Wes-Kaap vakansie dag-trippie

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

ChristoffGS

Race Dog
Joined
Jun 17, 2009
Messages
1,157
Reaction score
6
Location
George, ZA
Bike
BMW F650GS / Dakar
Ek, my pa (Andrie), 2 van my ooms (Louis en Apie), my neef (Abri, 'Staaldraad' op die forum) en nog 'n mede 'biker' van Heidelberg (Boetie) het besluit om Sondag die 27ste Desember so 'n draaitjie in die omgewing te gaan ry.  Louis het ons Saterdagaand gebel en daar is afgespreek dat ons mekaar 06h30 by die Blombos afdraai net voor Jongensfontein sal kry.  Apie en Abrie hou vakansie op Jongensfontein en Louis op Stilbaai.  Dit het dan beteken dat ek, my pa en Boetie so 05h30 mekaar by die BP op Heidelberg ontmoet het  waarvandaan ons toe die stukke ingesit het Jongensfontein toe.  Presies 06h30, na 'n vinnige op-top by die Engen op Stilbaai, kry ons toe die ander 3 waar hulle staan en wag by die Blombos afdraai.

Ek op my F650GS, my pa en Apie beide op Dakars, Louis met sy R1200GS, Abrie met sy GSA en Boetie op 'n Varadero.

Bande is bietjie sagter gemaak en ons het in die pad geval.  Vir die van julle wat nog nie die Blombos-pad gery het nie, ek dink nie daar is 'n beter voorbeeld van 'n 'gravel highway' nie.  Ons het aangehou met die Blombos-pad tot by 'n T-aansluiting waarna ons regs gedraai het na Vermaaklikheid.  Net buite Varmaaklikheid is ons links oppad na Witsand.  Pragtige paaie.  Dit was op hierdie stukkie wat Louis vir 'n muishond 'n Heidenau-tattoo oor sy rug gegee het...

Hierdie pad sluit aan by die teerpad wat die N2 met Witsand verbind, ons is toe links op die teerpad en by Witsand weer regs op die grondpad wat na Malgas loop.  By Malgas is ons oor die pond.  Apie was baie opgewonde siende dat dit sy eerste keer op die pond was - en dit dan nog op 'n motorfiets ook!

Vanaf Malgas is ons via grondpaaie na Swellendam.  Daarvandaan via die N2 na Buffeljagsrivier vir 'n vinnige 'fuel-stop' en toe links afgedraai Suurbraak toe, oor die Tradouws Pas na Barrydale waar ons 'n heerlike brunch by die pampoen plek geniet het (Die van julle wat al ooit op Barrydale was sal weet van watter pampoen plek ek praat, as jy met 'n motorfiets daar aankom kry jy 'n gratis glasie soetwyn en die koffie is ook op die huis.  'n Mens kan nie deur Barrydale ry sonder om daar aan te gaan nie!).

Na die brunch is ons via R62 in die noordelike rigting.  Seker so 20km later regs gedraai, oor Gysmanshoek Pas, verby die Korinterivierdam na Riversdal.  Dit was die eerste keer dat ek en my pa oor Gysmanshoek ry - definitief nie die laaste nie.  Nadat Louis ons ge-stick het vir 'n cone by KFC op Riversdal is ons weer via grondpaaie deur 'Die vlakte', al langs die rivier na Stilbaai.  Boetie moes gaan melk, so hy het toe sommer van Riversdal af N2 langs teruggeskiet Heidelberg toe.

Na 'n lekker koffetjie op Jongens is ek en my pa weer met die Blombos-pad, deur Vermaaklikheid, Oudemuragie langs Heidelberg toe.  Als en als was so 520km sonder enige ongevalle of pap bande.  Vir 'n beter vakansie dag-trippie kon ons nie vra nie.

'n Paar fotos:

001DSC04593.jpg

Ek, my pa en Boetie 05h30 by die BP op Heidelberg

002DSC04596.jpg

06h30 by die Blombos afdraai net voor Jongensfontein

003DSC04594.jpg

Besig om grappe te maak terwyl ek my pa se Dakar se bande check

004DSC04599.jpg

By die T-aansluiting voor Vermaaklikheid

005DSC04600.jpg

Stop vir ontbyt langs die rivier

006DSC04602.jpg

Lekker koffie en toebroodjies

007DSC04604.jpg

Apie met my pa in die agtergrond net voor die afdraai op die stukkie teerpad na Witsand

008DSC04607.jpg

Witsand, afdraai na Malgas

009DSC04609.jpg
Die pond by Malgas

010DSC04610.jpg

Almal aan boord

011DSC04614.jpg

Afdraai op die N2 voor Swellendam

012DSC04615.jpg

BP op Buffeljagsrivier

013DSC04616.jpg

Wag vir brunch by die pampoen plek

014DSC04618.jpg

Versadig en besig om aan te beweeg

015DSC04621.jpg

'n Baie nuwe, baie geel GSA, onbekende drywer

016DSC04624.jpg

Gysmanshoek Pas met Boetie in die verte

017DSC04626.jpg

My pa in Gysmanshoek

018DSC04633.jpg

Terug op Heidelberg, twee baie vuil fietse

019DSC04635.jpg

Daarshy, weer mooi blink en gereed vir die volgende avontuur!

PS:  Vir die souties wat nie so lekker die boeretaal verstaan nie, vra maar vir 'n vertaling  ;)
 
Top