Hierdie huisies in Katbakkies was opgerig deur Boerneef soos hy as digter aan ons bekend is. Die laaste foto is een wat ek in 'n boek gekry het waar die huis darem nog dak op gehad het. Dit was hulle veepos as hulle met die vee vanaf Boplaas getrek het na die Karoo plaas.
Boplaas is nou nog in dieselfde Van Der merwe familie. [ Die van julle wat vanaf Op Die Berg na die Cederberge ry, ry by Boplaas verby. Daar is so 'n groot hoender op die naambord ]
I.W. vd Merwe Boerneef
Biografiese inligting
Boerneef, die skuilnaam van Izak Wilhelmus van der Merwe, is op 11 Mei 1897 op die plaas Boplaas naby Ceres gebore. Hy gaan skool op Ceres en studeer later aan die Universiteit van Kaapstad. Hy verwerf ’n M.A.- en B.Ed-graad. Na universiteit hou hy skool by South African College High School (S.A.C.S.) waarna hy van 1922 tot 1961 as dosent en later professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad verbonde is. Boerneef sterf op 2 Julie 1967 in Kaapstad en word in 1968 postuum met die Herzogprys vir poësie bekroon.
Boerneef was hartstogtelik verknog aan sy kontrei: die Kro, die Kamdebo, Koorsteenberg en Katbakkies; Sikketaarskloof, Soebatsfontein, Speserykloof. In sy vroeëre jare het hy meestal net kortverhale en prosa geskryf en het later (op 61-jarige ouderdom), begin dig. Hy was ook bekend vir sy gedigte oor plaas en stad, asook Karoo-Afrikaans. Boerneef het na sy gedigte as “volkspoësie” verwys.
Het jy geweet?
• Boerneef het saam met D.B. Bosman en later L.W. Hiemstra aan die opstel van ’n tweetalige woordeboek (eerste uitgawe uitgegee in 1931) gewerk.
• Louis van Rensburg het drie van Boerneef se gedigte getoonset as die liedjie “Voshaarnooi” wat veral bekend geword het in die TV-reeks, Ballade vir ’n enkeling.
• Die komponis Pieter de Villiers het van sy ander bekende gedigte soos “Die berggans het ’n veer laat val” en “Aandblom is ’n witblom” getoonset. Dit het ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse kunslied gemaak, en dit was van sopraan Mimi Coertse se gunsteling liedere om te sing.
Bekronings
Hertzogprys vir poësie (1968)
Lys van publikasies
1938 Boplaas, Nasionale Pers
1938 Pensie, Nasionale Pers
1938 Van my kontrei, Nasionale Pers
1941 Stad en land, Nasionale Pers
1947 Sketsboek, Nasionale Boekhandel
1948 Van my kinderdae, Nasionale Pers
1956 Teen die helling, Nasionale Boekhandel
1958 Krokos, Nasionale Boekhandel
1959 Ghaap en kambro, Nasionale Boekhandel
1962 Mallemole, Nasionale Boekhandel
1964 Palissandryne, Nasionale Boekhandel
1967 Op die flottina, Nasionale Boekhandel
1967 Teen die helling, Nasionale Boekhandel
1968 En Tafelberg praat Krotaal, ’n keur uit die verse van Boerneef, Nasionale Boekhandel
1976 Sesde hoepel, 83 ongepubliseerde gedigte van Boerneef, saamgestel deur F.I.J. van Rensburg, Tafelberg
1977 Versamelde poësie, Tafelberg
1979 Versamelde prosa; versorg en ingelei deur Merwe Scholtz, Tafelberg
1998 Die berggans het ’n veer laat val: ’n keur uit sy prosa en poësie; saamgestel deur Wium van Zyl, Tafelberg