My RR op n 30 jaar oue Honda XR 200!
Die oorspronklike plan was dat ons Baie vroeg van Ceres af sou ry, Katbakkies, Middelpos om na Mof se plaas.
Nou ja kyk, ek het mos nou vir n hele ruk nie n bike gehad nie. Die Tdub was Jan of Feb verkoop en toe was dit die hele proses om ' n klein cheap bike kry waarmee ek maar baie kan val en die ding reg kan leer ry. Anycase, verlede Saterdag het ek vir die eerste keer met die outjie gery. Dit het maar 60 km per uur gegaan, ek was redelik op my senuwees, die ding se drombrieke is iets om maar aan gewoond te raak ens.
Toe, Woensdagaand kom die voorstel van Hermanus af, hoekom trailer ons nie die bikes Mof toe nie, dan kan jy so bietjie grondpad ry agter die trailer?
Toe's dit net snot en trane want ek wou die langpad ding vreeslik graag gedoen het! Later, toe die emosies n bietjie begin bedaar, en ek weer begin straight dink het, toe besef ek die manne is reg. Dis n ver ent om so stadig te ry, die bike het nie ligte nie, en wat as die outjie breek langs die pad?
So Vrydagoggend het ons op ons tyd die bakkie gepak, die trailer gelaai en so 10 uur se kant padgevat. Van Hermanus af het ons Worcester, Tousrivier se kant toe gekry, vir Horsepowder naby Aquila Wildsplaas gekry en toe in Tankwa se rigting gery.
Oeeeee! Toe ons by n garage in Tousrivier gestop het kon ek al vrek van opgewondenheid! Tankwa het al hoe nader gekom, wat beteken dat die manne my iewerste gaan aflaai sodat ek kan begin ry!
Toe die klein boeppensbultjies begin wys op die plat aarde, toe laai die manne my en Asjas, my wilddogpuppy af, en daar gaaaaaat ons! Stadig maar seker!
Nou dit was die plan soos wat ek dit verstaan het: ek kry die ouens by Middelpos. En ek het n goeie spesmaas gehad dat hulle dan weer dalk die bike opi trailer sou laai.
Anycase, daar gaat ek en my ou bike, stadig werk ek deur die ratte tot ek so 50 ry en gemaklik voel daarmee. (By the way, op my vukatjie voel 60 stadig, hoekom voel 60 so vrek vinnig op die XR)
Het by n plaashuis tipe plek gestop, net om seker te maak ek is op die regte pad. By die groenbord gemaak soos die rigtingaanwysings se. Net na daai groenbord was die eerste challenge: groot dik vet modder, wat soos n groot luisslang wag om jou bande te gryp en jou te laat val.
Daar begin die asemhalingsoefeninge. Eerste rat, throttle, throttle, throttle, (anders vrek die bike) stadig begin ek deur die gemors te ry ..... Paddle paddle paddle en toe doodse stilte: bike het gevrek. Nou moet ek die stupid ding in die modder kickstart!
Na die bike weer gebrul het, het ek uit die gemors uitgekom en toe verder padaf reg begin asemhaal. Die res van die pad was nogals smooth sailing. Daai gedroogte moddergroewe het my nogals aan my handlebars laat klou, maar dit was seker die beste gids om te leer lyne ry. Een keer het my gat lekker uitgekom toe ek om n modderpoel gery het en ek was sommer needles and pins oralste op my lyf van die skrik. Teen daai tyd het my hande al goed gekramp van al die klou!
Dalk is dit n goeie ding ek is so bang vir daardie drom brieke....want ek probeer dit so min as moontlik gebruik. Anders het ek seker al lankal in die pad gele met die trademark DR styl wat beteken die bike le bo op my.
Al het ek stadig gery, en die arme bike se handlebars gechoke, was ek tog bietjie chaft met myself dat ek nog nie geval het nie.
Right, toe's dit Ganaga wat ek moes oor.....en ek voel nie gemaklik met hoogtes nie! Hoe mense daar kan stop om foto's te neem, weet Vader alleen! Ek het so uit die hoek van my oog gesien hoe als kleiner word, en die afgrond skerper word. Maar self kyk, het ek nie gedurf nie!
Was ek verlig toe ek daar oor was!
Teen daai tyd was my water op en ek het aangestoot om by Middelpos uit te kom. Die gedroogte moddergroewe was maar erg op plekke!
En toe skrik ek my gat af! Vrrrrrroem! n KTM. En toe het daar nog so paar bikes verby my gekom. Ek wou graag waai, maar daarteen besluit en liewerste maar my aandag by die pad bepaal.
Uiteindelik is Middelpos in sig! Moeg maar baie happy draai ek toe daar in en sien n hele paar bikes daar staan. Heimer, Stoetie, Pote, die hele toetie. Gelukkig het Heimer vir my van sy water gegee. Baie baie dankie daarvoor!
Ek wou egter nie te lank daar bly nie, dit het begin laat raak en ek wou aanstoot plaas toe, of altans, kyk hoe ver ek kan kom voordat Nismark en ROV Rat my inhaal en optel.
Nadat ek rigtingaanwysings gekry het was ek en Charlie (bike) en Asjas (wilddogpuppy) oppad na Mof se plaas! Baie dankie Heimer, Stoetie, Neels en Pote vir hulle bedagsaamheid en dat julle seker gemaak het ek is op die regte pad. Ek het dit baie waardeer toe julle soos n klomp ouer boeta's so in die verbyry gecheck het of ek okey is.
Dit was al redelik laat toe ek by Mof se werf ingedraai het. Daar het ek vir Hingsding vlugtig ontmoed en vir hom rigting gevra. (Teen daai tyd was ek al lekker moeg en dit het maar gesukkel om te konsentreer)
Right, Stoffel gee rigting en ek probeer nou resies jaag teen die donker wat baie vinnig aan die nader kruip was. Al wat ek onthou is dat jy moet links draai by die T aansluiting, maar teen daardie tyd op n plaaspad, het enige ding wat links draai vir my na die pad gelyk waar ek moet indraai.
Bang dat ek gaan verdwaal, het ek omgedraai na Mof se werf toe. Gelukkig, baie gelukkig het Hinksding toe met die bakkie in my rigting gekom. Eers het ek gevra of ek agter hom kan aanry maar toe stel hy voor dat ons sommer die bike opi bakkie laai. Toe was dit al donker. Omdat daar nie toue of straps op die bakkie was nie het ek sommer met gear en al op die bike op die bakkie gesit.
Dit was die vinnigste wat ek en die bike vir die hele dag gery het! Bo-op die bakkie!
Ek het net my body armour en my Fox hemp bo-oor dit aangehad en dit was kkkkkkkkoud! Dit het soos ure gevoel voordat ons by die kampsite aangekom het! Dit was een groot geskud!
Moeg, baie koud, honger maar met n awesome gevoel van "ek het dit gemaak!" het ek daar aangeland!
Die volgende dag het Nismark en ek so klein bietjie die plaas gaan verken nadat hulle hul bikes by die stoor gaan haal het, en ek vir die mooiste dingetjie onder die son, Cleo gaan ontmoed het.
Jammer n mens se lyf kan nie byhou met wat jou kop als wil doen nie, want ek sou beslis meer wou ry, maar my hande was so seer van deathgrip dat ek nie Saterdag tydens ons plaasverkenning agter die kloof, die krag gehad het om te kon staan en ry nie!
Sondagoggend, het ek en Nismark met ons bikes tot net voor Calvinia gery en toe het ons die bikes gelaai en langpad, teerpad, omgery huis toe. Die straps op die trailer het nogals n beating gevat oppad bash toe. 4 straps het gebreek!
Die rit was beter as Saterdag sin. Het nie so erg die bike gedeathgrip nie alhoewel ek asemhalingsoefeninge gedoen het vir n vale! Het ok so bietjie vinniger gery op die tweespoor.
Ons het so twintig oor 8 hier in Hermanus aangekom en afgelaai.
En was n stort nie heeeeerlik nie!
Een ding wat vir my regtig snaaks was Saterdagaand: toe Bus daai muis so in die spotlight gesit het!
Baie dankie julle almal vir die lekker lag en goeie geselskap! Dit was great!
XXXXXXXXX