witsand waar Robbie vir Melinda eers die punt wil wys. Op ‘n mannier verloor hulle mekaar, en hy sleep af hotel toe – die dors het nou begin posvat, Hanlie is nog op pad in die bakkie – so dinge moet nou begin – rugby is om 17h00!!

Toe die bakkie later opdaag is dit onse vriend Mouton se “Irakkie” wat op die treiler pronk. Blykbaar het sy “frame” sommer so in die ry gebreek. Toe Robbie vra hoe hy dit agtergekom het, verduidelik hy so: “Man, nie heeltemal seker nie, maar die fiets het begin langer word en my arms kon later amper nie by die handvatsels uitkom nie – toe stop ek maar.”

Die aand se kos was weer uit die boeke, ons ou musiek pel van Aquila was op sy pos en musiek is tot laat gemaak. Pieter (een van die Moto Adventure ouens) het ook besluit dat sy vokale vermoëns is ver bo die van die musiek ou en elke nou en dan neem hy posisie langs die man in, en dan is dit so ‘n toutrekery, heen en weer, oor wie die mikrofoon beheer. Later die aand het ‘n soortgelyke, verplaaste vermoeë vir Robbie ook beetgepak, maar hy was darem nog ordentlik en het nie die mikrofoon probeer roof nie. Met sy oë styf toe van passie, wat eintlik meer lyk na John se uitdrukking, daar agter die bos, het hy sy heel beste gegee. Die girls het gedans, Hanlie se kniee is weer seer tot ons oudergewoonte heel laaste kamers toe vertrek.

Die slaap reëlings word voor die tyd getref en met die laat insluiting van die Namakwalander en ‘n klein misverstand deur John, eindig ons toe 7 mense in ‘n 6 bed plek.
Die oorspronklike mense sou die volgende wees:
Robbie, Hanlie, Melinda, John, Riaan en Jenny (die girl ken ons nie)

Toe ons so lekker vlamgat almal by die huis opdaag, toe slaap die Jenny reeds in een van die kamers – heeltemal volgens haar reg. Nou is daar 5 beddens oor, waarvan een ‘n dubbel bed is. Die bed is egter in ‘n buitevertrek en Hanlie wil nie vir Melinda verwag om ‘n kamer te deel met iemand wat sy nie ken nie. Sy wil ook nie hê dat die Jenny ‘n kamer met ‘n man deel wat sy nie ken nie – haar moer is toe al lekker suur en ons loop so een na die ander deur.

Sommer met die instap – bespeur John die Jenny girl in die bed – “Is jy nog ‘n virgin??!! Daar pop die girl se oë oop – verbasing of verwagting – ons weet nie!

Almal is maar half deurmekaar oor wie nou waar slaap, toe vat Hanlie maar die leisels en ons word so ingedeel.
“Robert – jy deel ‘n kamer met Melinda, ek deel ‘n kamer met Jenny, Riaan en Namakwalander, julle kry die dubbelbed – John, jy moet maar die bank vat bo”!!
Ek stry toe nie met die reëlings nie en vat ewe gedwee my sak en vra: “Melinda, waar is onse 2 se plek?”
“Hier by die lekker kamer – nogal met ‘n “view” en ‘n stort wat se hortjies nie heeltemal privaatheid waarborg nie”
“Great  - kom ons gaan slaap”
Hanlie en die res is self na hulle onderskeie plekke – Hanlie se kamer is reg langs ons sin?
Met die storie van John se boots, nog vars in Robbie se kop, wil hy graag vir Melinda vertel – MAAR hy het net 2 sinne ver gevorder, toe staan daar so blonde bedonnerde duiwel in die deur:
”Kan jy nie sagter praat nie, ek is moeg en gatvol!!!”
Nie Robbie of Melinda waag dit om iets te sê nie – hulle kan sommer sien Hanlie is by bedonnerd veby – MAAR, nie onse neef John nie!! Nee wat, hy los nog so ‘n chirp daar van bo – tot sy verwyd, want toe draai die draak by onse deur om, storm so 3 tree teen die trappe op en laat hoor van haar - “JULLE MOET STILBLY – NOU !!” Daar is die huis dood stil – dankie Hanlie!

Die volgende oggend sleep Robbie op boontoe om John se bankslaap ekskepade waar te neem – hier lê die man op net twee bank kussings, op die vloer wat net genoeg is om by sy boude te eindig – sy bene af ondertoe is op die grond! Langs hom staan die brandblusser en dan is daar ‘n los laken en los duvet wat op die banke hang. Die 2 jong manne is reeds op en sit so lekker en lag. Robbie doen navraag oor die vreemde verskynsel en vinnig word hy ingelig.

Alhoewel Riaan en die Namakwalander in die verlede ‘n dubbelbed gedeel het, was hulle nie bereid om dit onder hierdie omstandighede te doen nie. Nadat hulle albei in die bed geklim het, het die Namakwalander besluit die mense gaan gedagtes kry en hy vat die duvet en stap in na die huis. Arme Riaan word net met ‘n laken en kussing gelos en dis donners koud die aand!
Hy besluit hy sal vrek as hy heelnag hier moet bly lê, en so sit hy ook af terug huis toe. Daar is hulle toe, almal in die sitkamer, met geen matras, behalwe vir John wat probeer slaap op die bankkussings wat hy met deernis op die vloer neergelê het. Riaan besluit, John se moer, hy kan nie al 3 kussings vir himself hou nie en steel toe die onderste een onder hom uit. Die Namakwalander vat toe die bank en lê sommer so op die riempies – ten minste kon hulle so half en half die duvet gedeel kry, maar nie een van hulle het gemaklik geslaap nie!

Die volgende oggend is Hanlie weer haarself en almal kon lekker brekfis eet. Michael stel voor ons ry direk na Swellendam en gaan dan die Tradouwpas oor na Barrydale se pampoenplek vir lunch. So ry Robbie, Melinda, John en Michael die pad met Hanlie, Riaan en die Namakwa man in die bakkie saam soentoe. By Barrydale word daar eers ‘n bier gedrink, ‘n brandy, Hanlie eet iets en toe is ons uit sync!! Almal eet toe, en baie later is ons uiteindelik daar weg. Melinda bied aan dat Hanlie haar fiets ry en daar trek die spulletjie Worcester toe op pad na Du Toitskloof hotel. Hanlie doen baie goed op die fiets en is vol smiles toe ons daar aankom. Vir oulaas word daar ‘n knertsie gegooi en afskeid word geneem. Robbie en Hanlie het na 18h00 eers daar vertrek en na donker by die huis aangekom. Ouma wat die naweek kinders opgepas het, is reeds weg, kinders kyk TV, ouers is moeg!!

‘n Baie lekker naweek en weer moet ons dankie sê vir vriende en die lekker oomblikke wat almal so geniet!!

We’ll ride again – no place to far!!


oooOOOooo
 
Top