Herontmoeting ... een man, een fiets en die langpad.

This site may earn a commission from merchant affiliate links, including eBay, Amazon, and others.

Colyn

Race Dog
Joined
Sep 4, 2007
Messages
1,295
Reaction score
0
Location
Nelspruit
Bike
BMW R1200GS
Net so bietjie agtergrond voor ons die pad vat. Na 18 jaar van fietsloosheid het my vriend Roan my gedurende Februarie 2005 oortuig om weer te begin ry. Ek moet erken dat ek baie teësinnig was en uiteindelik ingestem het om op 'n toetsrit te gaan bloot uit respek vir Roan se gevoelens. My gedagte was dat ek maar die dag sal gaan ry en dan net eenvoudig terugsink in my eie wêreld in sonder baie omskrywings. Ek gaan nie die detail van die toetslopie nou omskryf nie maar al wat ek kan sê is dat dit minder as 30 minute in die saal gevat het om my met oorgawe te laat terugspring in dit wat in my jong dae my lewe totaal oorheers het. Binne dae na die toetsrit was ek die trotse eienaar van a bloedrooi BMW K1200GT en dit het vir my gevoel asof ek twintig jaar van my ouderdom afgestroop het met een handtekening.

Nouja sedert daardie Saterdag oggend het ek en Roan duisende kilometers saam afgelê. Dit was vir my wonderlik om weereens die vryheid van die ooppad te beleef en die opgewondenheid oor wat oor die horison wag het my ure per dag in die saal laat sit. Die grootste faktor in my nuwe lewe was die kameraadskap tussen my en Roan en ek was bevoorreg om a saal maat te hê wat alty reg was om die pad te vat saam met my. Roan se teenwoordigheid het my gemaklik op die pad laat voel en toe ek en my LT omval in Heidelberg in die Kaap by a petrolstop was die ou groot bees blitsig by om die os van 'n LT op te tel. Ek kon gelukkig self opstaan. Roan was by om die swaar bike by Piketberg deur 'n baie nou en vieslike steil paadjie op die rand van die afgrond verby te kry. So kan ek menige insidente opnoem waar sy teenwoordigheid dit vir my gemaklik gemaak het op die pad. So was hy ook die een wat my omgepraat het om 'n GS aan te skaf en in September 2008 is ons na die GS Challenge toe op Leydsdorp. Dit was hier waar die ou grote weereens sy staal gewys het en nadat ek 'n stuk berg weggeploeg het, het hy eers die bike van my af opgetel en toe het hy my opgetel ... ja hy moes my optel uit daai rooi stof uit want ek het my gat afgeval en my knie en heup beseer. Dit was hy wat my letterlik opgetel het en terug in die GS se saal gesit het sodat ek die pad kon vat terug beskawing toe. Dit was hy wat die GS regop gehou het en langs my gedraf het totdat ek die bike ordentlik aan die gang gekry het met my lam been en al. Dit was hy wat my by die hospitaal van die bike afgetel het en in 'n rolstoel gesit het. Dit was ook hy wat drie maande later my weer aangespoor het om maar weer die stofpad aan te pak en saam met my die Mabalel Loop gaan ry het sodat ek net my mind weer op die regte plek kon kry.

En toe gebeur dit ... ons besigheidsbelange brei uit en Roan moes Nelspruit verlaat ... tydelik maar noodsaaklik en hier sit ek toe stoksiel alleen. Ons nuwe belange het ons met sake vennote in Durban gekoppel en dit beteken dat daar vergaderings is wat bygewoon moet word. So kom dit toe dan ook dat ons in die laaste week van Julie 2008 'n tegniese vergadering moes bywoon. Vir 'n hele paar dae voor die vergadering het ek gewik en weeg of ek die pad moes vat met die bike. Aanvanklik sou Roan my met sy bike op Piet Retief ontmoet en dan sou ons daarvandan verder saam gery het. Twee dae voor ons vertrek verneem hy toe dat hy a kollega saam met hom moes neem van Pretoria na Durban en skielik was die bike nie meer 'n opsie vir hom nie. Hy het my gebel en voorgestel dat ek maar liewer met die kar moet ry. Ek was half onseker en het soort van ingestem ... dit was Vrydag, ek moes Maandag ry. Gedurende die naweek het ek net eenvoudig besluit dat ek die bike gaan vat. My vrou was nie baie gelukkig nie en Roan was ook effens knorrig. Wel dis nou hoe dit is, my saalmaat is weg en ek gaan nie nou weer ophou bike ry nie.

Maandag oggend het my vrou my dopgehou terwyl ek die bike gepak het en toe ek my riding gear aantrek was sy duidelik nie baie gelukkig nie.

"Dis vêr en jy is alleen ..."

Ek het niks gesê nie en net aangetrek en met my eie demone gestoei. Oppad stoor toe loop ek verby my X5 en vir a oomblik twyfel ek nog maar toe kyk ek na die LT, kyk uit oor die vallei en besef dat my siel en gees hierdie trip meer nodig het as wat ek die gerief van 'n kar nodig het. Met honderde malende gedagtes sit ek my helmet op en klim in die saal ... die uitdrukking op my vrou se gesig spreek boekdele maar ek glimlag en stoot die groot fiets van sy center stand af.

"Bel my .... !!!" is die laaste woorde wat ek hoor van my vrou en toe moet ek my bearings bymekaar skraap en stewig vasvat want voor my lê die Rhenosterkop Trail ... 1 kilometer grondpaadjie wat defnitief nie LT vriendelik is nie. Met 'n salige gevoel van wellewendheid draai ek die LT in die teerpad in na 6 minute van senutergende glip en gly. Die groot fiets maak so swierige boog in die teerpad in en 'n ligte trekkie aan die die regter handvatsel laat die fiets grasieus regop kom en hy grom diep as ek sy oor trek. Die son skyn helder en daar is a ligte byt in die lug, ideale bike ry weer. Met 'n gevoel van vreugde in my leun ek in die eerste draai in en met genoegdoening voel ek hoe die fiets die kronkel na links opeet terwyl ons steeds versnel. Die volgende kinkel is skerper en nou moet ek so bietjie toemaak want ek het mos belowe ek gaan hierdie LT se onderstel nie weer so verinneweer soos die vorige een nie. 'n Stukkie reguit en dan slap regs en ons gly oor die kruin ... die vallei is nou agter my en ek skuif myself reg in die saal.

En so begin my eerste langpad trip sonder my saalmaat. Daar lê sowat 700km voor my maar die LT pomp my vol vertroue en ek begin die demone stadig maar seker een vir een in 'n boksie in te druk. Bietjie verkeer deur die dorp se buite wyke en toe draai ek links in die Barberton pad in. Teen die tyd dat ek teen die berg af is op die nuwe pad is ek rustig. Nou is dit net konsentreer en wakkerloop ... Durban is nog vêr.

Ek het reeds besluit dat daar nie gejaag gaan word nie en ek hou die LT in my gemakzone ... hy kan natuurlik heelwat meer doen maar dis nie my saak nie. Saam saam kronkel ek en die fiets Nelshoogte uit en toe ek oor die kim gaan kan ek dadelik voel dat dit heelwat kouer op die Hoëveld is as wat dit in die Laeveld is. Die lang kronkelpad af Badplaas toe glip verby en toe die eerste afwyking. Die vulstasie net voor Badplaas is waar ek en Roan altyd gestop het vir a rokie en 'n geselsie. Hier het ons gewoonlik ons koppe in die regte plek gesit vir die trip want dis hier waar ons gewoonlik eers werklik weg was van ons daaglikse roetine. Ek sien die vulstasie aankom en vir 'n oomblik laat ek die bike spoed verminder maar toe wonder ek ...

"Vir wat ... ek is nie lus om alleen daar te staan nie."

Die vulstasie glip verby en dan draai ek links Lochiel se kant toe. Op hierdie stuk pad is daar baie rondloper beeste en ek hou my gedagtes by die pad. Ek draai regs en na 'n paar kilometer op die vlakte begin ek die rant opklim. 'n Man in a Mercedes E something is voor my en hy is vasbeslote om voor te bly. Ek glimlag net in my valhelm en plak die LT aan sy bumper vas ... so 100 meter agter hom en laat hom maar begaan. Ons draai regs na Ermelo se kant toe en die Merc maak gatskoon vir al wat hy werd is. Die kilometers vlieg verby en skielik gaan sy flikker aan ... 'n vinnige blik na die navigator bevestig hy is te vroeg en ek wuif vir hom as hy links afdraai. Nou is ek weer alleen op die pad en ek verstel my spoed. Dan kom die instruksie van die navigator af ... LINKS HIER VOOR ...

Ek draai links af na Amsterdam toe en hier is weer een van my en Roan se rookplekkies. Hierdie keer stop ek ... ek is nou bietjie meer as 'n uur in die saal en wil my bene so bietjie rek.

02_IMG_9235.jpg

Dis ook hier waar ek my kamera uithaal en op sy regte plek sit, om my nek ... ek het die oggend vroeër nie lus gevoel vir die kamera om my nek nie, ek het genoeg demone gehad om mee te veg en was nie nog lus vir die kamera ook nie. Ek steek a sigaret aan en die blou rook krul lui lui die lug in. Winter op die platorand en daar is vanoggend nie a windjie wat trek nie. Ek voel die ysigheid in die lug en die LT vertel my dis net so skraps oor die 6 grade. Nou mis ek my ou maat en ek stap weg van my fiets af. So 100 meter padlangs en dan weer terug. Ek voel nou goed en die LT loop soos 'n droom. Die GS is nou wel 'n lekker fiets maar die ou grote is darem gebou vir die langpad. Die sigaret is klaar en ek zip toe en klim in die saal.
 
Top