Tussen my en jou lê daar 'n berg ...

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Colyn

Race Dog
Joined
Sep 4, 2007
Messages
1,295
Reaction score
0
Location
Nelspruit
Bike
BMW R1200GS
Vanoggend sit ek hier en kyk oor my koi damme uit en ek wonder ... wonder of ons nie soms dalk die lewe te vinnig vat nie. Ja ek weet die werk druk, die bank druk en dit laat die werk weer druk en so gaan dit aan.

Die laaste kwartaal van 2009 was a wille stuk pad vir my en my partners en ek was 3 keer af Kaapstad toe. Twee keer gevlieg en een keer met die kar. Die vliegding is gladnie vir my nie ... gedurig 'n gejaag en gewag en op die einde met al die gewag spandeer jy meer tyd in transito as wat jy verwag.

So kom dit dan ook dat skaars was ek terug by die huis net voor Kersfees of dinge begin te kook en dit word duidelik dat ek weer moet Kaap toe. My heel eerste impuls was ... not a damn is ek op die vliegtuig. Ek begin beplan en weet uit ondervinding dat ek vir so om en by 16 ure op die pad gaan wees. Sestien ure ... dis a lang tyd en toe skuif my gedagtes ... Tripwired se leuse is mos ... "The Journey not the Destination" en ek kyk weg van die kar af. Weens omstandighede buite my beheer was die laaste twee jaar maar skraal op die bike ry kant en ek besluit dis nou sulke tyd. Tyd om die ou goue perd op te saal en die langpad te vat.

Ek gaan julle nou nie verveel met al die opmerkings van my familie en vriende nie maar daar was verwys na my geestesgesonheid, my ouderdom en nie een van die verwysings was baie vleiend nie. Hoe meer tirades hoe meer begin ek moerig raak en dinge raak soms warm hier in die huis. Nou ek het so tyd terug 'n stuk geskryf oor hoe dit vir my was om weer aan te pas om alleen te ry nadat my goeie vriend en saalmaat weg getrek het uit die Laeveld uit. Alhoewel my besluit geneem was het ek diep gewroeg oor die werklikheid van so lang rit alleen. Hierdie wroeging was egter baie diep in my weggesteek en net my eie private stryd. As ek iets daaroor sou uitlap dan was daar verseker petrol op die vure en sou ek waarskynlik geswoeg het onder die druk en maar met die kar gery het.

Hoe nader die vertrek dag gekom het hoe stiller het ek geraak want laat ek nou maar eerlik wees ... ek het begin twyfel of dit 'n goeie ding was. My berekening was dat aangesien ek die Maandag in die Kaap moet wees sal ek Saterdag hier uit die Laeveld uit vertrek en dan op Bloemfontein oorslaap en die Sondag in die Kaap aankom ... heeltemal betyds vir my besigheid daar. Sodoende ry ek dus oor die naweek en die argument van TYD is dus nie werklik toepaslik nie. Nouja so kom Vrydag aan en ek pak my goedjies in en laai die bike. My vrou kon duidelik sien dat ek gespanne was en in my binneste het dit gewoel. Ons Suid Afrikaanse mans is mos doodbang om te erken as ons skrikkerig voel vir iets, nee jong jy sal liewer erken jy het ligaamlike gebreke as wat jy sal toegee dat jou binneste so bietjie omgekrap is.

20100123_MG_1664.jpg

Saterdagoggend is ek in die saal en my vrou staan langs die bike terwyl ek regskuif en probeer nog so laaste maal my oortuig dat ek die kar moet vat. Nou dat ek na die foto kyk wat my seun van die vertrek geneem het kan ek duidelik sien dat ek sleg gestress het.

My broer het aangebied om saam met my te ry tot by Milly's en so sleep ons uit Nelspruit uit. Hy voor en ek agter hom. Soos die kilos verbyglip voel ek hoe my gemoed begin kalmeer en teen die tyd wat ons die Schoemanskloof afdraai vat is ek gemaklik en die bike se sagte gedreun streel die rou senuwee punte plat.

20100123_MG_1674.jpg

Ons eet ontbyt by Milly's en ek verspeel bykans 'n uur hier. Ek geniet Andre se geselskap en die gedagte aan die lang ure alleen op die pad lê soos a berg voor my. Net voor elf uur is ek terug in die saal en nou lê die trek af Bloemfontein voor my.

20100123_MG_1721.jpg

Volgens my berekeninge sal ek op die N12 naby Ogies by die Total garage moet volmaak sodat ek daarvandaan Kroonstad kan maak sonder om in Johannesburg te stop. Wel so gemaak en net hier slaat die ding van alleen ry my so liggies teen die wang. Die weer lyk dreigend en ek moet stop, my baadjie uittrek en die zips op my rug toetrek en weer my baadjie aantrek. Hoe maklik is dit nie om net na jou vriend te draai en hy pluk jou zips toe ... 'n klein dingetjie wat ons miskien nie altyd genoeg waardeer nie.

Nie lank nie en die hemel maak oop. Oor die helse ondervinding by Gilooly's verby in die stortreen, verleggings, mal verkeer, wasem in my visor, swak sig, diesel en olie en trokke en karre en verwarrende tydelik padtekens sal ek liewer nie nou skryf nie want dis net hel en niks lekker nie. Nadat ek die bloody afdraai na die N1 gemis het en by die skouterrein verby omdraai en terug skarrel terwyl dit sous dat dit bars beland ek uiteindelik op die N1 en spoed ek Grasmere tegemoet. My ingewande is aan vlarde en my moer kook vir myself ... is ek van my sinne beroof om hierdie soort ding op my ouderdom aan te pak en dit terwyl ek baie ander opsies gehad het.

Maar nouja van omdraai is daar geen sprake nie en Florence gil skril toe ek by die tolhek deurglip op die hakke van 'n haastige man in Mercedes. Dit reen nog maar maar nie so hard nie en my sig is goed. Na 'n vorige snotterige ondervinding met Diesel en reën by Belfast so tydjie gelede is ek hiper sensitief vir blink paaie. Jan Staal se opmerking op een van die Woema episodes oor blink kolle bly ook by my. Die ou in die Merc hou so 160 en ek sit op a lekker afstand agter hom. Daar is min tyd vir rondkyk en dis net konsentreer. So glide ek maar weer by Kroonvaal deur op die wieke van eg Afrika skril gille en lag hardop. Met die versnelling uit Kroonvaal uit sien ek so uit die hoek van my oog 'n fiets met twee mense op wat op die kant staan en wegtrek. Aha dog ek ... 'n kameraad op die pad. Die ou in die Merc begin op sy selfoon praat en verminder sy spoed na 'n ongemaklike 120 toe. Skielik trek die tassies fiets by my verby en ek haak maar in. Dit reen lekker en die wêreld is papnat maar Tassies laat waai. Met die wat die pad wissel van dubbel na enkel kom ek agter dat Tassies nie regtig die pad met my wil deel nie want elke keer as die pad vernou dan steek hy die laaste voertuig so verby dat hy die gaatjie vir my toemaak en nou begin ek kriewelrig raak.

Ek draai die LT se oor so bietjie en kruip nader aan Tassies en hy draai ook oop ... so gaan dit vir 'n paar kilos ... ek step op en hy maak oop. Nou sleep ons oor daai nat Vrystaat teen so ton of wat en Tassies maak gat skoon. So wragtig sny hy my weer af langs 'n trok en ek besluit dat die bekoring van 'n kameraad weeg gladnie op teen die soort gevaarlike gedrag nie en ek besluit om te groet. Tassies het obviously nog nooit in a LT vasgeloop op die langpad nie en na 'n kort entjie van so 180 knak ek my gewrig en seil by hom verby die koue nat toekoms in. Hy het braaf probeer maar ek weet dat 'n goedgelaaide LT vir ure aaneen teen 200 kan hardloop. Dit was die laaste sien van hom en sy agterryer.

By Kroonstad draai ek in vir petrol ... die LT raak angstig met die sous teen topspoed en die tenk is nie waffers groot nie ... maar net so oor die 21 liter. My gaai was ook nou bietjie styf ... dis darem so skraps om die 300 kilometers wat ek laas afgeklim het. Die hemel is swart en die wolke maal en kook en dinge lyk woes in die rigting waar ek heen moet gaan. Gooi sous in en rook twee sigarette ... ek het heimlik gehoop Tassies sou ook indraai maar neewat hy is verby. Roan het vir my slaapplek in Bloemfontein gereel en nou wil ek net van die pad afkom. Net oor die Valsrivier, wat in vol vloed is, is daar net smokies die hele pad vol. Ek kerf die spoed maar versigtig af want die pad is nat en toe sien ek wat gaan aan. Water is besig om oor die pad te stoot en ek glip in vlakwater op die geellyn deur. Jis as jy daai dam teen spoed slaan is jy verseker in die moeilikheid. Ek kyk op en sien dat dit lyk asof daar so dik swart bol wol oppad is af aarde toe tussen my en Bloemfontein en ek trek die LT se oor. Ventersburg deur en af Windburg toe en toe spat die sop.

Hel op aarde vir ongeveer 40 kilos ... trokke, sproei, wasem, water, karre, wasem, water, dik plasse water, wasem, sproei, oop visor, reendruppels so groot soos albasters en net so hard en ek sloeg voort. 100% oortuig dat ek die kluts heeltemal kwyt geraak het. Nog gille en baie water deur Verkeerdevlei plaza en vorentoe. As die pad nie reguit was nie was ek moerland toe want by tye is die sig nul maar ek druk aan want as ek stop ry 'n trok my verseker dood. So 15 kilos anderkant die plaza toe lig die reën op. Nou stoot ek aan, geen gedagtes aan spoedlokvalle nie ... ek wil net uit hierdie hel uitkom so vinnig as moontlik. Die ou goue ros dra sy vrag goed en ek bedank die Duitsers stilletjies vir 'n goed deurdagte ontwerp. Hy kloof die lug en baie min water beland regtig op my. Ek is ook baie bly dat ek my visor goed gepoleer het want op die spoed vlieg die druppels net eenvoudig weg.

Die Lonehill Engen is a welkome sig en ek klim stram van die fiets af. My hele lyf is so styf soos 'n snaar en ek vat 'n lang trek aan die Camel voor ek dit waag om met die pompjoggie te praat.

"Maak vol."

Alhoewel ek in Bloem gaan slaap gooi ek maar vol voor ek afpak want dan kan ek in die oggend net opklim en ry. Motoriste trek in en sommige kyk my met so snaakse kyk aan. Een man stap nader ...

"Jis my maat maar die ding kan hardloop. Ek kon dit nie glo toe jy by my verbyskuif in daai helse reën nie."

"Ek ook nie." dink ek en glimlag net.

So net na 17h00 is ek by die gastehuis en draf vinnig heen en weer om goed in die kamer te kry. Bel almal wat gebel moet word en sê maar min oor die kondisies op die pad. Tot hier het ek a moving average van 132kmh en my gesonde verstand sê vir my dis absoluut waansinnig maar wie luister nou vir gesonde verstand. Al wat ek weet is dat die Kaap nog 1,000km weg is en more gaan 'n harde dag in die saal wees want die Karoo lê voor my. Dit reën saggies maar dinge is aan die broei. Nou hier kom weer 'n ding vir my as ek alleen ry. Daar is nou net mooi niks wat my gaan motiveer om weer op die bike te klim en te gaan kos soek nie so ek slaan maar Mr Delivery. 'n Lekker pizza en toe gaan shower ek. Dit reën nou hard en ek maak 'n koppie koffie.

20100123_MG_1725.jpg

Die Camel se blou rook draal vir 'n paar oomblikke rigtingloos rond onder die afdakkie en kies dan luierig koers reën toe. My gedagtes dwaal terug oor die dag se ryery en ek ril onwillekeurig as ek aan die gemors by Gilooly's dink. Daai plek is nie vir bikes as dit stortreën nie. Die stuk van Kroonvaal na Kroonstad was nie te rof nie maar die stuk tussen Ventersburg en tot anderkant Verkeerdevlei was pure hel. Jare se ondervinding en dusiende kilometers het my gehelp met 'n stewige dosis genade van bo. Alles in alles was dit 'n harde dag en by tye was dinge nie heeltemal onder beheer nie.

Nog 'n sigaret en toe sak ek maar op die bed neer. Ek was lekker moeg en die klank van die reën op die dak en in die geute af dra my weg na droomland. My laaste gedagte was aan die Comfortshell rypak ... merkwaardige stuk klere en maklik die beste koop wat ek ooit gedoen het as dit by ryklere kom. Geen gelol met liners of rainsuits nie, net 'n paar zips en jy is reg vir die water.
 
Top