Suidkaap, Maart 2014

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Emil

Pack Dog
Joined
May 8, 2009
Messages
321
Reaction score
1
Location
Cape Town
Bike
Honda CRF-1000L Africa Twin
So besluit ek toe om vir 'n week of twee Suidkaap toe te gaan, ten einde 'n bietjie te gaan navorsing doen oor 'n projek wat ek aanpak.

Ek is die oggend net na sewe hier weg uit Vredenburg onderweg na die Paarl (my eerste stop). My roete was in 'n oostelike rigting, met die gevolg dat ek mooi moes mik om die vroeë oggendson uit my oë te hou.

In die Paarl stop ek voor 'n restaurant met die wonderlike woord "LavAzza" aangebring op 'n groot wit kennisgewingbord. Ja, ek kan koffie kry, sê die kelner. Maar hulle is nog nie oop vir ontbyt nie (09h00)!

Terwyl ek koffie drink, vra ek uit oor my voorgenome roete na Worcester toe. Die gesprek verloop min of meer as volg ...

Ek: Hoe is die pad oor Du Toitskloof - pas?
Kelner: (frons) Nee, dis nie baie goed nie.
Ek: Wat bedoel jy?
Kelner: Wel, ...
Ek: Is dit vol gate?
Kelner: (verlig) Ja, dis vol gate.
Ek: Hobbelrig?
Kelner: (met dankbaarheid en groter verligting) Ja, dis baie hobbelrig.

Ek is daar weg met die voorneme om die donker, uitlaatgasryke Hugenote - tonnel net buite die Paarl aan te durf, maar skielik sien ek die inligtingsbord waarop die afdraai na die Du Toitskloof - pas aangedui het en ek besluit om self te gaan kyk hoe dit lyk.

Terwyl ek deur die Pas ry besluit ek (nie vir die eerste keer in my lewe nie) om die raadgewers wat oor my pad kom met oorleg te kies en nie sonder meer die eerste beste ou se woord as die waarheid te aanvaar nie. Die Pas is pragtig! Die pad het nié gate in en en dis glad nie hobbelrig nie.

Ek stop in Worcester vir 'n ruskans en koffie en iets om te eet. Ek maak ook daar my Tiger se brandstoftenk vol en kies koers Swellendam toe.

Onderweg is daar padverleggings en omdat ek 'n motorsfiets ry kan ek heel voor in die ry voertuie gaan staan en wag.  :laughing4: Die foto van my is tydens hierdie uiters vervelige wagtydperk geneem.

In Swellendam is daar 'n restaurant wat ek (en ook my vrou wanneer ons per motor iewers heen reis) nie verbygaan sonder om iets te eet nie. Tydens my alleenrit om Suid Afrika (RR se taalgebruik en styl word tans finaal geredigeer en behoort binnekort op hierdie forum te verskyn) was ek bevoorreg om Thys te ontmoet; 'n vriend met integriteit en 'n hart van goud. Terwyl ek die restaurant nader en voorlopig al parkering soek, sien ek iemand wat net op pad is om in sy motor te klim oorkant die restaurant: Thys!

Na 'n werklik aangename ete en gesprek met vriend Thys, is ek weer terug in die saal en op pad na my uiteindelike bestemming: Jongensfontein.

In 1977, na my militêre diensplig, is ek terug na my werkgewer, t.w. Volkskas Beperk (Volkskas, tesame met Trust Bank, United Bank, ens. het saamgesmelt om die reus wat ons as ABSA ken, te word) en word ek aan die einde van die jaar gevra om aflosdiens te gaan verrig in ... Albertinia. Tydens dié tydperk in Albertinia maak ek o.a. kennis met die naam "Jongensfontein". Op Jongensfontein, word ek geesdriftig vertel, dans die jongklomp naweke dat dit net té lekker is!

Nou ja, tydens my rit om die land het ek toe, werklik per toeval, een stormagtige nag gesukkel om 'n geskikte oornagplek op Stilbaai te kry in die storm en het ek, strenggesproke, verdwaal en op die pad Jongensfontein toe beland.

My verblyf daardie aand was so gerieflik en die omgewing die volgende oggend so mooi, dat ek myself voorgeneem het om so gou moontlik weer op Jongensfontein te kom kuier. Ek was nou op pad Jongensfontein toe!

Halfses stop ek voor my blyplek vir die volgende twee weke! Op die foto is dit duidelik dat my Triumph Tiger nog totaal onbewus was van watter paaie (lees: stof - en grondpaaie) vir ons voorlê.
 

Attachments

  • 20140304_145724.gif
    20140304_145724.gif
    439.5 KB · Views: 325
  • IMG-20140304-WA0001.gif
    IMG-20140304-WA0001.gif
    425.5 KB · Views: 315
Top