Die dorp Steynsburg is in 1872 deur die Gereformeerde Kerk aangelê en was destyds in die distrik Albert geleë. Die lidmate van die NG Kerk in die omgewing van Steynsburg het destyds onder die gemeente Burgersdorp geressorteer. Deur hulle is, veral vanweë die groot afstande (64 km na Burgersdorp), die behoefte aan 'n eie gemeente sterk aangevoel. In 1874 is reeds begin met die bou van 'n eerste kerkgebou, waarvan die hoeksteen in Maart 1875 gelê is. Veral deur die ywer van Johannes C.M.D. du Plessis is die gemeente op 26 Januarie 1876 gestig.