Twee Gautengers toer af na die Suide

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Doringboom

Race Dog
Joined
Sep 14, 2006
Messages
610
Reaction score
0
Location
Pretoria
Bike
Suzuki DL 1000 V-Strom
Goeiedag almal,

Hierdie is my eerste Ride Report in ongeveer 6 jaar. Ek hoop nie ek stel teleur nie :biggrin: Ek wil nie baie praat nie - hier is baie kiekies om te kyk. Die kiekies is niks dramaties nie - geen stunt riding, grondkoop of sulke dinge nie. Geniet net saam met my 'n klompie mooi plekke in ons land wat ons besoek het - baie waarvan jy ook al by was of waaroor jy nog droom om by uit te kom.

Dag 1: Vrydag, 3 April 2015: Pretoria - Kroonstad - Bloemfontein - Petrusburg - Koffiefontein - Luckhoff - Vanderkloof dam - Orania

Ek en vriend Johan ("Jaycee" hier op die Forum - hy praat nie juis hier nie, hy kyk en lees net) is 07h00 gereed om te vertrek. Johan se beste neem 'n kiekie van ons.



Nadat ons 'n bietjie kilometers op die N1 agter die rug gesit het, maak ons ons eerste fotostop op Koffiefontein. Die ketel is koud, die tuit skink nie 'n druppel nie - op hierdie Goeie Vrydag gaan hier nie veel aan nie. So dan-en-wan kry ons 'n motreëntjie op die pad.



Oppad na Orania ry ons by die Vanderkloof (die ou P K le Roux) dam aan. Dis glo die dam met die hoogste wal in SA. Naas 'n paar ander besoekers gaan hier ook nie veel aan nie.



Ek wonder of ESKOM darem 'n hidro-elektriese kraggie van hier af inkry ???



Op Orania gaan heelwat meer aan. Daar is heelwat kampeerders by die Aan die Oewer Vakansieoord. Ons maak ons tente staan. Deur die nag reën dit kort-kort. Die volgende oggend het ons ook net-net 'n onderbreking in die reën gekry wat ons toegelaat het om ons goeters op te pak. Die tente moes maar so nat-nat ingepak word.



Dag 2: Orania - Hopetown - Strydenburg - Britstown - Victoria-Wes - Drie Susters - Beaufort-Wes

Die pad is sopnat tot 'n hele ent suid van Hopetown. Sagte reënbuie sak kort-kort uit. Later klaar dit redelik op, maar orals kon ons sien dat dit lekker gereën het - die pannetjies en gatdamme langs die pad is vol en die leegtetjies loop sommer lekker. Ons stop by die Kambro Padstal so 20 km van Britstown af.





Ons ry verder. Op Victoria-Wes stop ons 'n wyle om van ons reënklere uit te trek. Die piekaniene wat geld bedel "vir 'n broodjie" is lastig >:D Ons ry weer. Die N12 is verlate hier oor die middel van die Paasnaweek. Die andersins besige Ultra City by Drie Susters is ook doodstil. Ons klok in by die Wagon Wheel Country Lodge net voor mens Beaufort-Wes binnegaan. Die kampgeriewe is heel skaflik. So ook die restaurant en kroeg.





Dag 3: Beaufort-Wes - Klaarstroom - De Rust - Uniondale - Langkloof - Kareedouw

Nadat ons tente droog is, ons opgepak het en ontbyt by die restaurant geëet het, ry ons verder suid. Aanvanklik was dit so-te-sê wolkloos, maar ons sien dat die weer nog ander planne het. So 'n ent van Klaarstroom af, met die Swartberge voor ons, hou ons stil om warmer klere aan te trek. Voorkant toe lyk dit na reën en koue.





Ons gaan die mooie Meiringspoort deur die Swartberge binne en hou op die parkeerterrein by die waterval stil.



Oral langs die pad is die skade wat deur die onlangse oorstromings veroorsaak is sigbaar.



Ons stap die paadjie na die waterval. Die uitsig van hier af oor die pad deur die poort is baie mooi.







Na 'n stadige rit verder deur die baie draaie en swaaie van Meiringspoort ry ons tot op De Rust vir koek en koffie. Hiervandaan vat ons die mooi, stil pad tot op Uniondale. Oppad deur die Uniondale Poort in die rigting van die Langkloof sien ons dat dreigende grys wolke al digter-en-digter saampak. Van Joubertina af is dit sommer sopnat en ons klere begin ook later 'n ongemaklike klammigheid optel. Gelukkig is daar baie min verkeer op die pad. Op Kareedouw gooi ons anker en besluit ook dat tentslaap uit is vir die nag. Ons betrek 'n kamer in die Altelekker Akkommodasie.



Dag 4: Kareedouw - Knysna - George - Klein Brakrivier (Riverside karavaanpark)

Ons ry oor die berg van Kareedouw af in die rigting van die N2 om ons eerste blik op die see te kry. Die weer het oornag mooi opgeklaar en dit is lekker sonskyn. Ons stop by die Oude Bosch Plaasstal aan die oorkant van die N2 en ons sit aan vir koffie en skons vir ontbyt.



'n Ent nadat ons die Stormsrivier oorgesteek het, draai ons af op die Bloukrans pas pad. Vroeër was dit die alternatief vir die N2 tolpad verby Plettenbergbaai, maar dit is nou kamtig gesluit. Wel, "gesluit" in die Nuwe SA is ook maar 'n relatiewe begrip. As jy versigtig ry dan is die oostelike gedeelte van die pas heeltemal rybaar met 'n fiets of motorfiets wat nie 'n breë pad benodig nie en wat kan side-step vir klippe op die pad, gate, boomtakke, ens.



Dit is stil in die woud. Oral hang oumansbaarde aan die hoë bome.



'n Ent verder kruis ons weer 'n rivier waar die tekens van 'n onlangse vloed nog baie duidelik is: Die brug se relings is hoog gepak met opdrifsels en die nabygeleë piekniekterrein is erg verspoel. Intussen kry ons heelwat ander voertuie wat die pas van die meer rybare, westelike kant af binnegekom het.







Die water van die rivier is donker gekleur. Dit lyk soos tee ;D



Ons draai van die N2 af en ry Knysna binne. Ek ry voor en volg die pad na die Knysna Heads. Eers gaan ons teen die steilte uit tot bo waar 'n uitkykpunt oor die Heads is, met die Knysna strandmeer na regs en die oop see na links. Nadat ons ons kyke gekyk het, ry ons weer die steil afdraende af tot by die restaurant hier regs onder op die eerste foto. Magtag, hulle pizzas is lekker!







Ons ry verder met die N2. By 'n uitkykpunt langs die pad duskant George stop ons waar 'n mens hierdie toneel kan aanskou: Wilderness se strand en die branders van die groot blou dam - pragtig!



Ons draai van die N2 af by Klein Brakrivier en ry ietwat die binneland in tot by die Riverside karavaanpark. Wat 'n mooi en salige plek om by uit te span :thumleft:





Dag 5: Riverside karavaanpark - Tergniet - George - Oudtshoorn - Calitzdorp - Ladismith (Koedoeskloof Country Lodge)

Soos dit maar gaan in die oggende, is ons tente sopnat gedou. Ons kom dus nooit voor 10h00 weg nie, want ons wag maar eers vir die son om alles droog te brand. Maar wie is nou in elk geval gepla met tyd - ons is op vakansie en geniet elke oomblik. Ons het ook geen bespreking of afspraak waaragter ons moet aanjaag nie.





Ons ry met die ou pad tussen Mosselbaai en George en draai by Tergniet in. Ons gaan drink eers 'n teetjie by Gert en Hettie - ou kennisse van my en ou Pretorianers wat nie meer na Gauteng terug verlang nie :laughing4:



Later in George is dit dieselfde storie: Ons kuier by die Esterhuizens - oud voetslaanklub vriende van beide my en Johan wat ook nie na Gauteng terug verlang nie. Ons kuier rek lank uit en ek hou later die horlosie dop. Ons moet nog voor donker by Veldtie se Koedoeskloof inklok :eek:



Om 16h20 trek ons in George weg. Ons moet nog oor die Outeniqua pas, en dan deur die KKNK-verkeer van Oudtshoorn en dan weswaarts teen die son tot in Ladismith! Ja, die son was sleg in ons oë. Ek moet bieg dat ek nie Roete 62 vanaf Oudtshoorn tot in Ladismith geniet het soos wat dit geniet behoort te word nie. Net na 18h00 bel ek vir Veldblom vanuit Ladismith om te hoor of daar vir ons tente 'n staanplekkie by hulle is en om seker te maak van hoe om tot by Koedoeskloof te ry. Die antwoord is "Ja, julle is welkom, ry net so en so en so, dan is julle hier".

Forumlede Veldbrand en Veldblom se Koedoeskloof is inderdaad die juweel-bestemming van motorfietsryers (veral die stofpadryers) in die Klein-Karoo :thumleft:







(Vervolg hieronder)
 
Top