Katvis vannie weskus innie ooskus vir n naweek

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Straddle

Race Dog
Joined
Jan 7, 2013
Messages
759
Reaction score
1
Bike
KTM 1290 Adventure R
Innie eerste plek verskoon tog want dieselmechanics kannie skryf nie maar foto's kan hulle neem so Straddle skryf en Katvis sal fotos post.

So word daar druk op Straddle (aangesien hy die enigste is wat n gps verstaan) geplaas vir n trippie want Katvis kom kuier vir die naweek. Joiners is natuurlik Katvis - 990R, Straddle en Stroedel - 990R, Pappa en mamma Smurf - Varadero en ook Stiaan wat slegs vir die braai uit George aansluit.

Saterdag word daar laat geslaap en ons groepie vertrek eers 9 uur uit die strand oor sirlowri's pas tot in botrivier waar die plan is om via greyton te ontbyt in riviersonderend. By die ingang na van der stel pas is daar n bord wat aandui dat die pas gesluit is by die kanaanbrug wat ons maar verder op die teerpad hou tot boontjieskraal waar ons op die stofpad klim. Dit is mamma smurf se eerste grondtrippie en pappa smurf bly ver agter om nie haar nuwe rybroek vol stof te maak nie en ook om haar n bietjie mak te maak. Smokebreak by die t aansluiting en tyres word bespreek en ook die uitwerking van die nuwe kragwindmeulens by Caledon wat kilometers ver gesien kan word. Ek wonner hoekom dit windplase genoem word en nie kragplase nie want die wind is mos daar en word nie daar gemaak nie. n Paar nie intelligente opinies word gelug maar soos daar net van bikers verwag word. Net voor Greyton sluit n paar beemers ook by die pad aan maar ons jaag maar verby hulle om nie in hul stof te ry nie. Tog snaaks hoe n mens sukkel om n beemer se stof van n KTM af te was - seker maar die olie inhoud in daai stof of soos die wetenskaplikes sal se 10 dele olie per een molekule stof.

Greyton ry ons maar deur sonder om te stop, waai maar net vir al die bikers op die koffiewinkel stoepe wat sit en bacon en eiers eet. Die ander rede is dat stroedel en mamma smurf nie in daai snuistery winkels losgelaat kan word nie. Dit sal veroorsaak dat die trip in Greyton sal stop en ook dat alle tjoeps, kompressors, brannewyn, mix en naskeermiddel in die panniers sal moet plek maak vir lappoppe, piepklein skiderytjies en gemengde ingelegde beet en soetrissies met tamatie borreltjies. Die pad tot by riviersonderend is uitstekend en spoed word gehandhaaf rondom 120 of meer. In riviersonderend eet ons ontbyt in die nie rokers opelug area. Jy mag rook solank die rookgedeelte anderkant die draad is wat veroorsaak dat die rokers se sigarethand anderkant die draad is en dat die kop na die hand anderkant die draad gebuig word wanneer die sigaret getrek word - nogal snaakse spulletjie om dop te hou. O ja, die Engen doggyloo is ook aan die rokerskant van die draad in die engen piekniek area. Sal nogal snaaks wees as die hondedrol op die piekniekkombers verwar word met n stuk koue boerewors.

Uit riviersonderend in die rigting van Swellendam draai ons links na protem. Hierdie paaie is net so mooi en maar plek plek kan n mens nog die verspoelings van verlede winter se swaar reen sien. Die landerye is ook n miernes van bedrywighede met n duwwelwieltrekkers wat massiewe ploegplanters trek op en af. Hierdie trekkers verjaag sulke klein diertjies wat lyk soos lang eekhorinkies met wit pluimsterte. Ek en stroedel stop by n gat waarin 2 van die dietjies in verdwyn het maar hulle wys hulself nie al roep ons hulle. Ek wonder of iemand weet watse dietjies hierdie is. By n plaas met die naam van welstand is twee massiewe koedoeagtige bokke in n kamp en ek kan onthou dat Robertwp opgemerk het dat hy hierdie roete in die jagseisoen kom doen met sy 690. Nou weet ek ook wat die rede is dat hy n saalsak vir die dertig nul ses uit die umgunie vel wat op sy stoep gele het laat maak. Verder ry ons tot by de hoop waar ons draai in die rigting van malgas.
 

Attachments

  • IMG_1150.JPG
    IMG_1150.JPG
    342.6 KB · Views: 248
  • IMG_1149.JPG
    IMG_1149.JPG
    217.6 KB · Views: 250
Top