Die broers besoek: 'n 3-dag rit deur die Klein-Karoo & Suid-Kaap

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Karoo Rider

Race Dog
Joined
Sep 1, 2012
Messages
1,730
Reaction score
489
Location
Ladismith WC
Bike
Honda CRF-1100L Africa Twin
Met 'n paar dae verlof op hande maak ek so twee weke gelede 'n afspraak by BMW op George om my fiets se bande te laat balanseer.  Dis egter 'n vermoeiende tog van byna 160km as jy die kortste pad vat, en daarom dink ek goed om die hele besigheid oor so drie dae aan te pak, net om veilig te speel.  Met familie-kuiers wat altyd agterweë gelaat word vind ek gou nog 'n doel vir my rit - ek gaan die Donderdag- en Vrydagaand by my twee broers oorslaap, die een bly in Riversdal en die ander in Knysna. 

Die Donderdagoggend is ek vroeg al op.  Daar's mos altyd so 'n opgewonde senuweeagtigheid in die lug voor 'n ry.  Teen 09:00 is ek klaar gepak en besef dat ek nou seker heeltemal te vroeg op Riversdal gaan aankom, maar met die voorspelde warm weer dink ek goed om maar oor die Langeberge te kom voordat die Klein-Karoo se sonpanele begin "fuses" blaas.

Ek het 'n rowwe plan in my kop oor hoe ek wil ry, maar op die einde het die voorwiel my as volg gelei:

Suid-Kaapkaart_zps669c2a2a.jpg



DAG 1:

Met die swartvark se maag vol petrol verlaat ek Ladismith en "cruise" lekker teen net so 80km/h op die eerste stuk teerpad.  Plek-plek lê die sy-klofies en riviere nog rou gespoel weens die onlangse vloedwaters.  Kort voor lank kry ek die links afdraai na Baviaanskrans - een van my gunsteling paadjies hier in die kontrei.

IMG_1601_zpsc58e2b44.jpg


IMG_1602_zps7469489d.jpg



Terug op die teerpad draai ek vlugtig weer terug Ladismith toe, so 500m verder het ek gehoor is die pad tussen die Grootrivier se twee brûe beskadig.

IMG_1603_zps64bbdb62.jpg



Ook verder af het die Touwsrivier sy lope bietjie skoongemaak.  Die oorspronklike brug, wat deur die 1981 vloed beskadig is, kan nog in die agtergrond gesien word.

IMG_1604_zpsb6de411a.jpg



Ek ry verder en begin vat die ledige draaitjies deur die Wapadskloof.  Die Blouhuis, Adamskraal, die Ark, is name wat verbyskuif.  In die verte aan die oorkant van die Brandrivier staan 'n Ford trekker drywerloos in 'n lusernland.  My oog skuif verder na die doringbome se koelte en ek groetwaai in die lug vir wat dit werd is - en wragties kom daar twee arms teruggewaai.  Plaasmense eet normaalweg 12:00 middagete, maar dis nog skaars 11:00, en ek vergewis myself dat hulle seker vir diesel of 'n trekkerpart sit en wag.

Op Muiskraal se langvlak draai ek regs af op Brandrivier se grondpad.  'n Paar kilometer verder draai die paadjie links, rigting berg toe.  Dis Gysmanshoek se pas.  Met die op- en afgaan kom ek 'n paar baie los dele teë, en die agterwiel probeer gereeld om vir my en die voorwiel verby te steek, maar kom dan weer net betyds tot sy sinne.  Veral aan die suidekant lê die gholfbal-klippe besaai en steur hulle skynbaar min aan enige stuur- of rempogings van my kant af, maar gelukkig kom ons sonder insident aan die ander kant uit.

IMG_1607_zps4b88c693.jpg


IMG_1609_zpsae808a45.jpg


IMG_1611_zps4196852c.jpg



Tussen Gysmanshoek en die Korintedam sien ek weer die regs-afdraai wat ChrisL my 'n vorige keer gewys het, en vandag vat ek hom oor en deur die dennebos tot waar ek aan die anderkant langs die Kraggarivier begin afry Riversdal toe.

IMG_1612_zpsebcb184b.jpg



Sowat 5km voor Riversdal voel ek iets kriewelrigs hier in my nek, en toe skiet die pyn - 'n by het my in die nek gesteek.  Ek's allergies, maar het so wragtag nie pille saamgebring nie.  Ek kan myself skop dat ek so nalatig was.  Ek stop en haal versigtig die helmet en nekstut af, Leatherman se lem uit, en in die spieëltjie kan ek die angel sien sit.  Sonder om die angel te druk, skraap ek hom versigtig uit.  Ek moes seker soos een gelyk het wat staan en skeer hier langs die pad!

Aangetrek klim ek haastig weer op en stoot redelik aan Riversdal toe.  Ek ken nie die plek so goed nie, maar weet dat in of naby die hoofstraat 'n apteek behoort te wees.  Nie lank nie sien ek gelukkig een, stap binne en begin vertel my storie.  Die apteker en assistent gee my dadelik 'n pilletjie en salf.  Blykbaar het daar so tyd gelede ook 'n man daar ingekom weens 'n bysteek, en 'n halfuur later het die ambulans-personeel hom dood daar uitgedra toe die angstigheid tot 'n hartaanval gelei het.

By broer Piet aangekom het ek vir 'n tydjie bietjie moeilik gesluk, maar na 'n middagslapie is die aand se verrigtinge om die braaivleis-vuur voortgesit sonder enige skade of letsels van die dag se gebeure.


DAG 2:

Met my afspraak by BMW vir vanoggend 08:30 word daar vroeg koffie gedrink en gegroet na 'n baie lekker aand wat selfs met kitaarspel en ligte saamsing afgesluit is.  Weens die tydsbeperking vat ek maar die N2, en knap na Albertinia is daar 'n loslopende jong bul in die pad.  Ek ry stadiger sodat hy kans het om oor die pad te kom, maar nee, dis nie sy plan vandag nie, en die volgende oomblik, met my wat al byna stilstaan, laat sak hy sy kop en gee so twee-drie bokspringe in my rigting.  "Bleddie gemors", dink ek by myself, ek trap af eerste toe en maak sommer oop terwyl ek voor hom wegswaai, noodgedwonge in die aankomende baan in - gelukkig nie verkeer naby nie.  Ontevrede laat vaar hy sy planne en wyk wel af tussen die gras langs die pad.

Met die fiets se wiele gebalanseer vra ek dat BMW se manne sommer my battery ook nagaan.  Twee of drie keer in die verlede het dit al gebeur dat die motor uit die bloute baie stadig swaai, maar die tegnikus verseker my dat die battery 100% reg toets, met die volgende diens kan hulle die "starter" laat skoonmaak binne, soms maak 'n stofdeeltjie wat daar ingekom het blykbaar sulke moles.  Aangesien dit eintlik baie lanklaas gebeur het stem ek in met die plan, en verlaat George met die Sewe Passe pad, bo al onder die berg langs.

Hierdie pad is regtig 'n juweel met die digte plantegroei, ou brûe, en pragtige riviere.

IMG_1613_zpsfbb3c3d6.jpg


IMG_1616_zpsd0951c8f.jpg



Gereeld probeer 'n kortpad jou teruglok N2 toe, maar ek skop teë en by elke vurk of T-aansluiting hou ek links, terug berg se kant toe.  By Karatara aangekom besluit ek om in te draai by dié bosbou gemeenskap.  Ek weet glad nie wat om te verwag nie, maar effens verbaas merk ek op dat skynbaar die meerderheid van die (byna eenderse huise) deur blanke mense bewoon word.  Hier en daar kom een uit om, byna uitdrukkingloos, na die vreemde ryding te kom kyk.  Ek waai.  Hande waai terug, maar die gesigte waai nie saam nie.

Terug op die pad bly die gesigte lank in my gedagtes.  Ek dink Karatara se mense sal kan wonderlike stories vertel van die ou dae, die bosbou-lewe, lekker tye, maar sekerlik ook van swaarkry-dae.

'n Paar melkplase volg, en later kronkel die Homtini pas jou tot onder in die kloof voordat jy weer uitkom tot bo by Rheenendal.  Nog verder draai ek weer links af om die Phantom pas te ry met sy pragtige uitsigte.

IMG_1618_zpse2dee7ce.jpg



In Knysna gekom besluit ek om bietjie rond te ry, en gaan verken die Belvidere en Brenton-on-Sea areas.

IMG_1619_zps84a3f076.jpg


IMG_1623_zps0c6d8648.jpg



Hiervandaan ry ek om tot by The Heads, waar ek aansit vir iets te ete by een van die restourante.  Ek verstaan nie die spyskaart se vreemde geregte en benaminge so lekker nie, en vra die kelner vir 'n gewone calamari en chips met 'n slaaiblaartjie of twee.  "Coming up, Sir", verseker hy my terwyl ek solank 'n lemoensap drink.  Klaar geëet is ek nie juis oorvol nie, die porsie was meer so "starter"-grootte, maar dit was heel lekker - tot ek die rekening van amper R160 kry!

Broer Jaco gaan groet ek by sy werksplek, en is dankbaar toe hy solank sy huissleutel aanbied.  Die see se bedompige hitte sit vas in my ryklere, maar na 'n lekker stort is ek weer perdfris.  Laatmiddag het Jaco klaar gewerk en word daar vuur aangesteek.  Hy verseker my dat die ding nog baie lank gaan vat, en dat ons gerus by 'n kroegie daar naby solank kan vertoef terwyl vroulief hout sal bygooi indien dit ooit sal nodig word.

'n Halfuur later onderbreek sy selfoon ons gesels - sy vrou sê die vuur het doodgereën, sy's OK daar by die huis, ons moet maar net vir ons iets kry om te eet want die braaiery gaan nie werk nie.  Die aand verloop lekker terwyl ou gesels ingehaal word, en later word ons ruim bedien met 'n glasie of twee sterkwyn voordat ons aansit vir ete.


DAG 3:

Met die nag se voortslepende reën begin kry ek hond se gedagtes oor my plan om Prins Alfred pas oor te ry.  Daai geel potklei is nie jou speelmaat nie, en op die laaste dag wil 'n man nie te aanhoudend fiets optel nie.  Ek trek weg in Knysna se reën en vat die teerpad rigting Sedgefield/Wildernis  (met die gedagte om dan eerder die Montagu pas by George te doen).  As mens dan nou wel moet teerpad ry, is hierdie deel van ons land seker nie onaardig nie.

Net voor Wildernis besluit ek om regs in te draai by The Lakes, sommer net om te sien hoe dit lyk, en 'n lekker grondpaadjie neem jou om een van die mere tot weer terug by die teerpad.  Die reën het gelukkig opgeklaar en ek trek die reënpak-"liners" uit die baadjie en broek.

IMG_1625_zpsebffdc31.jpg



By die uitkykpunt van die Kaaimansrivier pas stop ek vir twee foto's.

IMG_1626_zps71d4d5ec.jpg


IMG_1628_zps742f3535.jpg



In George gekom drink ek gou koffie by die Wimpy (gratis nogal, toe ek wou betaal), en vat die Montagu pas aan.  Die onderste dele is plek-plek liggies gespoel en ek kan sien dit het hier ook die vorige aand gereën, maar oor die algemeen is die pad goed en klim ek vinnig die hoogte uit.

IMG_1630_zpsfb898255.jpg


IMG_1633_zpsab33258f.jpg


IMG_1634_zps1e6f7e20.jpg



Naby Herold ry ek verby 'n valk langs die pad, maar vreemd genoeg vlieg hy nie weg nie.  Ek draai om en neem 'n foto van die kêrel, seker skaars 2m van my af.  Later val-vlieg hy wel 'n entjie weg, duidelik is sy een vlerk af of ernstig beseer.

IMG_1635_zps3eadd496.jpg



By die Langkloofpad aangekom gaan ek basies net skuins oor en vat die Paardepoort pad (oorspronklik die hoofroete tussen Oudtshoorn en George).

IMG_1636_zps77d1197b.jpg



Nog verder en die Kammanassie dam maak sy verskyning, met 'n lekker grondpad wat deurloop na Dysselsdorp.

IMG_1637_zpsf068c845.jpg


IMG_1638_zps7fc418d9.jpg


IMG_1639_zps7f6fd698.jpg



By die teerpad gekom draai ek regs na De Rust, en net voor hom draai ek links af op die Oude Muragie pad.  Dit was nou die eerste keer wat ek dié pad ry, maar baie beslis sal ek dit weer doen, dis regtig iets besonders met vele klowe en berghange aan weerskante soos jy ry.

IMG_1641_zps187418fe.jpg


IMG_1642_zps033556e2.jpg


IMG_1643_zpsc16d7531.jpg



Die pad loop later langs die Raubenheimer dam en Cango Bergoord verby voordat hy aansluit in Schoemanspoort.  Hier draai ek regs en versterk die innerlike by die Wilgewandel restourant. 

20140125_121459_zps95d60bc6.jpg



So moet 'n bord volstruisnek-boerekos mos lyk - en dit vir 'n baie billike R55,00!

20140125_121854_zpsc347b507.jpg



Klaar geëet is daar 'n probleem:  ek het 'n besondere behoefte om nou bietjie te gaan skuinslê na daai bord kos!  Voor ek egter die gedagte te veel oorweeg zip ek die baadjie toe en gespe die helmet vas - Groenfontein se draaie is net wat ek nou nodig het om die fokus terug te kry op die pad.  Hier en daar selfs 'n bietjie wildsbesigtiging tussen die mooi valleie.

IMG_1644_zpsb39468e1.jpg


IMG_1645_zps709eab2b.jpg



Groenfontein verkeersknoop.

IMG_1646_zps621c8feb.jpg



Die Calitzdorp dam het ek lanklaas so vol gesien.  Wat opmerklik is, is die ooreenkomste tussen dié dam se wal, en die Kammanassie dam waarby ek vroeër die dag verbygery het.  My Pa sê my agterna dat dié twee blykbaar direk na mekaar gebou is destyds, met dieselfde kontrakteurs, masjiene, ens., so die ooreenkomste maak dus sin.

IMG_1648_zps1c64c62f.jpg


IMG_1649_zps5a555517.jpg



Op Calitzdorp gekom pomp ek gou die band harder om so vir oulaas bietjie oor te draai in die Huisrivierpas.  Die pad is stil, en nie lank nie toe steek ou Towerkop sy piek uit waar hy skadu gooi oor my tuisdorp, Ladismith.


Fluit-fluit, my storie is uit!  Dankie vir die saamry.  :thumleft:

 
Top