Malagas Malligheid

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Matewis

Race Dog
Joined
Sep 23, 2013
Messages
2,487
Reaction score
129
Location
Soneike, Kuilsrivier
Bike
BMW R1150GS Adventure
Na ons Namatrap trippie het my hart see toe verlang.


In my lewe is daar 'n paar reuke wat my hart vinniger en stadiger op dieselfde tyd laat klop. Die reuk van reën, die reuk van 'n varsgeploegde land, die reuk van die see en aangesien ek 'n "petrolhead" is die reuk van motorsport parfuum.


Aangesien ek die trip al redelik lank beplan het ek die weer angstig dopgehou. Die vooruitsig was glad nie goed nie. BAIE reën en dan nog wind daarby!


Ek het net besluit: "Come hell or high water." RY GAAN EK RY. Ek meen maar, dis water, dit maak nat, dit raak droog en die Vader gee dit vir ons verniet.


Vrydag more is ek met 'n goeie gemoed werk toe. Eers my dogtertjie gaan aflaai, teruggekom en vir Saagie gevat werk toe. By die werk het ek verslae gekry van stormsterk winde in die Waenhuiskrans area en dis presies die rigting waarheen ek oppad was.


Toe die horlosie 16:00 slaan het ek soos 'n malletjie gehardloop dat ek buite kan kom. Eerste oog-opslag het gesê ek moet my gat roer want daar is groot reen oppad. Ek maak ook toe so! By die huis gekom het ek net in my ry-klere gespring, panniers vasgemaak en toe begin dit reën. HARD. Met die val van die 3de druppel lui my foon. Ek hoef nie eers te kyk wie dit is nie. Ek weet. Chantelle. Ek besluit toe om nie te antwoord nie. Want ek weet wat die gesprek wat sou volg gaan behels.


Sou ietsie soos volg gewees het: 'Hallo my skat. Jy gaan seker nie in hierdie weer ry nie?' Hardkoppig soos ek is sou ek gesê het: 'Dis net bietjie reën. En 'n biker wat bang is vir natreën moet nooit sy fiets by die deur uitvat nie."


Gelukkig het ek die gesprek vrygespring. Die reën het opgehou en dit was die teken dat ek moet opsaal.


Ek het daar op Saagie gespring en besluit om sommer deur Kuilsrivier, Blackheath te ry. Ek was relatief droog tot by Eersterivier. Vandaar het ek in gietende reën gery tot by Grabouw waar ek gou by die BP garage gestop het vir petrol. Ek het die nodige mense laat weet waar ek is, "Battered down the storm hatches"(lees baadjie toegezip en visor laat sak) en in die pad geval vir die laaste stukkie Franskraal toe.


Ek het besluit om eerder die N2 te vermy en het die afrit na Hermanus geneem. Met die inkom in Hermanus het ek besluit om sommer by F&V City te stop vir steak aangesien dit sommer teen die pad sit. 'n Besluit wat ek later sal berou. By die F&V City aangekom het ek afgeklim en met die afklimslag het ek gevoel daar is meer water in my bootse as in Hermanus se opgaardamme. By die ingang van die F&V City het 'n skoonmaker met 'n mop gestaan. Met die instap het sy my so gekyk, en toe moes ek haar kakebeen van die vloer af optel. Verbasing op haar gesig was duidelik sigbaar. Gou 'n trollie gegryp en deur die rakke gestap na die vleis-afdeling. Met die stappery hoor ek voetspore agter my en met die omkyk is die skoonmaker besig om my te agtervolg met die mop en droog water op soos ek stap!!!





Steakie gekoop, en vandaar die rieme neergelê Franskraal toe. Ek het by die huis gou my panniers afgehaal en die topbox leeggemaak en gery om laaste paar goedjies te kry in Gansbaai. Ek het darem vir OK en die drankwinkel oopgevang. Nodige verversings aangeskaf en toe is ek baie lus vir effens droeër klere en ietsie vir die keel.


Moes darem net eers by die hawe 'n draai ry en wat 'n goeie besluit was dit nie!









By die huis aangekom het ek dadelik vuur gemaak en van my nat klere ontslae geraak. Vuurtjie lekker gestook vir hitte en die nat klere oor stoele gehang naby die vuur om droog te raak. My bootse het die koerantpapier treatment gekry en ek het die koerantpapier nog 2 keer na dit vervang en hulle was nog steeds nie heeltemal droog binne nie.





Heated Grips??




Aandete was 'n TAAI stuk steak, kaassous, opgekookte aartappel en van hierdie klein braaibroodjies met die kaas binne-in. En ai, die brandewyn het soos nog geproe!! Ek het die warmkombers gaan aansit en in die bed geklim. Saterdag gaan 'n lang dag wees!!


Saterdag was ek weer 5:00 wakker soos gewoonlik. Ek het besluit ek gaan rustig klaarmaak aangesien ek nie enigsins gekoppel was aan tyd nie. Die weer het nog lekker deurmekruis gelyk! So teen 8:00 en nog geen koffie in my lyf nie het ek begin klaarmaak. Die verdict was uit. Ek gaan natreën. Vraag was net vir hoe lank ek gaan droog bly. So teen net na 9 het ek in die pad geval. Rigting Die Damme.


As ek in die hele off-road vibe is probeer ek so kort as moontlik teerpad ry. Die paar kilos van Franskraal na Pearly Beach het my later grensloos irriteer. My hart het die grondpad gesoek. Net mooitjies so 2km voor Pearly Beach se kruis sien ek hoe trek daar 'n bui reën oor die Damme. Presies die pad waarheen ek oppad is. Die oooh he e gedagte het net my brein getref toe slaan die eerste druppel my visor.


Net na dit toe gaan my flicker aan, regs Pearly toe! Ek het gery om 'n afdak of iets te kry en net die eerste bui reen te mis. So 20 druppels later het ek sommer tot voor teen die see gery. Dit het gelyk of die reën so semi verby trek en ek het gestop vir 'n paar fotos.





Die reën het mooitjies getrek en ek het op Saagie gespring, reg vir die grondpad! By Pearly is ek sommer reguit oor die kruis, en het gery tot by die B-bos Elim T-aansluiting





Hier het ek regs gedraai en later het daar weer 'n paadjie regs afgedraai na Elim. Ek het hier afgedraai, deur die driffie en toe ek die bult uitgaan sien ek hoe kom die reën. Ek het net daar omgesit en besluit hier gaan ek nog nie natreën nie. Nodeloos om te se het ek Saagie se oor gedraai in die rigting van Napier. Ek het nog nie koffie gehad nie en die cravings was groot vir 'n lekker beker boeretroos.


In Napier is my en Chantelle se gewone stopplek Pascals in die hoofstraat. Ek het ook toe sommer daad by die word gevoeg en gestop vir ietsie te ete. Die atmosfeer in Pascals is altyd lekker rustig. Ek was alreeds effens modderig na die stukkie grondpad en het besluit om sommer buite onder die afdak te sit. Die reën het musiek gemaak op die sinkdak, die koffie het soos manna uit die hemel gesmaak. I was at ease with the world, and the world was at ease with me.











Soos gewoonlik het die eienaar ook kom hallo sê. Met die reën wat so lekker val het ek nog 'n beker koffie bestel. Eienaar sê toe hy kan sien ek is nie gejaagd nie. Ek antwoord toe nee. As ek die helmet oor my kop trek gaan staan tyd stil. Dan is daar niks en niemand wat my kan of gaan aanjaag nie.



 
Top