Na Berlepe, verfris en met meer moed, het ons verder gery. Die pad het 'n draai reg oos gemaak en het eintlik half gekompakteer voorgekom, asof die sand minder los is en meer rybaar is. Ek moet erken, Meraai wat saam met my gery het, was 'n ster, en het my baie selfvertroue gegee. Ek is nie 'n wafferse sand ryer nie, maar die manier waarop sy saam met my die sand en grondpad oor die algemeen aandurf, het baie gehelp. Ons het nie eenkeer naby val gekom nie, en sy het na die tyd gesê sy was glad nie eenkeer benoud of beangs nie. Good for you, Meraai, want ek het 'n paar keer gewonder, "Stand up, look up and open up" of "Brieeeeeeek" maar elke keer is ons deur die sand en ek moet sê, die open up het 'n paar keer ons basse gered. Ek het oor die algemeen bietjie oopgemaak (ok, ok, 70 -80km/h is nie oopgemaak nie) maar na 40-50km/h was dit vinnig. Die pad het rerig beter geword.

Maar helaas..... om 'n draai het ek skielik nie meer Willie of Mossie se ligte gesien nie. Ek het dadelik geweet, moeilikheid. Dadelik omgedraai en so 400m terug lê Willie se GS weer pens in die lug en 'n pannier doer in die veld. Daar was 'n sandgat in die middel van die pad, en Willie moes op sy randjie ry.......
Mossie was weer eerste by, het eers vir Willie opgehelp wat blykbaar uit soos 'n kers was, en hom in die koelte gekry. Toe ek daar stop, was Willie grys in die gesig. Meraai het gou water uitgehaal en sy gesig afgestof en vloeistof ingegee terwyl ons die GS uit die stof opgetel het.
Hy was nou nog nie by 'n dokter nie, maar vermoed hy't 'n rib gekraak of gebreek, want hy het steeds seer. Ek het op daai stadium gedink, jou bekommernis was nie verniet. Kyk hoe kry jy nou ambulans of wat hier in die verlate vlaktes.
Maar ophou is min. Pannier is heeltemal afgeruk en ons het dit met 'n tou agter op die pillion sitplek vasgemaak. Al wat Willie vra is dat ek die korste pad Alldays toe moet plot. Maak so, dis ongelukkig diesefde roete en daar is nie korter roete nie.
Foto 1-2: Sandgat
3: Meraai help my om sy pannier op die sitplek vas te maak.
4: Willie wys weer hy's ok.

5: Willie wys dis sy tweede val vir die dag.