Rebel Ride na Zinyala.

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Veldbrand

Grey Hound
Joined
Oct 29, 2009
Messages
5,691
Reaction score
0
Location
Koedoeskloof, Dwarsrivier, Ladismith, WC
Bike
BMW R1150GS Adventure
Wat ek kan onthou...  :confused2:

As die Rebel :paw: jou nooi vir ‘n naweek weg in die Waterberge hoort jy te weet om meer kopseer pille te vat as petrol.
En jou lagspiere te kondisioneer voor jy wegtrek want jy gaan jou gat af lag en ‘n moerse jol hou.

So na ‘n hewige geskarrel deur almal om betyds proviant by bra Dodo te kry teen Donderdagaand wat Oom Peet vir ons sou aanry kon ek nie slaap nie. Te opgewonde.
Die sakkies klere was klein maar daai bakkie se gat het lam gehang van die res.
Julle weet mos.... :bar:

Nou ja, by die onmoetingspunt gekom vind ek vir Thuli ‘n varkboer van duisende, en nee, hy ken nie almal se naampies toe Dodo hom later die aand om die vuur vra nie.
En Wilhelm ‘n uitermatig droeë kondoomsmous van voersakke aan die die boere. Dis sulke lang wit plastiek sideways silo’s wat mens deesdae op die lande sien lê.
Dié twee het al die pad uit die Oos Vrystaat gery met hulle  “2 blocks of flats“ (1200’s – Cocky) om die naweek saam ons te geniet.
Ek waarsku hulle ewe windgat hoe Dodo, Cocky, Carrots, Hondsekierie, Les Orange Rapide, Jules en SuperPowerWheelieDave hulle gaan besig hou die naweek.
Minwetende dat die twee manne ‘n paar planne van hul eie het. En boonop het ons ‘n maatjie wie dieselle taal as wat SuperDronk preuwel vir homsgevimdsOomzsh...
Party manne het nog ‘n paar takies by die werk gehad om te doen en sou eers laatmiddag ry.
So die FS manne, Dodo, Jules, Thuli, Wilhelm, Die Lemoen Blitsig en ek trek toe daar weg en naby Pyramid swaai ons links van die ou Warmbad pad af op die terra fantastique.
Maar net voor dit, omtrent 09h00 by die laaste SE/HP sous-stop, hoor ek ‘n bekende ge-tshhh... van ‘n sekere tiepe geblikte hops versnappering en toe ek omdraai toor Jules nog ‘n paar uit sy XT se wande met ‘n onweerstaanbare vriendelike en gasvrye  grinnik op sy bakkies.
Nou ja, ek kan julle nie veel vertel van die scenery nie want die Spoed Sitrus het die voortou geneem. En laat jy nou net agter raak dan rek daai oë soos my wiskunde onnie sin as ek alweer my huiswerkboek “vergeet” het. Maar dit was groot sports. Orals groot modder poele en die bosveld is groen en hoe verder noord hoe weliger.
Tot by die Koekepan waar ons ‘n ligte etetjie en nog ‘n paar hops koendrinks geniet het.
Snoesige kroegie met twee volronde dolla’s wie gierig bedien.
Dis omtrent hier waar ons agterkom hoe droog ‘n Vrystater kan wees.
En hoe meer jy hom nat maak hoe droeër word hy.
Gin wonder hulle kla altyd so oor die reën nie.
Vandaar oor Bakkers- en Rankins Pass na Zinyala naby Alma met ‘n onbeheerbare gegiggel in my helmet. Nie seker of dit van die lekker bike ry, FS grappe, die hops shakes of die vooruitsig van ‘n groot naweek was nie.
Hey, maar wat ‘n spot!
Lekker lapa onder ‘n groot boom met kuier k’buis en so 7 klein kamertjies vir 14 gaste tussen die koppies. Hier en daar ‘n langnek spikkel perd en Njalas. Baie ander potensiële biltong wat onvermoeds aan grassies peusel.
Toe ek die hope vuurhout en genoeg ys sien, weet ek my vermoede was reg.
Teen skemer, toe die ander manne daar aankom, is hulle met reeds oordadige gasvryheid verwelkom en toe raak dit eers lekker.
Ek kan gladnie al die detail onthou nie maar dit was ‘n lang aand van baie uitbundige geskater, properse steaks, rosyntjie mampoer en lang stories met vele knippies sout. ;)

Die bulderende gegil van Koptoeraal Haastige Naartjie omtrent 07h00 Saterdagoggend het ons almal laat besef hoe vrolik die vorige aand was, maar dit was die plan, en ‘n man moet hou by sy woord.
Met heelwat gemor om die koffieketel en sommer gou weer ‘n ge-tshhh... van ingelegde Germaanse versnapperingtjies het ons dit reggekry om teen 08h30 te vertrek op die dag se rit.

Maar eers moes ons ‘n sekere bult uit...
So 40˚nommertjie met los klippe van alle grotes met kinkels en reën afloop slote vir ekstra genot en hier en daar ‘n wheelie geleentheid...
Ek en my geliewe Varkie weeg saam so 400kg, en dis voor brekvis. Ons stall toe natuurlik so halfpad die bult uit en veroorsaak ‘n ma se konsternasie agter ons. Ek kry die tenk weer aan’t klim maar al die manne agter my is in ‘n panarrie en hang terug, stall, val, vloek en skêl en dit vat ‘n goeie uur om almal teen daai simpel koppie uit te kry maar weereens, ‘n man moet hou by sy woord.
Sekere lede het selfs hulle bikes in SM modelle verander teen die tyd dat ons bo uit is, maar ons praat nie uit nie.
“Maar daar’s altyd iets om na uit te sien“ meen die man met die meeste skade terwyl hy verwys na iets met eis in.
Goeie attitude my vriend!
Ek sal ook liefs nie noem hoe die “block of flats“ teen die plakkers gevaar het nie. Dit sal nou net weer daai “brand“ wurms met die skerp tongetjies wakker maak.
Gaan ook nie noem wie watter skoeters aan watter kant van die berg gelos het die tweede aand nie...
Julle weet wie julle is. 
Na ‘n rondte van groen ambulansies by die local spaza gooi ons toe oor Rankins rigting Vaalwater se kant toe.

So halfpad teen ‘n bult uit om ‘n slap draai kry ek vir Jules wie langs die pad staan met sy nuwe vriend die Spierbol, kompleet met help-my-sterk-lyk toppie en glossy blou ballet skoentjies.  :knob:
Dié is effe omgekrap. Nee seker meer as dit. In fact die are op sy voorkop bult amper soveel soos die octaseps aan sy wysvinger never mind sy bo-arms. Blykbaar het ‘n sekere ander lid hom bietjie skrik gemaak teen ‘n redelike pas van voor af en hy gaan ons bliksem.
Hy wil eintlik agter daai so-and-so se ma se aanjaag en hom vermorsel. Die man gil. Erg! En hy sal sy Hyabusa bring dan wys hy nou vir ons wat spoed is. Ons weet blykbaar niks.
Ek en Jules staan hom net en kyk en wonder hoe lank dit sal vat vir ‘n ambulans om tot hier te kom en weer terug na die naaste hospitaal toe sou hy nou wel ‘n korrenér skiet want dis nou nie meer lank nie.
Gelukkig kom die res van die spannetjie aangery en hoe meer van ons daar stop om sy gesanik aan te hoor hoe kleiner raak sy skouerkies.
Ons ry toe maar terwyl hy nog so rukkie vir die kranse en ons stof staan en gil.
Die lekker pad, die grom van daai bromfietse en selfs die kolle diep sand en vieslike erosie cleavage het ons gou laat vergeet van hom maar vir die volgende paar smoke breaks het ons nog gelag oor sy gladgeskeerde maer beentjies wat uit daai kortbroek gehang het.
By Vaalwater vind ons ‘n burger wat ‘n Boerboel sal laat huiwer. En natuurlik ‘n paar koues.
Toe slaat ons die tarentaal pad soos Kierie hom roep.
Man dis mooi. En hy hou nie op nie. Kilometers van salige kronkel stof oor die koppies, deur die spruite en dwars oor die vlaktes, alles net Bosveld. Maak ‘n ou van voor af bly en trots dat die Hensoppers verloor het. Ja ek weet ons het nou ander issues...
Maar tot Maandag toe is die lewe weer ‘n lied. 

So 16h00 kom ons tam by die kamp terug en Petrus die plaasbestuurder staan by met die Cruiser.
Met cooler gepak sak ons af na Loubad die buurplaas, om bietjie die dag se stoffies in die bron se warm poel te gaan afspoel. So sewe ander manne is reeds in die poel en die ouens duik sommer in met blikkie in hand.
Nee sê die een oom  ons moet sommer v’naand daar na die saaltjie toe kom, hulle is ‘n accapella groepie en pak ‘n gospel uitvoering uit.
Tjoepstil.
Tshhh.... sê die blikkie.
Na nog ‘n paar grappe is die koor toe daar uit.
Die water sak sommer toe hulle uitklim want so paar van hulle sal ‘n albino seekoei sommer maklik spils maak.
Dit raak toe donker en Petrus kom haal ons en neem ons liefs kamp toe voor een van daai ander manne insit of boeke vat.
Daar bou ons toe gou ‘n groente potjie. Sorrie, ek bedoel hoender.
Maar net gou ‘n paar worsies vir ‘n voorsmakie.
Nog lang stories en langer drankies maar die manne was kis na die dag se karjakker.
Niks so lekker soos ‘n hardehout vuurtjie met ‘n dubbel en ‘n paar grapgatte  daar diep in die Bosveld nie.

Sondagoggend is die manne haastig want dis jou Ma se dag en die Vrystaters moet nog vêr sleep.
Maar nou ja, mens moet net nie te gemaklik raak nie want nes jy dink alles het goed afgeloop kry jy ‘n papwiel.
Nee, eintlik twee.
Ja, dieselle ou.
Dis net soos om te hitch hike.
Nes jy dink jy gaan nié ‘n lift kry nie, kry jy nie een nie.
Maar gelukkig het ons maatjies wie almal inspring en help.
Op Warmbad klap ons gou ‘n ete by die Dros is Tos maar die locals kyk ons maar skeef want ons lyk soos ou gehawende modderbespatte stowwerige woestyn rotte oppad na ‘n Mad Max konfensie. Veral gemeet teen die Harley posers wat daar in swank met hulle Sondag speed tossels en blink R3000-00 leer beursies.
Maar soos Kierie tereg vra, wat dink hulle van óns?
Ek, voel nada vir dit want ons het ‘n bevange naweek gehad en dankie aan almal wat daar was.
Julle het almal julle eiesoortige geurtjie bygedra tot ‘n great  ondervinding en hopelik kan ons weer weer so maak.
Die skade aan die fiets kan reggemaak word maar gelukkig het niemand seergekry nie.
Aan Les Orange Rapide, baie dankie vir al jou moeite en dankie dat jy die geleentheid met ons gedeel het.
Jy’s ‘n yster ou perd!
Hop die Rebels :paw:!

Hier ‘n paar kiekies.
PS. Die ander manne ook hulle pieks pos seblief. Daar’s mooies.






 

Attachments

  • Jules se XT stash kry slae.jpg
    Jules se XT stash kry slae.jpg
    99.3 KB · Views: 456
  • Smoke break nommer X.jpg
    Smoke break nommer X.jpg
    75.3 KB · Views: 452
  • Dodo gooi vir Grietjie.jpg
    Dodo gooi vir Grietjie.jpg
    66.1 KB · Views: 450
  • 1,2,3,4 staan in 'n ry!.jpg
    1,2,3,4 staan in 'n ry!.jpg
    25.1 KB · Views: 450
  • Jules ontmoet virWilhelm en Thuli.jpg
    Jules ontmoet virWilhelm en Thuli.jpg
    61.5 KB · Views: 451
Top