Onbeplande oorslaap op Bitterfontein

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Hoorn

Pack Dog
Joined
Mar 30, 2012
Messages
87
Reaction score
0
Location
Wes-Kaap
Bike
Yamaha XT 660 Z
Dit is Donderdagoggend, 6 September, omstreeks 10:30. My Yamaha Tenere 660 is gepak vir ‘n beplande reis van 17 dae op my eie vanaf my tuiste  tot in die noorde van Namibië en terug.

My twee panniers met my kampeertoerusting, spaarbinnebande, gereedskap, noodonderdele, klere, so 'n bietjie kos en ander noodsaaklikhede weeg elk so 13 kg en die topbox so 11 kg.

Verder het ek 'n grondseiltjie en 'n klein opvoustoeltjie en 'n koelhouertjie met kos voor die topboks vasgemaak. Ek het ook 'n tankbag met my kamera en so paar ander goeters.

Die eerste dag kom ek eers 11:00 weg nadat ek die vorige aand tot 20:00 gewerk het en die oggend nog 'n paar goedjies moes afhandel. Ek ry van Oudtshoorn oor De Rust, Prins Albert, Prins Albertweg, Merweville, Sutherland, Middelpos tot kort duskant Calvinia waar ek by 'n plek met die naam Berghaven oorslaap.

By Prins Albertweg vra ek die petroljoggie om my bande tot 1,5 bar af te blaas. Ek onthou hy het met die agterband gesukkel. Hy het egter bevestigend geantwoord toe ek hom vra of hy reggekom het met die agterband.

'n Gedeelte van die grondpad na Merweville, wat so vyf of ses hekke in het, gaan deur 'n baie mooi omgewing met pragtige uitsigte oor die Karoo-landskap.

In Sutherland gooi ek petrol in, drink koffie en gaan kyk na die Hoërskool Sutherland waar my pa meer as 60 jaar gelede as jong man skoolgehou het. Daarna vat ek die R354.

Die aand nadat ek by my bestemming (langs die R354) aangekom en afgepak het, gaan sit ek buite en kyk na die baie sterre. Ek ervaar 'n gevoel van vrede. My reis het begin. Ek pla niemand nie en niemand pla my nie.

Die volgende oggend val ek 08:00 in die pad. Ek wil vanaand by Vioolsdrift slaap. Eers is dit Calvinia, vandaar met die R355 na Middelpos en toe Loeriesfontein waar ek ontbyt eet en foto's neem by die dorp se welbekende windpompe. Die tyd van die jaar staan hulle tussen die blommetjies. Die man by die hotel waar ek ontbyt geëet het, sê dit is ook die moeite werd om na die blomme by Loeriesfontein se begraafplaas te gaan kyk. Dit is oortrek met oranje blommetjies.

Nadat ek 'n foto of twee daar geneem het, vat ek weer die R355 - bestemming Springbok.

Die omgewing het 'n heilsame uitwerking op my. Ek voel goed. Langs die pad is daar plek-plek nog mooi blomme. Neem nog 'n foto of vyf.

In 'n stadium sluit die R355 by die R358 aan. Toe ek by die T-aansluiting stilhou om regs te draai, dink ek daaraan hoe handig die GPS is. Hoef nie 'n kaart uit te pluk om te kyk nie. Die GPS wys draai regs.

Ek draai regs. Dit was omstreeks 13:30. Die volgende wat ek onthou, is dat die motorfiets buite beheer begin ruk. Hoewel ek nie rerig weet wat "tank slap" is nie, beskryf dit baie goed wat ek ervaar). Ek besef: "Hier kom groot kak!"

Die volgende wat ek onthou, is dat ek verward van die grond af opstaan. Die motorfiets lê plat en een van die panniers en die topbox is oopgebreek met baie van my bagasie wat in die pad rondlê. Die tweede pannier is ook van die fiets afgebreek, maar is hoewel vol duike darem nog toe.

Ek gaan tel dadelik die motorfiets op, maar dit is duidelik dat dit erg beskadig is en dat my reis na Namibië in sy moer is. Ek besef ek is baie gelukkig dat ek geen ernstige beserings opgedoen het nie. Wat die seerste gekry het, is my ego. Ek let op die stuk pad waar ek geval het, is kwaai sinkplaat (groot hobbels) en is met 'n dik laag rooi sandgrond bedek. Ek kan nie onthou dat ek dit gesien het voordat ek geval het nie.

Wat my pla, is dat ek niks kan onthou van wat die "tank slap" voorafgegaan het nie. Ek kan ook nie die stuk pad tussen die T-aansluiting en waar ek geval het onthou nie. Ek kan nie onthou dat ek gesien het hier kom probleme voordat dit te laat was nie. Het ek diep in gedagte geraak? Ek kan nie dink dat ek aan die slaap geraak het nie, want ek het in geen stadium vaak gevoel nie.

Ek ook kon nie foto's van die toneel neem nie, want my kamera, wat om my nek gehang het, het met die val in die slag gebly. Ek het ook nie daaraan gedink om my selfoon te gebruik nie.

Kort daarna kom daar toevallig 'n ambulans aan. Die ambulansman sê hy kan my nie help nie, want hulle moet 'n pasiënt gaan oplaai. Hy sal egter wel die Polisie ontbied. Iemand vat my tot by Kliprand sowat 5 km van waar ek geval het. Daar is 'n klein winkeltjie van waar af ek my my vrou bel en laat weet van my teenspoed. Ek bel ook 'n vriend van Onrus wat dadelik inwillig om my te kom haal. 'n Boer van die omgewing vat my die middag tot by die Bitterfontein Hotel.

My vriend van Onrus kom so tienuur die aand daar aan. Ons besluit om eers die volgende oggend terug te ry.

Dit was nie deel van my beplanning om op Bitterfontein oor te slaap nie.

Intussen het die Yamaha-handelaar waar ek die motorfiets gaan ingee het om te herstel, vir my 'n kwotasie vir die herstelwerk gestuur. R70 000 se skade.

Gelukkig is die motorfiets verseker. Moet nog eis indien.

Ongelukkig het ek nagelaat om my helmet, my kamera en my GPS, wat ook alles moer toe is, te spesifiseer vir versekeringsdoeleindes.

So paar lesse wat ek geleer het, is die volgende:

* Moenie te ver grondpad op een dag ry nie, veral vroeg tydens 'n reis en nog te meer as jy nie 'n baie ervare grondpadryer is nie. Grondpad verg volgehoue konsentrasie.
* Maak self seker dat jou banddruk reg is. Na die val het ek die banddruk nagegaan. Die voorwiel was 1,5 bar, maar die agterwiel was nog 2,2 bar. Die petroljoggie van Prins Albertweg het nie die agterwiel se druk tot 1,5 bar verlaag nie, al het hy dit te kenne gegee.
* Ek vermoed dat 'n motorfiets met vrag anders hanteer as een sonder vrag.

Enige insette oor wat fout kon gegaan het, sal waardeer word.

Ek het ook besluit dat ek sal baat by 'n motorfietsryklas of twee.
 
Top